Resensie: Merang, Neil Cochrane & Alwyn Roux Reds. Naledi. 2025
Resensent: Marlies Taljard
In Mei 2025 verskyn die versamelbundel Merang by Naledi as deel van die Afrikaans 100-vieringe. Die titel beteken “fees” in Kaapse Moesliemafrikaans. Merang is ’n lywige bundel wat ongeveer 160 gedigte van meer as 80 voorheen gepubliseerde én ongepubliseerde digters bevat in verskeie variëteite van Afrikaans. Geen tematiese, stilistiese of verstegniese vereistes is aan digters gestel nie, maar alle bydraes is volgens die Redakteurs deeglik gekeur. Uit die aard van die saak sien ons dan ook ’n uiteenlopende verskeidenheid van digvorme, digterlike tegnieke en tematiese materiaal in die bundel, wat dit ten spyte van sy lengte interessante leesstof maak. Merang is pragtig en smaakvol deur Naledi uitgegee met ’n kleurvolle voorblad wat dadelik die oog tref en die tema van feesvier weerspieël. Met verskeie bundels van hoogstaande gehalte is Naledi besig om ’n al hoe groter marksegment van Afrikaanse poësie te verower. Dit bewys dat Afrikaans na 100 jaar as amptelike taal steeds vooruitgaan en beslis nie aan’t sterwe is nie. Kunsskepping in ’n taal is immers een van die hoogste geestesaktiwiteite wat binne ’n kulturele sisteem plaasvind.
Die bundel word opgedra aan Johann de Lange, Mellet Moll en Joha van Dyk – digters wat gedigte ingeskryf het, maar gesterf het voordat hulle dié gedigte in druk kon sien. Ook Breyten Breytenbach en Hans du Plessis is die afgelope jaar oorlede. Afrikaans en veral die Afrikaanse poësie is oneindig armer weens die heengaan van hierdie digters.
Struktureel is die bundel verdeel in elf afdelings met gedigte wat tematies aan mekaar verwant is. Temas sluit in skryf en taal, liefde, plekke en natuur, spirituele besinning, moederskap, dood en ander. Afwisseling in styl, register en tema dra by tot ’n genotvolle leeservaring.
Dit is seker vanselfsprekend dat gedigte van ervare en gesoute digters die grootste indruk maak by die lees van die bundel. Ek was veral beïndruk met gedigte van Ilse van Staden, Joan Hambidge, Meyer van Rensburg, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Johann Lodewyk Marais, Hennie Meyer en Selwyn Milborrow. Gedigte van gestorwe digters lees mens natuurlik vandag anders as sou hulle nog lewe – die drie “ars melancholiae”-gedigte van Mellet Moll (pp. 208-212) en die opdraggedig van Johann de Lange aan sy gestorwe vriend Hennie Aucamp (slotgedig, p. 313).
Die eerste afdeling wat op taal fokus, skop af met twee gedigte in variante van Afrikaans (“Hou sout” van Veronique Jephtas, p. 23 en “”Vir Aria” van Lynthia Julius, p. 24). Joan Hambidge dra ’n gedig op aan die taalkundige Piet Swanepoel (p. 31-32):
Van die taalkunde het jy ons veel geleer:
hoe metonimia sintakties uitspeel”
Van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans is vier gedigte deur Johann Lodewyk Marais, “Ek herhaal jou”, “Herhaal”, “Naggesprek” en “Vertrek” (p. 60-63):
My woorde het jou reeds binnegedring,
hul sterte soos paddavissies verloor,
bly groei en ons nuwe bestaan begin.
Nou trek ek jou lig aan die hand nader
om in dieselfde donker mekaar te vind.
Die nag is koud buite en die wind waai
oor die glooiing van die berge, dale
en ons hier op die rand van die aarde:
oop en bloot wanneer ons mekaar eien,
ek in jou oë kyk en jou vingers vind.
(Uit: “Naggesprek”, p. 62)
Die gedig “vermindering” (p. 70) van Hein Viljoen is ’n gedig waarin die spreker sy weerloosheid blootlê – ’n aangrypende gedig.
In die derde afdeling staan Johann de Lange se uitmuntende kwatryn (p. 90) uit:
Ruimte
Daar’s plek vir die korsmos & kosmos
in vier reëls, vir huilbos & dolos,
vir die dood soos mos wat als bedek
& welig sy wilde spore los.
Meyer van Rensburg se gedig “Bestemming (p. 164) in die sesde afdeling tree in gesprek met verskeie Afrikaanse en internasionale digters en bevestig sodoende die plek van die digter binne die Suid-Afrikanse digterlike sisteem, maar ook die plek van die Afrikaanse digkuns binne die internasionale (Europese/Amerikaanse) letterkunde. In dieselfde afdeling het Kobus Lombard se gedig “Wederkoms” (p. 166) my getref – ’n gedig wat by die res van sy oeuvre aansluit waarin die soeke na spirituele waarheid ’n belangrike tema is:
Straks sal U soos die wit bloeisels
van ’n swarthaak
onverwags in die lente verskyn.
Adri Breed se gedig oor ‘n (aangenome) kind, is van die mooistes in die bundel:
Mandjie op die Nyl
Vóór jy deur klip en wier en sliksand
al wiegend teen my aangedryf het,
binne my beskutte baai, ’n rietstrand
waar ek modder oor my lyf gevryf het,
vóór sy met klei en pik en palmblaar
jou bodem, boeg en wand gesmeer het
dat haar kosbaar vrag in jou kon wegvaar
en jy reën en skakabeë kon weer het,
het sy eers bamboeslat sag geweek,
dit as ’n ster rangskik en toe gebuig
en okerrepe deur die kruis gesteek
en lok- en krulpatrone ingeryg.
Jy is moeisaam in haar skoot geweef – intiem eensame taak –
met biesies wat sy self gepluk het. Ek sou jou nooit so kon maak.
(p. 181)
In Afdelings VIII en IX verskyn gedigte oor hoop, lewe en dood. Hier is Mellet Moll se drie gedigte waarna ek voorheen verwys het, ’n ankerpunt. Dit is tegelyk intense liefdesgedigte én elegiese verse. Ek haal die beginstrofe van “ars melancholiae III” (p. 211) aan waarin Celan se bekende “Todesfuge” eggo (“Schwarze Milch der Frühe wir trinken sie abends / wir trinken sie mittags und morgens wir trinken sie nachts / wir trinken und trinken / wir schaufeln ein Grab in den Lüften da liegt man nicht eng”) en as bewys van die digte struktuur van Moll se gedigte:
wanneer daar geen dood meer is nie
en ons die swart melk van dagbreek drink
tot in die namiddag totdat die nagtelike ure
ballades in die vlugtigheid van gister word
totdat die honde ophou blaf die grafgrawers
uiteindelik gaan slaap en die oorlewendes
met slange in die vergetelheid bly dans
Van Marthé McLoud het onlangs ’n debuutbundel (Ontbloot) verskyn met aangrypende, gestroopte gedigte. In dieselfde toonaard is haar gedig “Nuusberig” (p. 200), die verslag van ’n selfmoord.
In die laaste afdeling, wat ook die meeste gedigte bevat, is die tema kuns en kunsskepping. Dié afdeling bevat verskeie skitterende gedigte, onder andere “die skilder” (Selwyn Milborrow, p. 281), “Sol y sombra” (Johann de Lange, p. 282), Johann Sebastian Bach” (René Marais, p. 285), “Flits” (Ilse van Staden, p. 309) en “Hanstekening” (Johann de Lange, p. 313). Van Staden se ikoniese gedig speel in op D.J. Opperman se “Man met flits” en N.P. van Wyk Louw se “Die beiteltjie”. Ek haal dit volledig aan:
flits
as mens i flits laat regop staan
soos i letter met i dotjie
soos i kersvlam met i pit
wat knus in die brand se middel sit
en boontoe skyn met i klein wit kol
wat dwarsdeur die nag na die sterre lig
as jy i klein-klein flitsie kry
en die brandpunt na die donker rig
om die heelal se eerste knal
in die klein ligpunt van i letter te stol
dan weet jy, jy het i skerp klein flits
wat beter as i beiteltjie is
Oor die versamelbundel as sodanig kan bevestig word dat, hoewel geen tema as vereiste aan voornemende digters gestel is nie, daar verskeie oorkoepelende temas uit die verf gekom het en die eindproduk ʼn koherente indruk maak. ʼn Punt van kritiek wat ek hier wil opper, is dat die redakteurs ʼn lengtebeperking aan digters moes gestel het. Versuim om dit te doen, het beteken dat ʼn gedig wat tot 10 bladsye beslaan, geplaas is, asook enkele ander besonder lang gedigte, wat streng gesproke onregverdig is teenoor ander digters én terwyl mens by so ʼn publikasie eintlik spaarsaam met bladsye omgaan … Hierdie is geen geringe saak nie, aangesien die aantal bladsye wat in ʼn bloemlesing aan ʼn digter toegeken word, ʼn invloed het op dié digter se simboliese kapitaal en sy/haar statuur binne die kanon. Diegene van ons wat al lank in die land is, sal onthou dat van die hewigste bekgevegte in die Afrikaanse letterkunde gehandel het oor opname in die Groot Verseboek al dan nie en die aantal gedigte/bladsye wat aan sekere digters toegestaan is. Digters se statuur word binne die Afrikaanse letterkunde dikwels gekoppel aan die hoeveelheid gedigte en bladsye in die Groot Verseboek. Dit geld natuurlik tot ʼn geringer mate ook ander bloemlesings.
My indruk was dat die gehalte van gedigte oor die algemeen goed is en ʼn positiewe beeld van die Afrikaanse digkuns uitstraal. Daarom is dit ook goed dat so baie digters wel opgeneem is, hoewel sommiges dit myns insiens nie moes gemaak het nie. Soos altyd, is die afgesaagde ou gesegde ook hier van toepassing: “Minder is meer.”
Die geheelindruk wat die bundel Merang maak, is dié van harde werk, streng keuring, ʼn oop gemoed aan die kant van die redakteurs en die eindproduk ʼn besonder mooi en leesbare boek wat op elke Afrikaanssprekende leser se boekrak hoort.