koning rugby
die beesleer, die vier ovaalvormige panele, die gare
die veter, die blaas, die klep, die afgod
rondgegooi en aangegee, gedribbel, geskop
ge-place, kaalvoet van vroegs af, kaalvoet van kleins af
in die name van gode, gode soos naas en danie, morne en divan
victor en bakkies, broederskap beloof, heilige oorlog verklaar
met meelbomme oor auckland in neentien-een-en-tagtig
‘n witmeelprotes teen die swartes op die kantlyn
rugbytoer-tradisie ontmoet apartheid-boikot en dit druk arm
gysie, ray, flippie, ockie, wynand en louis op slot – geen chester in sig
so word ons op die velde groot, velde soos totiusdal en eros
en tukkies – my pa se stem, sy hand op my skouer en in my kop
word gedagtes en als wat ek onthou ge-up and under
so stel jy ‘n bal wys hy, so effens vooroor
rugby is soos die lewe sệ hy – speel tot die fluitjie blaas
die breiers, die skeidregters, die kantmanne, die khakihemp-omies van die plaas
die skrilstemtannies, die verontregte springbok-ouers, soos ‘n gemeente
word daar saterdae voor koning rugby gekniel – dệ, dis halftyd
vat vir jou ‘n lemoen – die vuiste, die vreugde, die vure, die biere, die bal
© johan swanepoel 2025
