Brigitte Bardot
Sonskyn sigarette sjampanje
sloop haar skoonheid: ‘n mépris,
ten spyte van die donker wand
van begeerte, gekiek neffens vele
minnaars; selfs een met Pablo P.
Die vraag wat ás Don Juan ‘n vrou
was, nakend saam met Jane Birkin
met deure wat nie dig kon sluit.
Mevrou Vadim veil later haar
bruidsrok op vir diereregte;
al het God glo vroue geskep?
Hierdie nimfet, dalk ‘n Afrodite,
of ‘n personifikasie so reg uit
The Fugitive kind met Brando
deklamerend: “We are all sentenced
to solitary confinement inside
our own skins, for life” met
Anna Magnani as toehoorder.
Tennessee Williams het jou
dubbelaard besing: van agter
soos ‘n man, van voor ‘n vrou
triomfantelik; jou tuitbek verlei-
delik sodat selfs ‘n vroom heilige
sy siel sou verpand aan die duiwel
om jou te kon sien dans, bébé.
Of as Lady Torrance teenoor
Valentine Snakeskin Xavier
sou jy vurig (glo my vry) almal
selfs die sheriff die loef afgesteek het
met ‘n leerbaadjie en stewels :
L’amour c’est mon m’etier.
© Joan Hambidge, 2025

Die slot moet lui:
L’amour c’est mon métier.
Die c het afgeval. Jammer …
En Tennessee Williams se film is werklik briljant. Hy het dit direk as ‘n film geskryf; nie vir die verhoog nie en die spanning tussen Brando en Anna M was opvallend. Hy het nie agter die skerms in haar belang gestel nie.
Films is inderdaad ruimtes waar ‘n mens baie idees vir gedigte kry, soos Daniel Hugo dit al uitgewys het.
U lewenskennis verstom my keer op keer. Die manier waarop alles bymekaar gebring word…sjoe!