Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
23 June 202523 June 2025

Resensie: “Dwaaldae” (Andrea Sieberhagen)

 

 

Resensie: Dwaaldae deur Andrea Sieberhagen, Turksvy Publikasies, 2025

Resensent: Marlies Taljard

 

Andrea Sieberhagen is ʼn bekende naam op Versindaba en van haar gedigte het ook al in versamelbundels verskyn. In 2022 word sy aangewys as die wenner van die Afrikaanse volwasse afdeling van die Poetry in McGregor-poësiekompetisie. Haar debuutbundel, Dwaaldae het pas by Turksvy Publikasies verskyn. Dit is ʼn lywige bundel met 11 afdelings en 85 gedigte. Soos die titel aandui, “dwaal [die digter] maar net skynbaar doelloos deur die lewe” en is “elke gedig … ʼn koördinasiepunt op die landkaart van haar lewe” (Agterbladteks). Tog is daar wel ʼn logiese ordening in die bundel te bespeur en bevat elke afdeling gedigte oor ʼn bepaalde tema.

Dwaaldae het in baie opsigte die geaardheid van ʼn dagboek of die ambag van poësieskryf as tydverdryf, want die digter teken blykbaar gereeld en selfs daagliks dinge op wat vir haar belangrik of opmerklik was – dikwels is dit klein dinge, enkele indrukke of ʼn sekere besef wat tot haar deurdring. Die bundel is die verslag van ʼn lewe wat besinnend geleef word. As voorbeeld haal ek die volgende gedig aan:

 

Toe kraai die haan

 

Ek wil vandag verstaan

hoe word verdriet beraam

 

Moet ek al weer alleen

van lig en lag en leef vervreem

sonder hoop

nuwe drome koop

met sewe silwer sente?

 

Voor ek kon verstaan

voor die kans

vir verdriet beraam

toe kraai die haan.

(p.99)

 

Die Inhoudsopgawe verraai reeds dat tyd en tydsverloop belangrike temas in Sieberhagen se werk is. Veral die vierde afdeling, “Verlore tyd” bevat aangrypende gedigte oor die digter se bejaarde moeder. Ek dink aan “Stil teater” (p. 49), “Terminale tyd” (p. 50) en “Verward” (p. 51), maar daar is ook ander gedigte in hierdie afdeling waarmee almal wat al ʼn ouer moes versorg kan identifiseer.

ʼn Belangrike kenmerk van Andrea Sieberhagen se digkuns is haar beskoulike gedigte wat dikwels om ʼn Christelike kern gebou is. Die Bybel is ʼn belangrike verwysingspunt in haar poësie en Bybelverse dien dikwels as motto’s by haar gedigte, soos in “Dowwe spieël” (p. 76) waar na 1 Korintiërs 13 verwys word en “Kleipotte kan maklik breek” (p. 93) met 2 Korintiërs 4 as motto.

Sieberhagen se tyd as Engelsonderwyseres onderlê waarskynlik die afdeling “Verwonde wêreld” waar deernis en begrip van die skoolkind die cantus firmus is. In “Klaskamer: die ander kant” (p. 61) word die “toksiese atmosfeer” wat moderne onderwysers in die gesig staar, uitgebeeld: “Wanneer is genoeg genoeg?”

Oor die algemeen lees die bundel Dwaaldae lekker, aangesien die gedigte deeglik afgewerk is en metafore en lewenswaarhede bevat waarmee die meeste poësielesers kan identifiseer. Min kennis van ernstige poësie word van die leser verwag. Vir hierdie leser was daar verskeie hinderlikhede, soos woordoordaad en veral klankoordaad waar dieselfde klanke (rym, homonieme en homofone, assonansie en alliterasie) oordadig gebruik word, die gebruik van clichés, skryf verby die einde met die afwesigheid van suggestie en implikasie, die stel van die voor die hand liggende en veral die gebruik van dieselfde poëtiese vorme en konvensies in plaas van meer afwisseling ten einde haar “instrumentale bekwaamheid” ten toon te stel. Indien ongeveer die helfte van die gedigte gesny sou wees, sou hierdie ongemakke tot ʼn groot mate vermy kon gewees het. Die groot aantal gedigte in dieselfde poëtiese trant werk uiteindelik verveling in die hand.

Ten spyte van die tegniese ongemakke wat ek hierbo uitgewys het en wat hoofsaaklik ernstige poësielesers geld, is Dwaaldae ʼn bundel gedigte wat op besondere wyse met die alledaagse beslommernisse, vrae en pyn van gewone mense omgaan en wat ek kan aanbeveel vir lesers wat poësie vir genot lees.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)
Resensie: “Merang” (Neil Cochrane & Alwyn Roux Reds.) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Uitnodiging: DJ Opperman-gedenklesing
  • Anzé Bezuidenhout. Jy is klip
  • Betani Wiese. Invers
  • Digtersprofiel: Driekie Grobler
  • Marthé McLoud. Loutering

Nuutste kommentaar

  1. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Jy is klip9 October 2026

    Baie dankie Versindaba, ek waardeer die blootstelling en plasing

  2. Clarence Botha on Joan Hambidge en Dietloff van der Berg in gesprek oor “Apofatiese lens”9 October 2026

    Baie insiggewende en leersame gesprek wat ek waardeer het.

  3. Amanda Ahave De Meillon on Anzé Bezuidenhout. Grense van die wentelbaan8 October 2026

    Ek voel jou woorde in my hart. Soos net jy kan!

  4. Anzé Bezuidenhout on Pierce van Tonder. granaat-gebed in die Karoo8 October 2026

    Hierdie gedig beskryf n rou erkentenis van menslike swakheid en totale afhanklikheid. Puik gedoen Pierce!

  5. DIETLOFF VAN DER BERG on Nini Bennett-Moll in gesprek met Joan Hambidge7 October 2026

    Baie dankie vir wat jy vir ons letterkunde doen en beteken Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d