Connie
SAL Museum, Germiston
Die trippelstert-Constellation
– om in ’n vliegtuigloods te pas –
met dolfynvormige ruim
het die vliegwedloop verpas.
Randse Lughawe
Kapt. Flippie Vermeulen bewaar
vliegtuie van toentertyd
en ons gooi draaie met sy Beechcraft BE 18
vóór alles tot stilstand slyt.
Harvard Café
’n Meisie kry ’n selfoonoproep
– duidelik báie opgewonde –
en beweeg al in die rondte
óm die tafeltjie op die stoep.
Aand in Boksburg
“Hy sing presies soos Kenny Rodgers,”
sê iemand, “maar dit klink bekend.”
’n Kop knik gelate soos ’n Dachshund
op die dash van ’n sixty-five Valiant.
© Johann Lodewyk Marais, 2025
