Agterstevoorom
Die nagte veral is onherbergsaam
en almal is eenspaaierig totaal
in hulself opgesluit in nog ‘n wintertyd.
In ‘n droom roep jy na my durend:
ek sit in my motor agterin, vind geen rem,
ry in reën en haelbuie; kom tog tot stilstand.
Jou dood neem my terug na ‘n pretpark indertyd
waar ons die hoogtes uitklim, dan vinnig aftol
op die Figure 8, selfs stampkarretjies ry laggend.
Roller coaster, big dipper, wipwaentjie, tuimeltrein …
beskrywings van hierdie grouproses sonder jou:
my instapkaart na ons vermaaklikheidspark: onbruikbaar.
© Joan Hambidge, 2025
