(Geen voorbladfoto van uitgewers ontvang.)
Resensie: Seine deur Koos de Wet. Naledi, 2025. Isbn: 9781067 235086
Resensent: Joan Hambidge
I
So word Koos de Wet se bundel Seine bemark:
Elke gedig sein as’t ware aan die leser ’n boodskap vanuit ’n unieke agtergrond. Dit vloei soos lig op die maat van ’n komposisie geskoei op ’n ongewone kyk na dinge, byvoorbeeld ’n “doringhoutslee” waarop ’n bosveldkersvader reis. Die digter verras en verruk deurgaans terwyl hy die boustene van poësie toepaslik gebruik om die verskillende seine as ’n eenheid aan die leser te bied. Aspekte van geloofsoortuiging, natuur, mense en die digkuns word deur die digterlike woord besweer en gevier teen die agtergrond van interessante plekke en gebeure.’n Skeut spesery van filosofiese inslag word gereeld geproe.
Top of Form
En verder op die internet staan daar:
’n Kragtige nuwe digbundel wat die alledaagse verander in iets heilig en helder. ’n Filosofiese geur lê oor elke gedig, subtiel maar trefseker. ’n Bundel vir liefhebbers van poësie wat dink, voel en ontdek.
Op die agterblad: die digter verras en verruk.
Nou sal die ingeligte poësieleser dink hier is ‘n nuwe bundel van T.T. Cloete indertyd, wat met al die temas waarmee Koos de Wet werk, aanskoulike en aangrypende verse gelewer het. Kragtig is ‘n term wat ons net gebruik vir ‘n groot digter.
Wat gebeur in hierdie bundel?
Reise van die Andes tot Magoebaskloof; dan Egipte en die Hottentotshollandberge; Kaapstad teenoor Skukuza tot in Interlaken …
Dit is duidelik dat die digter baie gelees het, ver gereis het, Die Bybel ken, maar die aartsvyand van die digkuns is hier te siene:
Die gedig word verduidelik en ‘n goeie gedig doen sy eie praatwerk.
D.J. Opperman se waarskuwing aan jong digters dat filosofie die vyand van die digkuns is, kan ons hier sien. Opperman was self ‘n filosofiese digter, maar ‘n jong, beginner moet eerder beeldend en konkreet werk. En al is jy laat in jare, word jou digterlike ouderdom bepaal deur die debuut.
Die motto uit Dead Poets Society daardie wonderbaarlike film van 1989 met Robin Williams as die onderwyser, word aangehaal:
But poetry, beauty, romance, love are things that keep us alive. Hoogs ironiese woorde wanneer ‘n mens die gebeure in hierdie film weer bekyk.
Die verskillende bundeltitels Skryflampstrale, Heiliger pulse, Grondgonse, Spreiligte, Weerkaatsmaats, Flikkers gooi, Gedenktekens en Soeklig verpak die gedigte.
In die openingsgedig word die “seine tussen lyne” aangehaal.
In die vers “Die mark” (14) verklap die digter sy ingesteldheid. Dit is hier duidelik dat hy die meer toeganklike vers verkies.
Daar is wel gedigte wat (dalk) werk, veral wanneer die digter nie preek of filosofies is nie, soos in “Hanekraai” (17) na Daniel Hugo, “Die drie bome” (26), “Bly net by” (32), “Drenkeling” (43), “Pyn” (45), “’n Harley-tatoe” (51), “Die voet- en mondskilder” (52), “Sossus” (75) – behalwe van die herhaling van die en –, “Bloedmane” (77); dis gedigte vir die gewone leser wat “mooi verse” wil lees soos hierdie een:
Groen oë
Die vreugde van ons liefde lê
smuk in jou groen oë
daardie stil aand van geluk.
Dit skep applous in groen verheugd
as die branding in my are daardie oë beleef:
‘n Volheid van vrede in groener vreug.
(67)
Vermy die woord siel, wil ‘n mens tog vra of maklike ryme: kraai / getraai (“Die regte besluit”, 27).
“Astro personae” (95) tree onwillig in gesprek met Wilma Stockenström se gedigte oor die wentelbaan. Of Johann de Lange se gedigte oor sterre.
II
Hierdie leser was nog altyd ‘n ondersteuner van véle en teenstrydige stemme. Dis eweneens belangrik dat kleiner uitgewershuise stemme opvang, maar dan met kundigheid en raad.
Verpligte leesstof bly Cloete se blokboek oor die digkuns, Groot verseboek en A.P. Grové se Woord en wonder.
Een klik op die internet en die regte aanwysing is by jou. Hoe skryf jy ‘n sonnet, ‘n haikoe, ‘n kwatryn, ‘n vrye vers, ensomeer …
Vorme van die digkuns wat ‘n digter kan ontgin sodat die persoonlike ervaring meer word as die insident of geleentheidsvers vir ‘n kind op 21. Dit is ook Cloete wat in die poësiekroniek in Die Afrikaanse literatuur sedert sestig wys op die gevare van swak bundels aanprys (289). Hierdie kompendium het in 1980 verskyn by Nasou. Saamhorigheid dalk? Mense wat mekaar te goed ken?
III
Terloops, dit is André le Roux nie Andre nie; diskant dalk lees deskant; lydingstyd moet eerder lydenstyd wees.
Vir wie skryf jy jou gedigte en gaan kyk gerus watter ikoniese digter word in Dead Poets Society gehoor.
https://en.wikipedia.org/wiki/Dead_Poets_Society
https://en.wikipedia.org/wiki/O_Captain!_My_Captain! Besoek 10 Maart 2026
Dis bepaald nie aangenaam om ‘n uitgewershuis of ‘n digter reg te help wat baie gelees en gereis het nie.
Dis soos ‘n aanmaning van SARS. (Hoe lui die idioom nou weer? Daardie een oor die wet van Transvaal …)
Of wyn wat gekurk is.
En dieselfde uitgewershuis het vir ons Nogtans vir die bysiende leser en W. J. Henderson se puik vertalings Briewe van heldinne: Ovidius se Heroïdes uitgegee.
Ons verneem die digter is reeds op reis met ‘n tweede manuskrip, ‘n afgetrede man in die regs- en die finansiële wêreld. Soos daar wette is in daardie arena, geld dieselfde vir die digkuns.
Hopelik sal ‘n strenger leser (keurder) kan help, veral in hierdie tyd waar daar soveel uitstekende digters publiseer. Te veel om op te noem. Gaan kyk maar net na al die beduidende debute van die afgelope drie jaar.
Wat is die sogenaamde “unieke” agtergrond wat uitgesein word?
Dalk die voorblad waar die seine lyk soos die borrels in ‘n komiekstrip? En die motto uit Dead Poets Society kry ‘n wrange toon.
Is die (uit)blakerteks sommer deur die bemarkingsafdeling geskryf?

Jan dis net puntige uitwys daarvan dat ons na beter in gepubliseerde bundels moet streef en jou ‘n eie mening laat vorm.
Is hierdie ‘n resensie of ‘n lesing oor die digkuns?
Dankie Joan Hambidge! Ek ag jou opinie en waardeer die tyd wat jy daaraan spandeer het.
Seine is bloot vir mense wat toeganklike poêsie geniet. Ek skryf vir hulle en nie juis vir die akademia nie alhoewel ek groot respek daarvoor het. Ek is van mening dat ‘n motto se dieperliggende betekenis byvoorbeeld hierdie lesers minder sal hinder. As ons net die mense kan kry om weer gedigte te lees. Ook resensies en toepaslike webblaaie. Selfs bundels se voorblaaie imponeer nie meer nie.