I
Die enorme kennis van T.T. Cloete is al deur verskeie literatore uitgewys. Só dig hy in Karnaval en lent:
ons gewete
ons skryf nie gedigte nie
hulle is ons
hulle kondig hulle by ons ongenooid
sonder afspraak aan
voor ons húlle ooit verwag
weet gedigte hulleself vooruit
dikwels lap hulle teen ons sin alles uit
hulle is ons toesighouers en gewete wat vir ons weet
hulle dwing ons om oop te praat wat ons graag verswyg
of stilweg ontken in ons alledaagse toepraat of vergeet
In ‘n poskaart aan my in September 2023 skryf hy aan my:
Jy gaan haal jou gedigte ver …
Inderdaad was en is dit so. Cloete se gedigte aktiveer nou die reis in die self in.
In ‘n onderhoud in 2014 op die Versindaba vra Marlies Taljard insigryke vrae oor sy digkuns:
Wat my getref het, is die byna naatlose integrasie van die visuele prikkel, naamlik Pieter Brueghel de Oude se skildery, Die geveg tussen Karnaval en Lent (1569), op die bundelomslag en die gedigte wat almal op een of ander wyse put uit die filosofiese laag van die skildery óf daarop kommentaar lewer. Ek het dadelik gewonder wat eerste was: het u die gedigte gemaak na aanleiding van die skildery of het die gedigte eerste ontstaan? Waarom het u juis hierdie skildery as bundelomslag gekies?
Prof. TT Cloete (TTC):
Die titel van die bundel het lank ná die gedigte gekom, byna soos ‘n kind eers gebore word en daarna gedoop word. Kunsgeskiedenis en –waardering, soos die vak destyds geheet het, was een van my doseeropdragte, en my geheue het my na aanleiding van die gedigte gelei na die skildery wat ek so lank so goed ken. ‘n Mens dig mos maar hoofsaaklik uit jou onderbewuste. Die gedigte van die bundel het as ‘t ware in een worp ontstaan, binne een raam, wat later ingevul en georden is, amper soos die stukke van ‘n legkaaart wat ordeloos rondlê en later in- of aanmekaar gepas word.
En dan verder antwoord hy:
Daar is drie kragte in ons: die maag, wat eerste ontwaak en werk. Uit semen en ovum ontstaan ‘n embrio en fetus, wat ons moeders eet, en dan eet ons tot ons sterf. Of ons kan van honger en dors sterf. Tweedens en later ontwaak die libido, en derdens en nog later ontwaak die intellek. Die verstommende intellek se funksies hang af van die maag. As die maag gaan staan, sterf die brein. Descartes se cogito ergo sum moet eintlik wees: ek eet, daarom is ek. Ek dink uit en met my maag. En die ander krag, die libido, kan die harsings beduiwel, kan chemiese stowwe afskei wat die brein oorweldig, kan ons laat aanteel tot 7/8 miljard mae wat honger en dors is, en as hulle dit nie kry nie, kom daar opstand, rewolusie, oorlog. Die maag kan soos die libido die brein oorweldig en verkrag of moord pleeg, lewe vernietig, ook die lewe van plante en diere, en die aarde self. ’n Koei vreet die heeldag om ons te laat aanhou dink en voel as ons haar eet, haar melk drink.
https://versindaba.co.za/2014/03/04/onderhoud-met-tt-cloete-2/ Besoek 8 Maart 2024

https://www.ncregister.com/blog/fight-between-advent-and-carnival Besoek 8 Februarie 2026
II
Met die digter praat is ‘n bundel opstelle en gedigte ter huldiging van Cloete, saamgestel uit uitgawes van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 49 (4): Desember 2009 en Jaargang 55 (2): Junie 2015, onder die kundige redaksie van Bernard Odendaal, Hein Viljoen en Ina Wolfaardt-Gräbe.
In hierdie bundelopstelle verskyn daar ook Marlies Taljard se artikel oor Cloete se gedig “Geveg tussen Karnaval en Lent”, gebaseer op Pieter Brueghel de Oude se beroemde skildery van 1559.
Dit is te siene in die Weense Staatsgalery en op die internet.
Alles speel af op ‘n Vlaamse dorpsmeent en Taljard wys daarop dat die sewe doodsondes hier uitgebeeld word: vraatsug, gierigheid, luiheid, hoogmoed, wellus, woede en afguns.
Taljard merk verder op om die skildery as bloot allegories te “lees” as ‘n spanning tussen deug en ondeug, sou beperkend wees.
Sy wys op die tyd waarin hy geleef het, was ‘n tyd van groot intellektuele en kreatiewe prestasie met figure soos Michelangelo, Erasmus (Tot lof van dwaasheid, 1511), Martin Luther, Jeroen Bosch …
Die tyd van die sogenaamde Reformasie.
Die luitspeler aan Karnavalskant argumenteer sy tereg, verwys na Marthin Luther en daar is inderdaad uitbeeldings van die doodsondes.
Ook sien sy al die gestremdes in die teks raak; waarskynlik ‘n aspek wat Cloete moes aangespreek het as synde self gebreklik.
Ook die opposisie tussen vark en vis bespreek sy. Onreinheid teenoor suiwerheid.
Die belangrikste bydrae van hierdie artikel is die fokus op die kollektiewe aspekte. “Poësie”, skryf sy, “werk met kollektiewe transendente by wyse van metafore, simbole en beelde wat in verskillende tale, kulture en tye dieselfde geïnterpreteer word” (170).
Argetipes dus: die mens wat boos en heilig is; pleroma teenoor soma; egoïsties en ook deel van die ander …
Die inherente dualiteit wat die mens kenmerk, aldus Cloete en Taljard, kan ons in Cloete se gedig sien.
Wat hierdie leser nie geweet het nie, is die verskille tussen die Lutherane en die Katolieke. Die Lutherane is dikwels as “drinkebroers” verminder en die fokus op die spelende kinders aan Lentkant wys op die skilder se siening dat die uiterlikhede van die Katolieke kerk as “dwaas en waardeloos” beskou was (162).
Lent, so het ek geleer by ‘n Katolieke vriend, behels veertig dae van vas. Dit begin op As-Woensdag en word afgesluit met Pase. Dit is ‘n tyd waarin ‘n mens iets moet opgee wat jou onspiritueel maak en dit is soos Jesus Christus se veertig dae van afsondering in die woestyn.
In hierdie tyd bely jy ook jou eie beperkthede.
Pier Paolo Pasolini se film Theorem (1968) gebruik Die Bybel, Mozart se Requiem, Rimbaud en natuurlik Dante met Terence Stamp as die besoeker wat almal se lewens verander.
Die motto’s draal in die dialoog met die musiek wat alles bind. Met berg Etna as ‘n simbool van onheil. Die tydloosheid van die spirituele word geplaas teenoor politieke onreg en uitbuiting in Milaan.
In die film is die vader ten slotte soos ‘n Christus-figuur, alleen in die woestyn vol selfverwyt en boetedoening.
Theorem beteken ook om te kyk.
Die vis na regs boei my.
By Cloete is daar verwondering oor hoe die onheilige heilig word, beklemtoon Taljard:
hoe spring ek oor die afgrondelike
dun afstand tussen
soma en pleroma
ek word gedryf tussen Karnaval en Lent
‘n wrede uitputtende geskarrel
(170)
Dieselfde spanning van heilig en onheilig vind ons in Theorem.
Tussen aktiveer liminaliteite.
III
Uiteraard is Mikhail Bakhtin ook hier tersaaklik: Rabelais and his world (1984/1941). En Marlies Taljard aktiveer sy werk saam met kunskenners wat uitgebreid oor hierdie skildery geskryf het.
In die bekende rolprent The Matrix (1999) is daar ‘n keuse tussen die rooi en blou pil. Die rooi pil representeer waarheid, kennis, vryheid. Die blou pil veiligheid. Neo (Keanu Reeves) kies die rooi pil wat Morpheus (Lawrence Fishburne) vir hom aanbied. Die Sci-fi-film deur die Wachowskis bevestig argetipes.
Oor hierdie film sou ‘n mens veel langer kon skryf, maar vandag weer gekyk en geluister ná Žižek, wat my opnuut attent gemaak het op hierdie spanning in The Pervert’s Guide to the Cinema.
Daardie wonderbaarlike filmstudie uit 2006, wat elke keer iets anders na vore bring.
IV
Marlies Taljard se uitsonderlike artikel laat ‘n mens nuut kyk na hierdie skildery. En na Cloete. Entelegies (van die Grieks entelecheia) is ‘n term van Aristoteles, wat dui op die aktualisering van potensiaal tot perfeksie …
Joan Hambidge
Kaapstad
8 Maart 2026
Endnoot:
Soma of pleroma
Ontdek ‘n foto van jou,
skrywer van vele kosboeke
(daar sit jy so ewe serp om die nek)
sommer hier by my aan’t huise,
verplaas in die fantasie
met toe teenoor nou.
Die menu van onse liefde
verkeerd vertolk: die entrée
gesien as ewig-durend;
helaas bitsvinnig beweeg tot kouekos
of tans beskikbaar nie,
‘n winterdis dalk te eksoties?
En nou vereffen net stomme ou ek
daardie rekening van uit-eet:
klein take-aways wagtend
in my yskas vir uitgooi, uitsmyt
of vir ‘n bedelaar, dalk jy;
nes die leser onbereikbaar.
Alles opgeteken in hongersnood:
kom terug sodat ek weer aan jou
kan peusel, jou heerlike lyf proe …
Genot, ekstase, voor die liefdesdood.
© Joan Hambidge
