Bittereinder
Fransjohan is altyd in swart geklee
asof rou oor ons vergiete bloed
van die Anglo-Boereoorlog vanslewe,
maar léwend gehou met sy moed.
Medereisiger
My medereisiger se tasse is gepak,
pas net-net langs my reissak in die bak –
met klere aan hangers en waterbottels
verlang ek na ’n outydse dakrak.
Plus 50 Streek/Region
Om die ronde tafel speek die tienstuks
om die wa deur die drif te kry.
Karel spring soms vinnig op, klap die sweep
en nog ’n Streek word moeisaam ingewy.
© Johann Lodewyk Marais, 2025
