
Kontorsie
Na Florian Wozniak se beeldhouwerk Dreamer
‘n Kind lê so:
op sy rug met sy bene in die lug,
kyk onderstebo TV,
maak van ongemaklike kontorsies
ontspanning – hy weet
hoe om swaartekrag te fnuik,
hy weet hoe om die wêreld
onderstebo te bekyk en rus
daarin te vind, hy glo hy moet sy voete
téén die hemel druk
Later op agttien
omhels ‘n kind haar knieë,
haar voete nou plat
op die aarde terwyl sy sit en tuur
oor die waters
Dan word die kinders oud.
En wieg in die fetale posisie
teen die kromming van hul rûe
terwyl hulle wag vir iets
wat hulle sal laat opstyg.
Uit hulle liggame uit.
© Marieta McGrath, 2025
