Wederwoord
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, is die lewe grou.
‘n Matisse-afdruk in ‘n gastehuis ontvou
vele laatnag-gesprekke oor die ander oord.
Jy het weggegaan en bewoon ‘n herberg nou
tussen die vele sterre allengs deur jou verwoord.
In elke woord van jou, my wederwoord:
sonder jou, geliefde vriend, bly die lewe grou.
In hierdie elegie klein besing ons steeds, veral ek
jou as die meester uitsonderlik van die kriptiek.
© Joan Hambidge
