I
Dit was André P. Brink wat Cloete indertyd bitsig beskuldig het dat hy eerder ‘n geleerde woord sou gebruik as ‘n gewone, alledaagse een.
‘n Literator het my eenkeer opgebel en gevra maar wát beteken hierdie woord tog?
Hierdie kwessie word besonder insigryk deur Phil van Schalkwyk verduidelik in sy besinning oor Cloete se werk.
Hierdie professor aan Noordwes het eweneens (wat die uwe betref) die belangrikste werk oor Pirow Bekker gelewer.
“[V]ra omgekeerd die maag in die teken van ‘n vraag”: TT Cloete en die metafisiese poësie”, is opgeneem in die huldigingsbundel vir Cloete:
Met die digter praat is ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015, onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe.
Van Schalkwyk wys op die doelbewuste konstruksie van die sogenaamde “metaphysical poetry”, via verskeie teoretici om sy argument te staaf, soos Frank Kermode wie se studie Donne in 1961 verskyn het by Longmans. Alles wat Kermode skryf oor Donne, is op Cloete van toepassing. Lesers wat “ingewikkelde, doelbewus gekonstrueerde tekste” verkies, vind aanklank by hierdie soort vers.
Die jukstaposionele aard van hierdie soort vers is opvallend, argumenteer Van Schalkwyk vérder, via Sarah Emsley se siening van Emily Dickinson in 2003.
Ook ‘n openbaring …
Was E.D. metafisies of nie?
Die latere werk bekoor Van Schalkwyk meer soos Karnaval en lent (2014).
Die blote katalogus of fasiele woordspel van die eerste werk word volgens hom hiér opgehef. Die gevatte wyse (“wit”) en die retoriese oogmerke is juis hierom belangrik. Dit is sterk intellektuele verse wat getuig van enorme erudisie.
Van Schalkwyk is polemies in sy reaksie op ander lesers. Die digkuns, via Bakhtin, moet nie in sy tyd geënskapuleer word nie, maar verder kan beweeg in sogenaamde “groot tyd”. Hy ontken nie die simbolistiese trekke in Cloete se poësie nie, maar ‘n “vrugbaarder” benadering is eerder ‘n assosiasie met veral John Donne.
II
Toevallig (?) herlees hierdie leser nou Saul Bellow se Herzog.
Moses Elkanah Herzog, ‘n professor in kultuurgeskiedenis, is 47 jaar oud en op die rand van ‘n volledige ineenstorting.
Egskeidings, verwoestende verhoudings en verbintenisse en ‘n onbevredigende loopbaan. Waarskynlik is die hoofkarakter vernoem na James Joyce se karakter in Ulysses. Dus ‘n wandelende Jood. In Ulysses speel alles af in een dag; hier is daar vyf dae.
Die naam Elkanah is eweneens veelseggend. Die vader van Samuel en ‘n poligamis, aldus Die boek Samuel.
Hy skryf dan ook briewe aan vriende, bekendes soos Nietzsche, Freud en selfs aan God, om sy onrus en psigiese onstuimigheid te verwoord.
Die boek het in 1964 verskyn, maar bly steeds ‘n belangrike baken in die romankuns.
Uit Bellow se briewe is dit duidelik dat hy krities was oor vele filosowe (en denkers soos Freud), maar hy span vele in om sy storie te lanseer. Die sogenaamde “Fall into the Quotidian” is ‘n vraag aan Heidegger oor die aftuimel in die mundane, slordige bestaan.
“But I am a prisoner of perception”, staan daar op bladsy 78 van die Penguin-uitgawe. Bellow is dikwels gekritiseer vir sy intellektuele aanslag. As Kanadese-Jood was hy ‘n buitestaander op meer as een vlak, lees ons in die briewe Saul Bellow: Letters (red. Benjamin Taylor) wat by Penguin verskyn het in 2010.
Dit is eweneens van toepassing op Cloete wat as literator betrokke was by omstrede uitsprake oor sensuur en as konserwatief gesien is. Maar tekste behoort apart van die mens gelees te word en ‘n ruimte laat vir inkering.
Só om Cloete as chauvinisties of kru-eroties te lees, is eensydig. Of Bellow as ‘n “slegte vader”, is eweneens te maklik.
Of as moraliserend-religieus, is volgens my, ‘n inlees van die mens-agter-die-b(r)oek. Dit staan opgeteken in die “Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960 – 1997) ” in Perspektief en profiel (Deel II) in 1999. Deur Helize van Vuuren.
Helize van Vuuren het uitstekende werk oor Opperman en veral Louw se Tristia gelewer, maar haar oorsig hier, is myns insiens, eensydig. Maar sy is geregtig op haar standpunt.
“Groot” woorde en jargon is eweneens opvallend in Bellow se romans.
Jiddisj en Frans versier die vertelling. Macher en shmoes …
“Ici tout est gâché”, skryf Moses Herzog aan ‘n minnares wat hom verwerp het.
Cloete dig immers oor die gedig wat alles uitlap, staan daar opgeteken in “ons gewete” in Karnaval en lent.
Ook Bellow is intens bewus hiervan in sy briewe. Hy het immers sy eie lewe gebruik (selfs geplunder) in sy romans en dit gefiksionaliseer.
Wat lesers dink hulle weet van ‘n skrywer se lewe, vervlak altyd die lesing van ‘n teks.
hierdie sigbare gedig
But if I write what my soul thinks,
then it will be visible,
and the words will be its body. – Helen Keller
hierdie gedig is geskryf
met die bloed van my are wat vinnige riviere
loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle
(vlesige afkoellappies soos die olifant se ore)
– is geskryf met my worsige ingewande
se wurmkrulle
waar my maaltye van vandag wat kom uit die aarde
nog verwerk word en magies omgetoor word
tot harsings
– is geskryf met hormone en elektrochemiese polsings
in my kop waar woorde van gemaak word
en van woorde word raaiselagtige vleeslose
oordragte gemaak
met my kiestande en lippe
my vingernaels en hare
my snorbaard my tong
my adamsappel skryf ek
hierdie gedig is geskryf met die kilometers
vertakkings van my senustelsel
met my vel groot soos my vloermat
van koedoevel
die meer as 70% water van my liggaam
my hormone en testosteroon
geel gebeente vol grys murg
my ribbekas en kniekoppe
is vol mossiemusiek
om met die hart te skryf is sulke goedkoop
sulke smakelose cliché so ’n mistasting
dat ek dit kieskeurig soos my blindederm verswyg
hierdie gedig is geskryf met die vingerpunte
van my linkerhand
eintlik skryf mens met jou pols
maar myne is vol artritis aan my regterhand
– van my skedel af tot by my groottone
en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig
geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros
van ’n pynlik gebakkelde lyf
(146)
Nou kan ons hierdie vers ook lees as ‘n antwoord aan kritiese, afwysende lesers.
En Phil van Schalwyk neem ons op die ander roetes van die digkuns: alles in die teken van ‘n vraag(?)
III
In haar keuse van klassieke gedigte kies Camille Paglia, ‘n student van Harold Bloom, 3 van John Donne se gedigte in haar studie: 43 of the world’s best poems.
Dit verskyn in 2005 as Break. Blow. Burn. New York, Pantheon Books.
En Harold Bloom, vir die rekord was uiters krities oor Bellow se The Dean’s December!
John Donne se beroemde sonnet klink so:
Holy Sonnets: Batter my heart, three-person’d God
Batter my heart, three-person’d God, for you
As yet but knock, breathe, shine, and seek to mend;
That I may rise and stand, o’erthrow me, and bend
Your force to break, blow, burn, and make me new.
I, like an usurp’d town to another due,
Labor to admit you, but oh, to no end;
Reason, your viceroy in me, me should defend,
But is captiv’d, and proves weak or untrue.
Yet dearly I love you, and would be lov’d fain,
But am betroth’d unto your enemy;
Divorce me, untie or break that knot again,
Take me to you, imprison me, for I,
Except you enthrall me, never shall be free,
Nor ever chaste, except you ravish me.
https://www.poetryfoundation.org/poems/44106/holy-sonnets-batter-my-heart-three-persond-god
Besoek 5 Februarie 2026
Joan Hambidge
Kaapstad
3 – 6 Februarie 2026
