Kaïro (I)
die son drup
soos ’n uitgeperste lemoen
in die ou rivier
waar die skimme
van faraos vervaag
taxi’s se toeters
is ‘n koor van chaos
soos woorde wat te lank
in die son gelê het
die skraal vingers van lig
krap met vuil naels
teen gebreekte vensters
bakstene fluister in tale
wat net die wind verstaan
op die straathoeke kuier
geure soos ou vriende:
kardemom, saffraan, sjisja-rook
en die hartklop
van ‘n vars gebakte falafel
wat oopmaak
soos ‘n sak vol genade
elke flenter papier
is ‘n offer aan
die stad se ou gode
ook die hopies drome
wat in die strate laat val is
vuilheid is die patina
van vervloë verlange
wat aan padtekens hang
herinneringe wat nie
ontsyfer kan word nie
op die markte verkoop
handelaars mandjies geluk
vir ’n handvol roes
en ‘n spatsel rooswater
engele dra die stad
in hulle oë
en glimlag breed met tande
van melk en rook
ontslape konings agter glas
rus met oë vol stof
en ewigheid
hulle harte is gebalsem
met linne en vergete lug
stories krul soos wierook
in die gedagtes
van verdwaasde besoekers
op deurknoppe talm
die vingerafdrukke van eeue
ek ontmoet ‘n man
met oë soos ou glas
hy bied my platbrood
warm soos sonklippe
en tee soet genoeg om sonsondergange te drink
om ons haal
die stad stadig asem
‘n gedig sonder punte
tussen elke krummel
van sy eie verval
© Christiaan Diedericks 2025