Vergesig
Ek stuur ’n verkenner die toekoms in,
oënskynlik op ’n vredessending
maar inderwaarheid ’n spioen.
Sy bring berig van die beloofde land:
Geometriese gewels onder goue gewelf,
valleie vol veldlelies en GM-graanlande,
brandende bosse met slimsensors,
’n fusie-reaktor omring deur engeleklone,
eekhorings, ‘n meermin en ’n e-enhoring.
God se hande is prakties aangelê,
maar sy hoof boer in die wolke.
© Jakes Möller, 2026
