
Resensie: Dwaaldae deur Andrea Sieberhagen, Turksvy Publikasies, 2025
Resensent: Marlies Taljard
Andrea Sieberhagen is ʼn bekende naam op Versindaba en van haar gedigte het ook al in versamelbundels verskyn. In 2022 word sy aangewys as die wenner van die Afrikaanse volwasse afdeling van die Poetry in McGregor-poësiekompetisie. Haar debuutbundel, Dwaaldae het pas by Turksvy Publikasies verskyn. Dit is ʼn lywige bundel met 11 afdelings en 85 gedigte. Soos die titel aandui, “dwaal [die digter] maar net skynbaar doelloos deur die lewe” en is “elke gedig … ʼn koördinasiepunt op die landkaart van haar lewe” (Agterbladteks). Tog is daar wel ʼn logiese ordening in die bundel te bespeur en bevat elke afdeling gedigte oor ʼn bepaalde tema.
Dwaaldae het in baie opsigte die geaardheid van ʼn dagboek of die ambag van poësieskryf as tydverdryf, want die digter teken blykbaar gereeld en selfs daagliks dinge op wat vir haar belangrik of opmerklik was – dikwels is dit klein dinge, enkele indrukke of ʼn sekere besef wat tot haar deurdring. Die bundel is die verslag van ʼn lewe wat besinnend geleef word. As voorbeeld haal ek die volgende gedig aan:
Toe kraai die haan
Ek wil vandag verstaan
hoe word verdriet beraam
Moet ek al weer alleen
van lig en lag en leef vervreem
sonder hoop
nuwe drome koop
met sewe silwer sente?
Voor ek kon verstaan
voor die kans
vir verdriet beraam
toe kraai die haan.
(p.99)
Die Inhoudsopgawe verraai reeds dat tyd en tydsverloop belangrike temas in Sieberhagen se werk is. Veral die vierde afdeling, “Verlore tyd” bevat aangrypende gedigte oor die digter se bejaarde moeder. Ek dink aan “Stil teater” (p. 49), “Terminale tyd” (p. 50) en “Verward” (p. 51), maar daar is ook ander gedigte in hierdie afdeling waarmee almal wat al ʼn ouer moes versorg kan identifiseer.
ʼn Belangrike kenmerk van Andrea Sieberhagen se digkuns is haar beskoulike gedigte wat dikwels om ʼn Christelike kern gebou is. Die Bybel is ʼn belangrike verwysingspunt in haar poësie en Bybelverse dien dikwels as motto’s by haar gedigte, soos in “Dowwe spieël” (p. 76) waar na 1 Korintiërs 13 verwys word en “Kleipotte kan maklik breek” (p. 93) met 2 Korintiërs 4 as motto.
Sieberhagen se tyd as Engelsonderwyseres onderlê waarskynlik die afdeling “Verwonde wêreld” waar deernis en begrip van die skoolkind die cantus firmus is. In “Klaskamer: die ander kant” (p. 61) word die “toksiese atmosfeer” wat moderne onderwysers in die gesig staar, uitgebeeld: “Wanneer is genoeg genoeg?”
Oor die algemeen lees die bundel Dwaaldae lekker, aangesien die gedigte deeglik afgewerk is en metafore en lewenswaarhede bevat waarmee die meeste poësielesers kan identifiseer. Min kennis van ernstige poësie word van die leser verwag. Vir hierdie leser was daar verskeie hinderlikhede, soos woordoordaad en veral klankoordaad waar dieselfde klanke (rym, homonieme en homofone, assonansie en alliterasie) oordadig gebruik word, die gebruik van clichés, skryf verby die einde met die afwesigheid van suggestie en implikasie, die stel van die voor die hand liggende en veral die gebruik van dieselfde poëtiese vorme en konvensies in plaas van meer afwisseling ten einde haar “instrumentale bekwaamheid” ten toon te stel. Indien ongeveer die helfte van die gedigte gesny sou wees, sou hierdie ongemakke tot ʼn groot mate vermy kon gewees het. Die groot aantal gedigte in dieselfde poëtiese trant werk uiteindelik verveling in die hand.
Ten spyte van die tegniese ongemakke wat ek hierbo uitgewys het en wat hoofsaaklik ernstige poësielesers geld, is Dwaaldae ʼn bundel gedigte wat op besondere wyse met die alledaagse beslommernisse, vrae en pyn van gewone mense omgaan en wat ek kan aanbeveel vir lesers wat poësie vir genot lees.
