
Resensie: tussentogte deur Johan Cilliers. Turksvy, 2025. ISBN: 978-1-0370-8295-5
Resensent: Joan Hambidge
I
In tussentogte het ons ‘n afgetrede teoloog, Johan Cilliers, aan die woord. ‘n Digter wat telkens vir ons ‘n voetnoot na die Bybel of ‘n teoloog gee.
Soos Daniel Hugo tereg opmerk:
In tussentogte kyk Johan Cilliers deur die bifokale bril van godsdiens én wetenskap na die mens en sy teenwoordigheid op aarde. Hy verset hom teen die formules en abstraksies van die “toga-teologie”. Op sy deurtog deur die lewe ervaar die gelowige die misterie van die Ewige juis op ’n sintuiglike wyse. Hierdie digter bring ons met sy fyngeslypte woord digter by die wonder van die hier en die Hierna.
Totius is te vinde in “woning” (31).
Die wêreld is ons woning nie
Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesiesvlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit dié vlei.
‘n Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan aan alle ding
wat in die skemer my omring,
die wêreld is ons woning nie.
Die wêreld is ons woning nie.
Dit sien ek as die bloedrooi maan,
van agter veldstof opgegaan,
nog net die kerk se dak bestryk
vanwaar ‘n uil, mistérie-stom
sit na die maan se skyf en kyk.
En nou dit stil word op die straat,
dink ek hoedat die middag laat
‘n lykstoet uitgekom het daar
waar nou die maan en uil ontmoet.
En ‘k merk dit dan aan alle ding
wat in die aandstond my omring,
die wêreld is ons woning nie.
Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak,
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom dan vind
ek by die maan se wisselstraal
‘n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring,
die wêreld is ons woning nie.
II
Daar is ‘n ryk skat van religieuse verse in Afrikaans van Totius tot W.E.G. Louw en natuurlik Sheila Cussons, T. T. Cloete, Dietloff van der Berg, en andere.
In hierdie bundel vind ons digterlike besinnings van ‘n teoloog wat eerlik skryf oor die lot van menswees. Daar is landskapverse oor die Karoo, die digter se komvandaan.
onseker
is die lewe
so onseker
soos ‘n dobbelsteen
se val?
die ontknoping
so versteke
soos toeval in ‘n kaartespel?
wie verseker
seën of nood?
skommel ons maar voort
sonder wis of wete
sonder anker
soos verdwaalde skepe?
of loop Gods water
maar gewoon
oor Gods akker?
Hierdie gedig op bladsy 95 speel in op die gedig “seker” en Einstein se uitspraak oor God wat nie dobbelstene speel met die heelal nie (96).
Die gedigte beweeg tussen gedigte en van bo na onder in ‘n voetnoot sodat die leser gedwing word om telkens nuwe betekenisse in ‘n gedig raak te lees.
Van die Bybel tot Calvyn se theatrum gloriae dei, oftewel die grorieryke teater van God, rig die “speldepunte lig” in hierdie verse. Luther en Karl Barth is hier. “Geloof is getroosde twyfel”, aldus Martin Luther (58).
In die Afrikaanse digkuns is daar die afgelope paar jaar baie bundels oor die sterre gepubliseer. Die meeste sterre is lankal dood, meen wyle Johann de Lange in 2020, wat eweneens alles wetenskaplik en digterlik benader:
Digter al digterby
Om met woorde
die onsegbare te sê,
die hoogste berg te bestyg
waar die lug dun raak,
of af in die onbewuste dieptes
waar diamante vorm –
Om die teks
van miljoene jare
in die yslae
van Antarktika te lees,
of die ringe van boomstamme
op land.
Om omsigtig
die smeltkroes
van die vulkaan te nader
waar die vel begin
wegskroei soos papier.
(21)
Die ikonisiteit van gedigte is altyd tersaaklik. Cilliers se gedigte is in die middel van die bladsy. Die digter Dylan Thomas het met hierdie vorm geëksperimenteer in die bekende gedig “Vision and Prayer”:
i
W h o
A r e y o u
Who is born
In the next room
So loud to my own
That I can hear the womb
Opening and the dark run
Over the ghost and the dropped son
Behind the wall thin as a wren’s bone ?
In the birth bloody room unknown
To the burn and turn of time
And the heart print of man
Bo w s n o b a p t i s m
Bu t d a r k a l o n e
Blessing on
The wild
Child.
https://allpoetry.com/Vision-And-Prayer Besoek 24 Augustus 2025
Die gedigte beklemtoon verskillende emosies oor dieselfde saak. Die begin versus die einde; troosteloos versus getroos; toga teenoor stilte; uitweg versus niks; loutering teenoor teleurstelling …
Hierdie opposisies is belangrik vir die ontsluiting van die bundel. In ‘n pragvers “musiek” (55) word die musiek van die Karoo weergegee:
die windpomp en wind / gee die ritme aan.
Ons hoor dat die vlaktes viool speel met die koppies wat hande klap.
Hierdie gedig praat terug met “reën” (54) waar hy luister na die simfonie op sink.
Onderaan “musiek” staan daar ‘n verwysing na Psalm 98: 8:
die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig …
In “astronomies” (109) dink hy na oor die geboorte van ‘n ster en hy wonder of sal oorleef ekonomies. Heerlike humor dus.
III
Jukstaponering van hemel en aarde, soos Bernard Odendaal tereg uitwys in sy deeglike artikel oor T.T. Cloete se digkuns wat oorspronklik in Literator verskyn het in Augustus 1993.
Fanie Olivier het ‘n uitgebreide tesis geskryf oor religieuse poësie en Dietloff van der Berg skryf eweneens oor hierdie kwessie vanuit ‘n ander invalshoek in Feesmaalgang.
https://versindaba.co.za/2025/05/14/resensie-feesmaalgang-dietloff-van-der-berg/ Besoek 24 Augustus 2025
By Cilliers het ons tussentogte, ‘n proses van tussen-in-wees of liminaliteite.
Twyfels, onsekerhede, die mens wat uitgelewer word aan magte groter as hyself, word telkens beskou.
Dit is oënskynlik klein verse, maar met elke lees vind ‘n mens verskillende intertekste en toespelings wat dit sterker maak.
Die digter hoef nie skugter te wees nie. Hy het ‘n handvol pragverse vir ons gegee.
Die skildery op die voorblad heet Tweetog deur Johan Cilliers. Daar word erkenning gegee aan professor Nico Koopman vir die finansiële ondersteuning van die bundel.
Koopman is as vise-rektor aan die US bemoeid met Transformasie en Sosiale Impak waar emeritus-professor Cilliers gewerk het as ‘n A-gegradeerde akademikus.
Bronne:
De Lange, Johann. 2020. Die meeste sterre is lankal dood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Malan, Pieter & Jones. Chris.2018. Die braambos bly brand: Nieteoloë se perspektiewe op Bybelverse. Gansbaai: Naledi.
Odendaal. B.J. 1993. Via alruin en seks tot God: die eiesoortige mistiek in die poësie van T.T. Cloete. file:///C:/Users/User/Downloads/697-2086-1-SM-1.pdf Besoek 24 Augustus 2025.
Olivier, S. P. 1985. Mistiek in die Afrikaanse poësie. Potchefstroom : D. Litt. PU vir CHO.
https://www.academia.edu/75879957/Mistiek_in_die_Afrikaanse_po%C3%ABsie Besoek 24 Augustus 2025.
Totius (J.D. du Toit). 1977. Versamelde werke. Dele 10 en 11. Kaapstad: Tafelberg.
Van der Berg, Dietloff. 2025. Feesmaalgang. Gansbaai: Naledi.
