Die Evangelie van Literêre Witskuld
“Jy praat woorde van wysheid, maar jy treur oor wat nie treurenswaardig is nie. Die wyse treur nie oor die lewendes of die dooies nie.”
– Bhagavad Gita 2:11
ek aanskou die witskuld wat hy
in ’n bundel soos Gucci
uitstal in die Waterfront
by Exclusive Books,
sy eksklusiewe witskuld
gebottel en verouder in Stellenbosch
ons, die gehoor, maak beleefde laggies
vir sy grappige gedigte
oor die buurt se WhatsApp-groep
hy oordeel dié
wat sy buurt snags op minimumloon
veilig hou –
sonder om een van hulle op die naam te ken,
hy oordeel die bure se kleinlike – dog geldige – vrese
geen vermelding van verhoudings met enige bure nie
altyd die ander,
dié daarbuite,
teenoor die digter
wat besig is met die belangrike taak
om sy skuld uit te borduur in ’n tapisserie
met die vooruitsig om dit by die voordeure van literêre instellings
eksklusief uit te hang
vir die hoop op ’n medalje van meegevoel
’n goue munt vir die skepsel se o-so-gevoelige ego
ek en die gemeente
– die “dom luister parade”
in die glansende lugversorgde Waterfront –
help die ritueel aan
en ek hou my rebelsheid sterk in toom
knik instemmend met my masker
want ons is almal vir ’n verraderlike uur medepligtiges
ons help hys die banier van die digter se deugdepronk
almal se roesrooi Halloween-maskers van “shame”
– afgestof vir die okkasie –
knik ritmies saam:
’n opvoering om te wys
“ek is ook gesofistiekeerd genoeg om te verstaan”
en alles is lekker net solank ons dinge netjies in die kop hou
die verse mooi nuutgedruk en skoon
’n kreatiewe spreadsheet van skuld
na die bedeesde preek vra die digter sy tiende
die gemeente staan tou om te betaal
ontvang ’n persoonlike seëngebed
met ’n handtekening voorin
as teken van jou belydenis
en ons sluk daarna alles af met wyn
uit bottels
met kurke
uit glase wat helder blink
die pel wat langs my gesit het
– wat altyd in sy jeug skateboard gery het
met sy Dead-Kennedys-T-hemp –
druk nonchalant die witskuld in sy manbag
soek deur die netjiese rye
– om die digter se podium –
vir prentjieboeke vir sy kinders
en koop vir homself ’n duur pen
“ek versamel penne,” vertel hy
hy is ’n man wat nie in isolasie met woordjies vroetel nie
tog is sy oë vol medelye
hy werk lang ure in hospitale
met bloed, kanker, pyn, die dood
ek groet die digter en die mooi deftige mense om hom
en soos ek elkeen in die oë kyk, besef ek hartseer ons gaan almal sterf
en met daai gedagte stap ek weg van die vreemde blink kerk
ek, die heiden by die diens, die tweegesig-jakkals
in die donker ry ek terug huis toe
terwyl ek swaar grinnik as ek wonder hoe ek my huur gaan betaal
my vrou kon nie saam kom nie, sy werk vanaand aanlyn
op die Donderdagaand
geen tyd om haarself
in die skuldrusbank neer te vlei nie
nee wat, ons probeer bloot kop bo water hou
… ek is nie bitter nie
ek kon sekerlik in my bestaan slimmer gewerk het
myself minder as ’n buitestander gevestig het
ek kon beter keuses gemaak het
maar ek is bly oor wie ek is
ek hoef nie issues soos witskuld uit te soek en my “ekwees”
teatraal vasspyker aan
“die kruis van erkenning” nie
mense sal met reg sê: “maar jy trek nou suurgat”, ek weet
maar ek ís lief vir hierdie mense
die Afrikaanse literaatsie se verweefde kringe
lief vir die siele
my woorde word uit liefde gebaar
ek voel bloot
ons kan om ’n ander vuur sit
iewers plat op die aarde
en werklik connect
’n week later sien ek ons literêre priester van witskuld
op Facebook
besig om bier te drink in België
ek bespeur geen skuld
in sy glimlag (net wit tande)
– sy bundel gaan seker groot pryse wen
p.s.
my vriend
ek bid dat jy jouself kan losmaak
van die behepte skuldlas
en vry kan speel in die lig van jou asem
© Sjaka S. Septembir, 2025

Hierdie is ‘n verstommende gedig…
Ek moet dit sê…
Dankie.