Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
6 March 2026

Joan Hambidge. T.T. Cloete en John Donne

 

I

Dit was André P. Brink wat Cloete indertyd bitsig beskuldig het dat hy eerder ‘n geleerde woord sou gebruik as ‘n gewone, alledaagse een.

‘n Literator het my eenkeer opgebel en gevra maar wát beteken hierdie woord tog?

Hierdie kwessie word besonder insigryk deur Phil van Schalkwyk verduidelik in sy besinning oor Cloete se werk.

Hierdie professor aan Noordwes het eweneens (wat die uwe betref) die belangrikste werk oor Pirow Bekker gelewer.

“[V]ra omgekeerd die maag in die teken van ‘n vraag”: TT Cloete en die metafisiese poësie”, is opgeneem in die huldigingsbundel vir Cloete:

Met die digter praat is ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015, onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe.

Van Schalkwyk wys op die doelbewuste konstruksie van die sogenaamde “metaphysical poetry”,  via verskeie teoretici om sy argument te staaf, soos Frank Kermode wie se studie Donne in 1961 verskyn het by Longmans. Alles wat Kermode skryf oor Donne, is op Cloete van toepassing. Lesers wat “ingewikkelde, doelbewus gekonstrueerde tekste” verkies,  vind aanklank by hierdie soort vers.

Die jukstaposionele aard van hierdie soort vers is opvallend, argumenteer Van Schalkwyk vérder, via Sarah Emsley se siening van Emily Dickinson in 2003.

Ook ‘n openbaring …

Was E.D. metafisies of nie?

Die latere werk bekoor Van Schalkwyk meer soos Karnaval en lent (2014).

Die blote katalogus of fasiele woordspel van die eerste werk word volgens hom hiér opgehef.  Die gevatte wyse (“wit”) en die retoriese oogmerke is juis hierom belangrik. Dit is sterk intellektuele verse wat getuig van enorme erudisie.

Van Schalkwyk is polemies in sy reaksie op ander lesers. Die digkuns, via Bakhtin, moet nie in sy tyd geënskapuleer word nie, maar verder kan beweeg in sogenaamde “groot tyd”.  Hy ontken nie die simbolistiese trekke in Cloete se poësie nie, maar ‘n “vrugbaarder” benadering is eerder ‘n assosiasie met veral John Donne.

 

II

Toevallig (?) herlees hierdie leser nou Saul Bellow se Herzog.

Moses Elkanah Herzog, ‘n professor in kultuurgeskiedenis,  is 47 jaar oud en op die rand van ‘n volledige ineenstorting.

Egskeidings, verwoestende verhoudings en verbintenisse en ‘n onbevredigende loopbaan. Waarskynlik is die hoofkarakter vernoem na James Joyce se karakter in Ulysses.  Dus ‘n wandelende Jood. In Ulysses speel alles af in een dag; hier is daar vyf dae.

Die naam Elkanah is eweneens veelseggend. Die vader van Samuel en ‘n poligamis, aldus Die boek Samuel.

Hy skryf dan ook briewe aan vriende, bekendes soos Nietzsche, Freud en selfs aan God, om sy onrus en psigiese onstuimigheid te verwoord.

Die boek het in 1964 verskyn, maar bly steeds ‘n belangrike baken in die romankuns.

Uit Bellow se briewe is dit duidelik dat hy krities was oor vele filosowe (en denkers soos Freud), maar hy span vele in om sy storie te lanseer. Die sogenaamde “Fall into the Quotidian” is ‘n vraag aan Heidegger oor die aftuimel in die mundane, slordige bestaan.

“But I am a prisoner of perception”, staan daar op bladsy 78 van die Penguin-uitgawe. Bellow is dikwels gekritiseer vir sy intellektuele aanslag. As Kanadese-Jood was hy ‘n buitestaander op meer as een vlak, lees ons in die briewe Saul Bellow: Letters (red. Benjamin Taylor) wat by Penguin verskyn het in 2010.

Dit is eweneens van toepassing op Cloete wat as literator betrokke was by omstrede uitsprake oor sensuur en as konserwatief gesien is. Maar tekste behoort apart van die mens gelees te word en ‘n ruimte laat vir inkering.

Só om Cloete as chauvinisties of kru-eroties te lees, is eensydig. Of Bellow as ‘n “slegte vader”, is eweneens te maklik.

Of as moraliserend-religieus, is volgens my, ‘n inlees van die mens-agter-die-b(r)oek.  Dit staan opgeteken in die “Perspektief op die moderne  Afrikaanse poësie (1960 – 1997) ” in Perspektief en profiel (Deel II) in 1999. Deur Helize van Vuuren.

Helize van Vuuren het uitstekende werk oor Opperman en veral Louw se Tristia gelewer, maar haar oorsig hier,  is myns insiens, eensydig. Maar sy is geregtig op haar standpunt.

“Groot” woorde en jargon is eweneens opvallend in Bellow se romans.

Jiddisj en Frans versier die vertelling. Macher en shmoes …

“Ici tout est gâché”, skryf Moses Herzog aan ‘n minnares wat hom verwerp het.

Cloete dig immers oor die gedig wat alles uitlap, staan daar  opgeteken in “ons gewete” in Karnaval en lent.

Ook Bellow is intens bewus hiervan in sy briewe. Hy het immers sy eie lewe gebruik (selfs geplunder) in sy romans en dit gefiksionaliseer.

Wat lesers dink hulle weet van ‘n skrywer se lewe, vervlak altyd die lesing van ‘n teks.

 

hierdie sigbare gedig

 

But if I write what my soul thinks,

then it will be visible,

and the words will be its body. – Helen Keller

 

hierdie gedig is geskryf

met die bloed van my are wat vinnige riviere

loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle

(vlesige afkoellappies soos die olifant se ore)

 

– is geskryf met my worsige ingewande

se wurmkrulle

waar my maaltye van vandag wat kom uit die aarde

nog verwerk word en magies omgetoor word

tot harsings

 

– is geskryf met hormone en elektrochemiese polsings

in my kop waar woorde van gemaak word

en van woorde word raaiselagtige vleeslose

oordragte gemaak

 

met my kiestande en lippe

my vingernaels en hare

my snorbaard my tong

my adamsappel skryf ek

 

hierdie gedig is geskryf met die kilometers

vertakkings van my senustelsel

 

met my vel groot soos my vloermat

van koedoevel

 

die meer as 70% water van my liggaam

my hormone en testosteroon

geel gebeente vol grys murg

my ribbekas en kniekoppe

is vol mossiemusiek

 

om met die hart te skryf is sulke goedkoop

sulke smakelose cliché so ’n mistasting

dat ek dit kieskeurig soos my blindederm verswyg

 

hierdie gedig is geskryf met die vingerpunte

van my linkerhand

eintlik skryf mens met jou pols

maar myne is vol artritis aan my regterhand

 

– van my skedel af tot by my groottone

en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig

geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros

van ’n pynlik gebakkelde lyf

(146)

 

Nou kan ons hierdie vers ook lees as ‘n antwoord aan kritiese, afwysende lesers.

En Phil van Schalwyk neem ons op die ander roetes van die digkuns: alles in die teken van ‘n vraag(?)

III

In haar keuse van klassieke gedigte kies Camille Paglia, ‘n student van Harold Bloom, 3 van John Donne se gedigte in haar studie: 43 of the world’s best poems.

Dit verskyn in 2005 as Break. Blow. Burn. New York, Pantheon Books.

En Harold Bloom, vir die rekord was uiters krities oor Bellow se The Dean’s December!

John Donne se beroemde sonnet klink so:

 

Holy Sonnets: Batter my heart, three-person’d God

 

Batter my heart, three-person’d God, for you

As yet but knock, breathe, shine, and seek to mend;

That I may rise and stand, o’erthrow me, and bend

Your force to break, blow, burn, and make me new.

I, like an usurp’d town to another due,

Labor to admit you, but oh, to no end;

Reason, your viceroy in me, me should defend,

But is captiv’d, and proves weak or untrue.

 

Yet dearly I love you, and would be lov’d fain,

But am betroth’d unto your enemy;

Divorce me, untie or break that knot again,

Take me to you, imprison me, for I,

Except you enthrall me, never shall be free,

Nor ever chaste, except you ravish me.

 

https://www.poetryfoundation.org/poems/44106/holy-sonnets-batter-my-heart-three-persond-god

Besoek 5 Februarie 2026

Joan Hambidge

Kaapstad

3 – 6  Februarie 2026

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. T.T. Cloete en die kanon
Joan Hambidge. T.T. Cloete en die entelegie →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg
  • Johann Lodewyk Marais. Saterdagaand

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d