Ongekaart
Frenologies was jou neus te kort
en sou jy durf en deursettingsvermoë skort
om op die Beagle saam met FitzRoy uit te vaar
op ’n karteringstog van soveel jaar
wat reg om die aardbol heen moes reis,
maar teen heersende mites en jou vader se sin
is jy hardkoppig tog die skippie in
waar woeste stormwind en dronk matrose
verhoed het dat julle uit kon seil
tot uiteindelik van Plymouth Sound,
soos vir die Pelgrim Vaders die reis begin.
Jy het ervaar hoe aardskuddend op Concepción
alle mensbedinkte bouwerk om jou instort,
deur trillings van die aardekop rommel word,
tog het jy die ondeurvorsde Andesberge aangedurf
om bibberend ons geologiese kennis uit te brei
en by Seepunt kon jy verbande vind
wat Afrika en Suid-Amerika met mekaar verbind.
Vernuwend het jy ’n planktonnet fyn beplan
en agter die skip aan uitgespan
met al jou nette senuwees saamgesleep
verstom oor soveel skoonheid daar
geskep is van die algemeenste lewensvorm
wat stroomop in ’n skool kan stoei
vir skaars een happie van ’n walviskoei.
Jy kon aardse skoonheid dus herken,
maar anders as Diotima was jou lewe
nie gerig op die oorpeins en strewe
na die goddelike skoonheid wat die mens
onsterflik maak nie, dus het jy bly vrees
jou logika oor die oorsprong van spesies
en oorlewing van bes aangepastes was tevergeefs.
Het ’n Victoriaan jou skedel af kon tas,
sou hy bygelowig sien wat nog kortkom was
dat die bultjie neusbeen en skedel net daarbo
te plat was vir insig om in God te glo.
Koorsagtig moedeloos met ’n nuttelose gevoel
al die nagelate kennis is sonder doel
is jy wanaangepas toe sieklik dood.
Gewoon het ons geen antwoord nie
oor hoe vrye wil op een of ander wyse
uit fisiese prosesse na eeue kop uit steek.
Voorspoed aan elke struweling met die gees
van avontuur gevul om onvoorbereid met durf
in geloof plus hoop en liefde vooraan
die eksistensiële krisis te kan deurstaan,
wetend as pelgrim met verhewe visie
oor die ongekaarte dieptes van die gees
kan ons reeds hier en nou meer as gelukkig wees.
© Dietloff van der Berg, 2025
