I
Een van die opvallendste stylverskynsels in Johann de Lange se digkuns is die epifanie. Die gedig“Geel dag” uit Wordende naak illustreer hierdie stylgreep waarin die spreker ‘n versoening tussen die alledaagse en die sublieme ervaar en dit verbeeld.
Digters bekend vir hierdie aanwending van ‘n stylverskynsel of –greep, wat as metafisies beskou kan word, sien ons in T.S. Eliot in The Four Quartets (1944) en Van Wyk Louw in sy vele gesprekke met die goddelike of die religieuse dimensie.
In die gedig “Geel dag” is daar ‘n beskrywing van die Umwelt: die gedig word gesitueer in ‘n kusdorp met sonsoet lemoene, immergroen boorde. Die bestaan is hier idillies én ongekompliseerd. Daar is ‘n sorgelose oes en almal leef na aan die natuur waar daar krewe gevang word. Die ou mans drink bier saam met die vis; teen die agtergrond is die vissersbote steeds werksaam op ‘n bedrywige see. Hierdie personifikasie beklemtoon die stryd van die mense ten spyte van die idilliese skets.
Die spreker is egter afgesluit van hierdie bestaan. Hy is buitestaander; dog kortstondig deel hiervan. Dit is asof hier sprake is van ‘n geromantiseerde kusdorp: dalk ‘n Griekse dorpie met sy moeitelose (natuurlike) skoonheid, asof ons hier kyk na ‘n plakkaat: smal hawens, kerkies, kloosters (vol binnehowe en ‘n put). Veral die rooi papawers herinner aan ‘n vreemde landskap – en die dood. Die papawer is immers simbool van die veldslae van die Eerste Wêreldoorlog. Die digter dank God omdat hy ook hier is – hy word egter deur die verbeelding, met ander woorde, deur die gedig deel van hierdie landskap. Die epifaniese oomblik is dus opgesluit in die verbeelde oomblik wanneer daar jouissance ervaar word.
Geel dag
Kusdorpe met sonsoet lemoene en immergroen
boorde, met die vol uier van die somer,
sorgelose oes van die donker aarde.
Soggens as die krewe rooi op die dekplanke lê,
as die ou mans bier drink saam met vis
en suurlemoen, en die vissersbote fluit
op die bedrywige see, dan weet ek:
ek kan maar net by benadering leef,
net die voortekens van die volheid weet,
net ruweg ken die moeitelose skoonheid
van hierdie dag: die smal hawens, kerkies,
die kloosters met binnehowe vol blomme en ‘n put,
die geweldige rooi lewe van papawers
teen ‘n ou kalkmuur. Dank God ek is ook hier.
Die teenoorgestelde proses word beskryf in die gedig “Wisseling”, eweneens in Wordende naak, waar die digter nie die helderheid of geluk betree nie. Hy is vasgevang in ‘n proses waaruit hy nie kan ontglip nie. Daar is egter ‘n begeerte by die spreker om te transformeer of te verander: dit gebeur egter in die natuur, maar nie in sy gemoed nie. Die lente, ‘n deurlopende motief in sy digkuns, dui op ‘n nuwe fase of groeipunt. Die spreker voel hom egter in ‘n “goue winter” vasgevang.
Wisseling
Dié middag
op die bestemde uur
vat alles vlam
en brand met ‘n groen
primordiale vuur,
vind elke blaar verras
‘n binneglans wat uit-
(stralend luid) vertel
hoe elke sel sal
opsinder uit die as.
Dit word lente
maar ek sit nog vas-
(in ‘n goue winter)
gevang.
II
Hierdie twee gedigte gee ‘n pendant weer van twee gemoedstoestande. Die epifanie en die anti-epifaniese moment. Die kruis en munt wat Eyberiaans opklink. Die een gemoedstoestand aktiveer waarskynlik die ander.
Die epifanie het met woordgebeure te doen en teofanie met openbaring in die natuur. Die teenoorgestelde van die epifaniese moment is dus die verhuldheid van God se gesig (aangesig) of die onvermoë om tot insig of vervuldheid te kom.
Hiërofanie is ‘n manifestasie van die heiligheid, soos onder andere in Sheila Cussons se religieuse gedigte. In die Hindoe-godsdiens heet dit Darśana, oftewel visioene van die heiliges.
In die digkuns van De Lange vind die leser ‘n voortdurende spanning tussen stolling en beweging. Hierdie proses word beeldend voorgestel en die titel “wordende naak” dui dan op ‘n proses van transformasie wat tot helderheid of selfinsig moet oorgaan.
Reeds in die openingsgedig “Wordende naak” word hierdie proses uitgebeeld in ‘n gedig wat gebaseer is op twee foto’s van ‘n jong Sheila Cussons. ‘n Foto is by uitstek iets wat ‘n oomblik ópvang of stol.
Trouens, die soldaat in die gedig “Soldaat” (5) word soos volg beskryf in strofe elf:
Kan hy bloei?
Is hy vry? geboei?
Daar is in Wordende naak die vers “Visioen” (6) met die ervaring van die toorn van “sondronk bye” wat eindig met die volgende beeld:
swerm om die slot
die hordes uitgerook,
om die valbrug, die skavot.
In die gedig “Strandhuis” (11) is daar ‘n verwysing na ‘n nukkerige Teiresias, die blinde profeet van Apollo in Thebes wat vir sewe jaar getransformeer is in die liggaam van ‘n vrou. Die digkuns hier staan eweneens in die teken van transformasie of verandering. Daar is verskillende redes vir sy blindheid en die mees aanvaarbare een is waarskynlik omdat hy die gode se geheime verklap het.
Teiresias is in Sofokles en Euripides se dramas aanwesig. Sy gees is gekonsulteer deur Odusseus in Homeros se Odusseia.
Die digkuns verklap ‘n bemoeienis met die onsienbare, ofskoon die digter in privaat gesprekke afwysend was oor die religieuse dimensie.
Bibliografie:
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.
Eliot, T.S. 1944. The Four Quartets. Londen: Faber & Faber.
Die baadjie sonder einde
Vanoggend onthou ek
‘n besoekaan ‘n waterval
net buite Pretoria met jou en Bertus.
Julle wat mekaar uitdaag om
te spring na benede in die helder poel;
ek wat toekyk oor hierdie fatale parabool.
Vanoggend onthou ek
ons gesprekke oor die buigsaamheid
van verdriet, die indeks van inkorting.
Met ‘n laaste besoek aan jou
neem ek pynpille en ‘n plant,
kyk toe hoe jy ‘n hond stilmaak.
Vanoggend onthou ek
jou boodskappe versend aan my
op ‘n soloreis deur Chili.
Die huise van Pablo Neruda
vir jou afgeneem, vertel van die skulpe
in sy huise; een gebou uit wrakstukke van ‘n skip.
Vanoggend onthou ek
‘n laatnag boodskap wat sketter
deur die hemelruim uit Vierlanden.
Voor jou vertrek na ‘n herberg-
in-die-sneeu fladder dit by Jesaja oop:
Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak;
koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan
en ek bid by my HereGod dat jy, wordende naak,
veilig mag voortreis en nooit weer koud sal kry.
© Joan Hambidge
Traduction française, Wordende Naak, Male muse ( Poésie d’Afrique au Sud du Sahara, UNESCO, 1990, p 147) last stanza:
Va-t-il se retourner
Et prendre en moi racines
– doucement doux le sol –
ou devenir Eros ici
condamné à la poussière
d’une statue de cour d’immeuble ?
Geel dag: “met die vol uier van die somer” is vir my so ‘n briljante en oorspronklike beeld.
Die laaste twee strofes van jou gedig “Die baadjie sonder einde” is baie treffend.
Geel dag: “met die vol uier van die somer” is vir my so ‘n briljante en oorspronklike beeld.