Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
26 September 202527 September 2025

Resensie: “Die bloei van blomme” (Pirow Bekker)

 

 

Resensie: Die bloei van blomme deur Pirow Bekker.  Naledi, 2025.

Resensent: Daniel Hugo

 

Die bloei van blomme is Pirow Bekker (1935-2025) se twaalfde digbundel en dit het net-net postuum verskyn. Die digter doen hier finaal verslag van sy sterflikheid en stoflikheid. Dit bied aan hom ’n vooruitsig van bevryding – maar nie in ’n metafisiese of religieuse sin nie, soos blyk uit “Plekke herbeset”. Hy verbeel hom hoedat sy as nadoods deur die wind versprei word na die natuurplekke wat hy so goed geken het:

 

Wanneer die wind askoek slaan in my nis

en ek in dwarrels gestalte kry,

sal ek voor die val oor die eskarp

besef hoe hoog ek my ook al verbeel

die opgaan sou wees, dit hoër is

daar waar die wolke gedwing word

om my van die rotse los te woel.

 

Diep gespin sal die opswiep glad verloop –

dis wanneer dit tot verdeling kom

oor die skeurvalleie tussen broodrugbulte

dat wat nog ingebind was,

van kindsbeen af geheg,

op goeie aanspraak rusplek vind.

 

’n Rietbos het my in die sak gehad,

’n vinkedorp in die Rietrivier

met neste sorgvuldig ingevleg,

het my heel moontlik reeds verwag –

van vloed se modder bleek,

van binne uit gereep, geblus,

met ruimte waarin die lyf wat ek moet kry, sal pas.

 

Ek, van kop tot tone as,

bietjies-bietjies op die liewe tuistes neergelaat –

op suidoosterbanke, draaifonteine,

tot die laaste stoffies toe

op die vlerke van malkoppieskoenlappers

wat hul witgatboom versmaai.

 

By Wolwas waar die papkuil fuike maak

dryf ’n allerlaaste snuffel as

in ’n kokon herkoude bloudakgras.

 

Die “suidoosterbanke” in strofe 4 verwys na die plaas Suidoostebank tussen Reddersburg en Smithfield in die Suid-Vrystaat waar die digter as kind gewoon het. In ’n huldeblyk vertel sy seun Albertus dat Suidoostebank in Bekker se latere werk die simboliek van die idealistiese paradys van sy jeug aangeneem het (Litnet, 9 Augustus 2025). Albertus gaan voort: “Op ouderdom dertien verhuis die gesin Oos-Kaap toe om na bedlêende ouma Bekker om te sien, en ook op soek na beter boerderyvooruitsigte op die plaas Draaifontein in Die Moot, naby Glenconnor en Sapkamma.” Vandaar die “draaifonteine” in dieselfde strofe.

In ’n ander gedig in die bundel, “Land van geboorte”, kom die “skeurvalleie tussen broodrugbulte” weer voor as: “Die bergery word deeg, die hompe halfpad deurgesny.” En Die Moot, tussen die Groot- en Kleinwinterberge, met sy “diep ravyne” word daar by die naam genoem.

Die woord “eskarp” in die eerste strofe eggo Bekker se bundel van 1987 met dié woord as titel. As deel van sy bestekopname van lewe en werk keer hy in “Splinteroud” ook terug na sy debuutbundel van sestig jaar tevore, Die klip sing, in die volgende reëls:

 

Nou, met die kop op ’n kierie

in sy swakheid

op sleeptou geneem

deur die musieklike Marsyas

wat met fluit,

deur ’n godin verwerp

omdat dit sterk, jong asem verg,

om bome te laat dans

en klippe te laat sing,

keer hy die soveelste keer terug,

maar pleks van ’n fluit na sy lippe bring

soek hy weer die klip wat self kan sing.

 

In ’n oord vir afgeleefdes

is daar nouliks klank uit ’n klip te haal,

het die sang verstik,

is die fluite van ’n sater onvanpas …

 

Marsyas was ’n sater in die Griekse mitologie wat musiek geskep het vir die fluit. Hy het die heel eerste fluit ontdek wat deur die godin Athena weggegooi is, omdat haar wange te veel gebol het as sy daarop blaas.

Naas sulke vrye verse wat toeganklik en ontspanne verloop – ek dink ook aan “Besoek van Basilikat” en “Knipmes” – is daar heelwat meer gedronge en kriptiese gedigte in die bundel. Dié tweedeling is kenmerkend van Bekker se hele poëtiese oeuvre. Hy verwys self na die kritici se reaksie op sy gedronge gedigte in “Splinteroud”: “Die woorde was te hortend, / het dié wat ore het, beweer.” Albertus Bekker praat ook van sy pa se werk wat wissel van uiters digte tekste wat “menige leser, keurder en resensent al laat kopkrap het” tot singende liefdesverse.

Die digtheid van Bekker se gedigte kan die beste geïllustreer word aan die formele verse in afdelings III (sonnette) en IV (kwatryne). In die geval van die kwatryne kan die beperking van vier rymende reëls veroorsaak dat dit inhoudelik te kripties raak. Die digter wil te veel betekenis met te min woorde oordra. Hier is die kwatryn “Kana”:

 

Kalkoentjie trippel dwarslyf deur die jaar se oes,

trap alsó, alsó … die laagste druiwetrosse mos –

maar selfs gegis kom die wingerdstok se vrug nie naby

die wyn uit water van virusse verlos.

 

Op Versindaba verskyn in 2021 ’n vroeër variant van dié kwatryn, met die titel “Bruilof”:

 

Kalkoentjie trippel dwarslyf deur die wingerdbos,

trap alsó-alsó … trap die druiwetrosse mos –

dans die dans van wynlose Kana totdat Iemand

die klipkanwater van virusse verlos.

 

Die gedig verwys in die slot na die verbod op drankverkope tydens die Covid19-grendeltyd. Die reëls bevat ’n samevoeging van die volkse dansliedjie “Kalkoentjie trap alsó, alsó”, die bruilof te Kana waar Jesus water in wyn verander het (Johannes 2) en die Covid19-virus. Dit is drie bestanddele wat nie harmonies wil meng nie.

“Mona Lisa klim uit die kwas” is wel ’n genietlike kwatryn met ’n guitige ondertoon, wat reeds met die woordspel kwas/kas in die titel begin:

 

Mevrou Gioconda verkneukel haar in die doek,

die hande hou mekaar, wou hoeka aanhou soek,

maar haar ou man wou bloot ’n beeltnis hê – vir die res

bly sy ’n ongeblaaide boek.

 

By die sonnette gebeur soms die teenoorgestelde. Die digter het dan moeite om die veertien reëls inhoudelik te vul. Dit verlei hom tot onnodige inligting oftewel semantiese stoplappe. Hier is die sonnet “Hart”, met die onderskrif: “Maak my hartjie rein – Kindergebed”.

 

By Hartbeespoort sluip gholfkarre agter voëltjies aan;

hier swiep ’n pluksel vere oor die kafee se dek,

kry geel bek en pote uit – selfs lysters veg om plek

al is dit tot een aand se blatante supermaan.

 

Begeleiding na die Bos kom hiervandaan spontaan:

’n Swerm kakelaars, reeds ekstaties lam gekyf,

skiet nog los kruit uit die keel waar ‘n reier staan

terwyl die koggel van kolganse gholfers skeef laat dryf.

 

“In dié Bosveld, hart, moet jy gang in die gehaspel vind,

leer aansterk met beweging van wolke en die wind.

’n Buffel, in die hart gekwes, se optree bly verdag,

kruis met nuwe kring sy bloedspoor om te wag …

 

En jy, my ritmelose bees, trek saam, pas in horings in

met rym wat die pols van ’n maltrap in die reine bring.”

 

In die laaste ses reëls word die pleknaam “Hartbeespoort” in die eerste reël metafories toegepas op die digter se aritmies kloppende hart. Sy hart is dus ’n “ritmelose bees”. (Die volgende gedig is inderdaad “Pasaangeër” getitel.) Die skryf van gedigte bring ten slotte sy polsslag onder beheer: “rym wat die pols van ’n maltrap in die reine bring”. Die idioom “in die reine bring” is ’n herskrywing van die kindergebed boaan die gedig. Die kwalifikasie “pas in horings in” is egter vir my duister.

Dit is verder onduidelik wat die noodsaak van die eerste twee kwatryne is waarin die voëllewe – lysters, kakelaars, reier, kolganse – van Hartbeespoort se gholfbaan beskryf word. Hierdie twee strofes vorm eintlik ’n afsonderlike gedig, met sy eie vernuftige aantreklikhede. Die “voëltjie” (een hou minder as die baansyfer by ’n putjie) waarna die ghofspelers streef, word letterlik die genoemde voëls. Die reël “hier swiep ’n pluksel vere oor die kafee se dek” kan daarom op sowel ’n voël as ’n gholfbal slaan. (Maar wat beteken “kry geel bek en pote uit” en wat is die belang van die “supermaan”?) Die “koggel van kolganse” is ’n besonder klinkende frase. Maar dan is dit weer onduidelik waarom “Bos” met ’n simboliserende hoofletter geskryf word.

My gevolgtrekking is dat Bekker ten alle koste ’n sonnet wou skep en nie geskroom het om twee losstaande gedigte saam te voeg nie. Die vers wat sodoende ontstaan het, is vormlik wel interessant. Op die oog af lyk dit na ’n Engelse sonnet, met drie kwatryne en ’n slotkoeplet. Inderwaarheid is dit ’n Italiaanse sonnet, met oktaaf en sestet en ’n duidelike wending in reël 9. Die probleem is dat daardie wending te radikaal wegswaai van wat voorafgaan.

Soos by die kwatryne is daar ook goed geslaagde sonnette. Ek het baie plesier aan “Valhek” waarin Noag se deurwag aan die woord is. Hy staan by die ingang tot die ark:

 

“Hier is nie plek vir ’n muis nie,”

maak die deurwag verskoning by Janbloed.

“My opdrag lui: ‘Nie Afrikaners nie, mof inkluis’.”

Selfs ’n koggelbul speel buite soet.

 

“Kleintyd is hy dalk Bulperd genoem,

gul uitgespin tot ’n bul se werk,

maar vir die hoëre roeping gou gedoem

is hy uitgeknip vir trek.

 

“Dié is ’n ark, verstaan my goed,

hier is slegs vir ’n toekoms plek,

hier geld registrasie, hier praat ons stoet,

hier’s waar ons net die beste red.

 

“Jy voel tog self die oordeel is gevel.

Eendag, op vaster grond, kom jy weer in tel.”

 

Hier gaan dit gelyktydig oor ’n religieuse, genealogiese en poltieke uitverkiesing. Die Afrikaner word in die huidige bestel, veral ten opsigte van die laasgenoemde twee, in Suid-Afrika uitgesluit (“mof inkluis”!). Pirow Bekker die fyn satirikus is myns insiens nog nie na waarde geskat deur ons literatore nie.

Die openingsvers van die bundel vat die aard en inhoud van wat volg op ’n vernuftige wyse saam:

 

Oulike tuin

 

Alte grys raak my tuin

die blomme bloei wys

wyl reikafstand kwyn

 

Die grysheid bring vir die digter wysheid, terwyl sy lewe en digterlike temas krimp. Die gedig bereik sy digtheid deur klankherhaling: vier maal -y-, drie maal -r- en twee maal bl-. Die woorde “oulike” en “grys” bewerkstellig ’n dubbele woordspel: “grys” is ’n sinoniem vir “oud”, maar ook vir “oulik”. Die reël “die blomme bloei wys” laat “bloeiwyse” opklink. Dit alles binne die omvang van veertien woorde. Bondiger kan dit sekerlik nie!

Die bloei van blomme is ’n waardige afsluiting van ’n ryk en boeiende literêre nalatenskap.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Die waterman en Die helfte is jou nie vertel nie  
Joan Hambidge. Die bloei van blomme : Laat alles val wat nog val in hom het →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg
  • Johann Lodewyk Marais. Saterdagaand

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d