Resensie: Feesmaalgang deur Dietloff van der Berg. 2025. Gansbaai: Naledi
Resensent: Joan Hambidge
I
Daar is digters wat werk lewer wat buite die gebaande weë van onse digkuns loop. Maar hulle is beduidend, selfs belangrik, weens ‘n ander lig wat oor alles skyn. So ‘n digter is Dietloff van der Berg wat met sy Rumi-vertalings én herdigtigings besondere werk gelewer het.
https://www.litnet.co.za/transformasies-is-rumi-n-mistikus-of-social-media-crack-cocaine/ Besoek 12 Mei 2025
Rumi word gesien as die Shakespeare van die Midde-Ooste. En Dietloff van der Berg het dit ademloos vertaal en vir ons gegee. As ‘n mens Derwiese dansers meegemaak het, dan weet jy presies wat bedoel word.
Die digter het goedskiks vyftig jaar gelede op die toneel verskyn en in Standpunte en Tydskrif vir letterkunde gepubliseer. Veral Standpunte was besonder streng oor wie opgeneem word.
Feesmaalgang is sy debuut met ‘n voorblad wat die digter se werk ‘n onguns bewys. Kitsch en teatraal volgens hierdie leser.
Maar gelukkig gee die gedigte ‘n meer komplekse blik op sy lewe.
Hier vind ons al die temas van menswees: liefde, verlatings, erotiek, raaisels, reisverse en vertalings (herdigtigings). En die politiek van toe en nou.
Die besinnings oor taal en lees word beskryf in ‘n vers vir Jacques Derrida:
Derrida
9 Okt. 2004 vir Liz
Hierdie dag by die nuus oor Jacques
sien ek jou gesig tragies in sigself
aftraan tot die self-insig dat die meester
dood is
vir jou wat telkens om Ingrid Jonker
se bedoeling dekonstruktief te agterhaal
jouself genadeloos oopvlek om uit die digte skeur
tussen woorde self vir elke sel
nuwe lewe te verwek,
sal ek genadiglik bly hamer
tot my woorde stigmaties bly klou
aan die holtes van jou ongelooflik
verwonderende hande en voete:
al word ons selle elke dag afgebreek
is daar meer aan die lewe
as verlies tot die dood.
Kon ek jou net met my woorde raak
maar jy raak daardeur ontstig
met net die kromming van jou gladde rug
op my gerig en spartel ek
teen die holte van jou stiltes
tot my woorde stuk-stuk
in rekonstruksie van die vers verskyn
sonder om werklik vir jou te beteken
daar is nog liefde oor
want al is my woorde versigtig geformuleer
laat jou hartseer jou weier om te hoor
en dekonstrueer jy dit
tot die derridiaanse postmoderne insig:
daar was toe al die tyd niks om te sê nie
wat die teks nie weerlê nie.
(52)
“is daar meer aan die lewe / as verlies tot die dood” is ‘n relevante kode vir die verstaan van hierdie bundel. Die gedigte werk teen die stiltes (afstand) en selfs enige verlies kry durende betekenis in ‘n gedig. Différance word hier ‘n uitgestelde betekenis, maar met die teks as laaste sê. En Ingrid Jonker bly voortleef in haar gedigte. Met voortdurende nuwe insigte en perspektiewe.
Die absence versus presence in Derrida se terme dus.
II
Onder die hofies Fees Maal Gang word die gedigte vir die leser aangebied. Met ‘n implisiete verwysing na J. Hillis Miller se lesing “Reading as Eating”. In hierdie verband is J. Hillis Miller and the Possibilities of Reading – Literature After Deconstruction van Eamonn Dunne tersaaklik (Bloomsbury, 2012).
‘n Mens lees soos wat jy ‘n spyskaart benader. Voorgereg, hoofgereg en nagereg.
Of dalk besluit jy (soos hierdie leser) om dit van agter na voor te lees en dan ander betekenisse te vind.
Net soos die mistikus die on-uitspreekbare probeer verwoord, doen Van den Berg dit by uitnemendheid soos in “Wassende maan” op bladsy 77:
Wassende maan
Rumi
Gaan ligvoet-stygende siel,
gaan op ’n vreemde reis
na die see van betekenis,
want jy is ’n kosbare pêrel.
As jy onthou, het jy deur water en klei gewas;
wees nie vies nie dat jy ook
van hierdie terras verkas.
Was jou vlerke skoon
van hierdie water en klei en gaan ligvoets;
hoekom vlieg jy nie in die stroom
van jou vriende wat gevlieg het nie?
Kom, breek die kruik en gaan in die rivier,
o lewenswater, in;
voor elke kruikbreker hoe lank
sal jy die pottebakker wees?
Stroom van hierdie bergtop
soos ’n stortvloed na die see toe,
want hierdie berg bied aan niemand ’n herberg.
Genoeg, dwaal nie af van die Son nie,
nóg na die Ooste, nóg die Weste,
want deur hom is jy nou ’n wassende,
nou as ’n maan, op sy beste.
Die “lewensfeesmaal” word in die slotafdeling beskou en vir ons oopgemaak. The breaking of the vessels, soos ons leer van Harold Bloom oor die kabbalisme, word hier betrek. Die digter beweeg tussen die bekende Suid-Afrikaanse landskappe na die Midde-Oosterse wêreld.
En dis juis wat net gesuggereer word wat so belangrik word:
Stellenbosch 1970
Son spatsel deur akkerblare en sonbesies sing,
want nat stewels en koue Kaapse weer is verdring;
nou stap ek ontgrens na filosowe se voete
oor die grensoorlog se doodslag en vernietiging.
(70)
Die spreker is ontgrens en bewus van die oorlog toé met die wete dat daar tans soveel oorloë steeds duur.
In die eerste afdeling (“Fees”) word die brood dan ook verbind met lewensbrood in “hierdie ondervoede banketbakkersland” (“Bakker”, 13). Rykdom en armoede in ‘n land waar die armes al hoe meer uitgebuit word weens politici se ongeërgdheid en leë beloftes. Maar vir die digter is daar altyd hoop: weens die genade van God (“Tafel”, 14).
In “Waagarties” (18) is daar ‘n gesprek met Opperman (o.a. “Man met flits”) en die gedigte werk met verhulde intertekste. Die gebroeders Louw sal bly voortleef (“Sterrewag”, 17) danksy hul helder woorde.
St Jan van die Kruis word eweneens aangespreek (“Donker nag”, 22) en die liefde word heerlik besing op bladsy 26:
Skulpe
Skulpe dra die klank van die see
dra in jou twee skulpies steeds
die klank van my liefde mee.
Familieverse hier teenoor besinnings en verwerkings van Rumi.
In die tweede afdeling (“Maal”) is die taalman aan die woord met raaisels en blokkiesraaisels. Hier is gedigte met woordspeletjies en assosiasies. Ons sien dan hoe die digter dig: hoe ‘n ervaring letterlik ver-dig word. Die digkuns as ‘n keerweer.
Die digkuns is noëties, maar die digter bly apofaties. Dus die ewige spel tussen die intellek en die spirituele vind ons hier:
Taaltog
Hoe vêr my liefde lê
het al in die baarmoeder begin
na ’n paddavissie sy doel bereik het
en nege maande later toe
daardie wonderlike vrou
my snoesig in haar arms hou
het ’n proses ontvou om uit troebel water
blink visse te kom haal met ’n taal
wat noëties in my hart bly lê.
Al kan ek as professor al die geledinge begryp,
stotter ek nou nog voort
om die onuitspreeklike te verwoord
en probeer steeds om in die mooiste taal
die gewer van als wat lewe te wil dank,
sy lof waarlik te besing,
maar apofaties bly ek
steeds visser na ontraaiseling.
(53)
En om die onuitspreeklike te verwoord, is hierdie digter se missie. Met die baarmoeder (chora) van taal waar alles begin (aldus Julia Kristeva): Desire in language (1980).
III
In “Stedentocht” (65 – 66) is daar kort poskaart-verse soos die volgende:
1 Oudenaarde
Vir muurbehang is drade veral blou en groen gedoop
maar jou primordiale beeld is in veel meer skakerings
duiselend in my weefgetou vasgeknoop
dat selfs die draaktand van die tyd dit nie kan stroop.
2 Gent
In die Hostel Gentse Draecke damp die vergange
eeue muwwerig op en dra my triestige verlange,
standhoudend soos die mosbegroeide Gravensteen,
uit na jou Rive Gauche-reukwater oor ewige keigange.
3 Brugge
Die Groene Reie word eeue lank nie deur die gety
oopgespoel, maar die welvaart van my hart gedy
as ek tussen ragfyn kant, die beurs en paleis
weet in die eenvoud tuis wag jy nog steeds op my.
Hierdie bundel het met hierdie leser gepraat. Dis ‘n ryk besinnende bundel wat die “gees se ongekaarte weë” navigeer. Hierdie digter het ver gereis, baie beleef en gelees.
Endnote:
Die leser word versoek om hierdie te lees vir ‘n vollediger begrip van die bundel se filosofiese agtergrond:
https://www.litnet.co.za/transformasies-is-rumi-n-mistikus-of-social-media-crack-cocaine/
Besoek 12 Mei 2025
Baie dankie Joan Hambidge vir die fyn lees en die hoog gewaardeerde slotsom.