Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 October 202524 October 2025

Resensie: “Waterman” (Herman Wasserman)

Resensie: Waterman deur Herman Wasserman. Quellerie, 2025. 95pp.

Resensent: Marius Crous

Jaco Barnard-Naudé, Tom Dreyer, Alwyn Roux en Herman Wasserman – vier sterk debuutdigters in Afrikaans, elk met sy eiesoortige aanslag en stem; ’n kwartet wat hopelik nog heelwat gedigte gaan bydra tot ons letterkunde. Maar ek fokus vandag op Herman Wasserman, die mediadosent, wat met prosa gedebuteer het en nou ook ’n digbundel gepubliseer het, met nogal ’n koddige voorbladontwerp vir ’n digbundel – of klink ek te elitisties?

Die titel, Waterman, is ’n vertaling van sy van “Wasserman” en hiermee word die watermotief in die bundel geaktiveer. Die motto’s wat die bundel sluit ook hierby aan – veral Leonard Cohen se ene vind byval:

if you don’t become the ocean
you’ll be seasick every day

Of soos die digter dit stel op bl. 92 in die slotvers van die bundel:

Want water is ek en tot water sal ek terugkeer.

Ook die slotwoorde van die openingsgedig sluit hierby aan:

eindelik leer elke waterman:
om jou pad in ’n storm te vind
moet jy eenword met water, wolk en wind

Die motto uit Ak’abal verwoord iets soortgelyks – vergelyk die laaste drie reëls:

Is all water,
water,
water.

Reeds uit die titels van die gedigte in die inhoudsopgawe lei die leser af dat water en woorde wat verwant is aan water, deurlopend voorkom: matroos, duikbol, strand, Seepunt, Struisbaai, Llandudno, rotspoel, waterglybaan, visdam, ensovoorts.

Die inleidingsgedig, “Waterman” (13) sluit aan by hierdie selfbewuste deurkomponering van die bundel, wanneer die voorstedelike man met ’n matroos vergelyk word, wat deur die verkeer moet “dryf”. Die wit voorstedelike bestaan vanuit ’n manlike perspektief kom by dié groep debutante voor – nes ook by Danie Marais in sy onlangs bekroonde bundel, Ek en jy bestaan nie. ‘Myns insiens is dit of daar ’n stemhebbendheid intree by die wit manlike digters en dat die golf van witweesvrese en selfmarginalisering verby is, maar dat hulle steeds krities is oor hul bevoorregte posisie in die land. ‘n Interessante studie oor nuwe perspektiewe op manlikheid, vaderskap, genderkwessies kan met vrug in hierdie bundels ondersoek word. Any takers?

Die bundel volg ’n tipe chronologiese lyn van die tyd toe die spreker nog “jonk, jags, jeukerig”(14) was en fokus op gebeure uit die jeug, oorsese verblyf en die hede. Tussendeur word daar ook geskryf oor vriende en familielede.

’n Deurlopende kwessie in die bundel is die wit skuldgevoel van die sprekers in die gedigte. Die lewe loop sy gang, maar daar is

altyd maar te min in hierdie land, al weer
iemand wat kort: brood, water, geld

(20)

Die bewuswees van swaarkry en lyding word by monde van Job verwoord.( ‘n Mens dink ook hier aan T T Cloete se verse waarin Job sentraal staan as verpersoonliking van die lydende mens.)  Die meelewing met die swaarkry van ander (“om te voel hoe ander jou sien leegbloei”, 22) gee vir ’n wyle vertroosting teen die skuldgevoel. Daar word ook satiries gekyk na “die rykes in hul vet gemak” wat in glashuise woon.

Ons, “die weerlose wit opdrifsels / gepantser met SPF30” (31) het hier aangeland en die spreker in die gedig “Opdrifsels” (31) meen dat hy nie ander kan verkwalik wat “ons soort wil terugjaag die see in [nie].”

Weens die digter se belangstelling in die media is dit seker vanselfsprekend dat grepe uit die nuus en die koerante (“ons proe vinnig aan die nuus”, 44) in sy verse aanwesig is; ook die insette tydens die grendeltyd, toe die wêreld ’n hospitaal geword het (33). Slim word die Ingrid Jonker-teks hier betrek om die ingeperktheid “agter muur en glas” te beskryf. In “By die lees van koerantberigte”(57) word die ouer-kindverhouding aan die hand van ’n grillerige berig in The Guardian ondersoek.

’n Vers oor Bocelli se optrede tydens Pase in Milaan (2020) tydens Covid illustreer die rol van kuns as samebindende faktor, terwyl almal sit in “benoude woonstelle, / bang huise, eensame kamers” (34).  Ewe beskrywend is die musiekgedig oor ’n simfoniekonsert, wat weer eens kommentaar lewer op die kloof tussen ryk en arm.

Die derde afdeling, Kajuit, fokus op die geboorte van sy kinders, die kinders se grootwordjare en die wedersydse verhouding tussen pa en kind. Die suggestie is dat die kind selfstandig word en dat dit die ouer is wat aan die kind klou “soos ’n dankbare drenkeling”(51). Vroeër in die gedig “Oggendtrein na die kleuterskool”(48) verwys hy ook na die pa wat “angstig aan [die kind] se vingers [klou]”, maar tot die besef moet kom dat dit eerder die kind is wat hom vashou, want hy pas makliker aan by die nuwe omgewing.

“Seun wat man word”(61) is vir my ’n wonderlike voorbeeld van die nuwe perspektief op manlikheid. Hier word die kind wat waarskynlik geboelie word ook geassosieer met water en die krag van water om rotse te breek. Direk hierna is daar twee gedigte oor onderskeidelik die spreker se oupa en sy pa. Die oupa as waterwyser (62) is die voorsaat van die Wassermans en is in staat om te voel hoe die water deur hom praat. In “Ouerhuis”( 65) is dit oppaktyd en word die verlede in herinnering geroep.  Die “asdrom” staan sentraal in dié gedig, wanneer daar ontslae geraak word van onder meer die Kinderbybel in 40 dele!

In die vierde afdeling, Kus, word die in duie storting van die land beskryf, asook hoe problematies dit is om in die land te leef (74). Alles wat kan verkeerd gaan of verkeerd geloop het in die land word opgenoem. Globale gebeure wat ’n inbreuk maak op sy bestaan word ook weer via die media waargeneem.

Opvallend is ook die motief van die kinderspeelding wat drie keer in die bundel voorkom. In “Panspermia”(55) word die kinders by die skool afgelaai en dan bly ’n speelding op die sitplek agter. In “Hotel”(59) is daar ’n kind se speelding in die Uber wat hom kom oplaai by sy hotel, terwyl in “Argeoloog”(73) die professor van puin ook ’n kinderspeelding kry. In teenstelling met die “klein Daihatsu” (15) waarmee altyd gejaag is agter “nog ’n nuwe lyf, ’n nuwe kus”, is ons nou in ’n praktiese gesinsmotor. Die teenwoordigheid van die speelding dui natuurlik ook op die sterk verbintenis tussen pa en kind.

Naas die ontnugtering met die land se verval, is daar ook die gevoel van nutteloosheid wanneer hy skryf:

straks moet ek dié fabel verruil vir die feite
van sleutelbord, lesingsaal, lessenaar
van artikels wat niemand meer
sal onthou oor ’n honderd jaar

(83)

Die bundel sluit af met “Bettysbaai”(92) waar die spreker homself situeer in die natuur na ’n storm en op die aantrekkingskrag wat die see vir hom as waterman het, fokus. In hierdie gedig kulmineer al die temas van die bundel soos onder meer die historiese bewussyn, asook die geborgenheid van “huis kombuis en kaggel” (92).

Ten slotte: Onlangs lees ek Antonissen se Kern en tooi – Kroniek van die Afrikaanse lettere 1951-1960 en spesifiek sy stuk oor debutante. Hy verduidelik “debutante” as

’n hele ry mense [wat] hul eerste verskyning op die literêre podium gemaak het, as skrywers van wal gesteek (sic), ’n voet in die stiebeuel geplaas, hulle geloofsbriewe aangebied (1962:161).

En verder aan:

’n Begin kan hooggestemd of flou wees, ’n belofte of ’n mislukking, ’n meesterstuk of ’n prul. “Ryk aan debutante” beteken dus nie uiteraard “wesenlik deur hulle debute verryk nie. (Antonissen, 1962: 161)

Herman Wasserman se begin is beslis ’n belofte, want hy dig slim en weet hoe om te dig. Dis ’n hegte (bewustelike) eenheidsbundel met deurlopende motiewe – dalk die gevolg van sy prosaskryf? Na die lees van die eerste afdeling wil ek tog vra: hoekom moet elke gedig so doelbewus kunsteoreties wees? Hoekom moet ’n gedig altyd afsluit met ’n slotstrofe waarin oor die woord, die ek as digter, die potloodkouende geleerde besin word? Dit is opvallend in dié bundel en is nie net beperk tot die eerste afdeling nie. Of is dit juis omdat hy “minder bestand [is] teen storms” (27) dat hy so obsessief is oor die digproses? Dat die taal ontoereikend is om sy ervarings te woord, soos hy dit in “Wars poëtika”(20) stel:

… watter warmte is dit
wat ek soek in godsnaam, telkemaal
onder die yl dekentjie van taal?

(20)

Net soos in die geval van die ander debutante wat ek genoem het, sien ek uit na sy volgende bundel. Met hierdie viermanskap gaan ons moet rekening hou.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Uitnodiging na T. T. Cloete-huldigingslesing
Yves T’Sjoen. Postumiteiten voor Breyten →

1e kommentaar op “Resensie: “Waterman” (Herman Wasserman)”

  1. Bernard Odendaal says:
    22 October 2025 at 19:50

    Inderdaad ‘n boeiende debuut.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Eerste sneeu
  • johan swanepoel. tafel vir een
  • Resensie: Steierwerk  deur Johan Myburgh
  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d