La dolce vita
In ‘n Italiaanse restaurant abba
werkers ‘n tuna in, pas gevang,
vir sushi en vele visgeregte.
Nie besef ‘n tuna is so groot
en vreesaanjaend nie, die geskokte
oordeel van ‘n Freudienne.
Daardie nag in ‘n droom oor jou,
indertyd beskryf met goudvissies
in ‘n visbak: ‘n donker labirint.
Federico se La dolce vita eindig
met ‘n dooie vis in ‘n net:
die kykende, vreeswekkende oog.
‘n Christusbeeld tot by die ichtus
in sy film oor geloof, dood, paparazzi
en liefdesintriges: Anita Ekberg
soekend na melk vir ‘n katjie
in middel van die nag in Rome
met Marcello Mastroianni
woedend oor sy histeriese vriendin;
sy wil hom vaskeer met kos
in ‘n huwelik uitsigloos.
Sy vader (kortstondig op besoek)
vertrek in die nag: nogmaals
‘n afwesige vader gesinkopeer
met die selfdood en kindermoord
van die filosoof wat Bach en jazz
speel op ‘n orrel in die kerk.
Die waarnemer onseker oor sy plek
as skrywer en joernalis, onse Marcello,
met vele partye en danse soekend na geluk.
My digterlike lewensloop opgevang
in hierdie film, weer besoek op ‘n somersnag,
waar alles bly wentel totdat die woord
ons geskei het. Alleen toe by die Trevi-fontein
‘n muntstuk ingegooi woordeloos;
‘n kriptomnesia nou. Jou oë
agtervolg my steeds in ‘n geslote baan
met ‘n munt wat steeds dobber
op hoop dat ons mekaar weer sal sien?
Helaas is jy opgekerf vir sushi met wasabi
soos my begeerte – ‘n groter liefde,
een met woorde het jou verdring.
© Joan Hambidge, 2026
