Struisbaai-gesin bou legkaart met 7, 500 stukke vir 21 jaar
Netwerk24, 9Junie 2020,
Oor die sewe-duisend stukke lê verstrooi:
verbleikte kleure, vaal verdof tot blanko vorms, blokke:
mannetjies, pond-tekens en windmeule
(of is dit vrouens in sulke wye rokke?)
met hier en daar ‘n spatsel
geel of groen, ‘n tiksel blou of rooi
maar niks wil nou meer pas nie
want party kantlyne is reeds weg verweer
so ek weet nie so mooi nie,
het alreeds vergeet:
is dit groot genoeg
of moet dit dalk verleng, verbreed?
Dis my lewenslegkaart
maar ek kan nie onthou nie:
wie, wat, en waar dit alles is….
Vir wie vra ek verskoning?
Wie sal my lei,
riglyne gee
om dit hiëraties reg te doen?
want, as ek op my eie heugenis vertrou
met al die brokkies, elke kant,
sal ek die kunstenaar se sublieme prent verbrou
en op ‘n verkeerde vermaledyde plek beland.
© Meyer van Rensburg, 2025