I
Die Afrikaanse literatuur sedert sestig verskyn in 1980 by Nasou. T.T. Cloete is die eindredakteur en A.P. Grové (inleiding), Elize Botha (oor die prosa) en J.P. Smuts (oor die drama). Cloete se besprekings oor die digkuns bly steeds belangrike tydsdokumente.
Hy skryf byvoorbeeld oor J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê (1975) die volgende:
“Anders gesê: die digter se waan dat hy bewus met die taal speel, word illusie. Die taal self ruk hande uit, ontwikkel in ‘n onverwagse rigting. Die voortplanting van die taal word onder die digter se hande so kragtig dat hy daar nugtere beheer oor verloor en dinge ontstaan wat hy nie voorsien het nie” (1980: 261).
“Hierdie torring aan die taai knope van die taal (om ‘n beeld uit Raka te gebruik)”, sien Cloete raak. Die spel met die etimologie en semantiek sluit by Huygens en Donne aan. En Tristia.
Beeldkettings en betekeniskettings. Cloete wys ook daarop dat hy hoogs intellektueel en verfynd dig én tegelyk “pleinweg” en “platweg” dig (1980: 262).
Al hierdie kwessies kan ons op Cloete se digkuns van toepassing maak. Die digter sien iets raak in ‘n diggenoot en hierom is die bespreking so belangrik. Hy merk ook die eenvoud en gaafheid op in Jan Swanepoel se debuut My Rome brand so mooi uit dieselfde jaar. Met die “bedwonge ontroering” (1980: 263).
Opperman was uiters entoesiasties oor hierdie bundel en in my Honneursjaar het ons dit van alle kante beskou.
Opperman was ook duidelik daaroor dat so ‘n bundel eenmalig verskyn. Jy kan dit nie herhaal nie.
II
So klink die sentrale vers in Steyn se bundel heet dan:
Die grammatika van liefhê
Liefhê is ‘n tangkonstruksie
as eenwoord-samestelling ‘n abstraksie.
Die eenwoordsin-imperatief
is nypend ongrammaties: ”*Hê-lief!”
(So ‘n sterretjies, ontaalkundiges,
lig u toe dat ‘n sin ontaalkundig is.)
Lief-hê (s)kort dus ‘n onderwerp
en hê is – met onderwerp – onderwerp
soos wees, wat is word, aan deklinasie,
ouderwets, maar glo-nodig vir kombinasie.
Dus: ”Jy/hy/sy het-lief.” Korrek?
Nee, ‘n voorwerp ontbreek, naamlik ek.
Maar die eerste persoon word verbuig,
as lydende voorwerp raak ek my.
“Jy het-lief my.”?
Nee: Het en lief word deur my geskei.
Alleen as ek vra: ”Het jy my lief?”
kom jy my naby – byna-byna.
Hét jy dit nou? Begryp jy?
En het jy nou my
en het jy my nou
lief, of liefgehad? Of sou jy, wou jy?
Is liefhet ‘n te “groot” woord vir jou, te lank?
Kort ons iets korters, met minder klank?
Iets soos min. Mín jy my?
Of is jy dalk my aan’t vermy?
Een min een, dag ek, maak twee
of reken jy een min een maak niks?
Iemand minus iemand gee niemand.
Een minus ‘n ander
min vinkel en koljander
saam-saam geeneen saam.
Die spel met een minus én die vinkel en koljander van die liefhê-proses waar die geliefde in taal iets anders word …
Een min een, dag ek, maak twee
of reken jy een min een maak niks?
Hoe hy van iets abstraks soos grammatika ‘n gedig maak, is werklik besonders.
Jana Luther se En nog WAT: Uit die woordeskat van Afrikaans het sopas verskyn. ‘n Leesplesier duisend.
Die mederedakteur van die WAT, maar ‘n besielende rubriekskrywer vir Die Burger en Media24.
Sy gee ‘n lang lys van erkennings. Sy skryf nie voorskriftelik nie. Inteendeel. Sy probeer verstaan hoekom mense skryf (of praat) soos hulle doen. Soos Johan Combrink ook deur die jare verduidelik het in rubrieke en in sy lesings.
In die rubriek “Die ingebore vonk” verwys sy na die begrip entelegie, ‘n begrip wat in Cloete se digkuns staan!
https://versindaba.co.za/2026/03/09/joan-hambidge-t-t-cloete-en-die-entelegie/ Besoek 23 April 2026
Die guillemet « » (letterlik dier klein Guillaume) verwys na die Franse lettermaker, Guillame le Bé.
Deur Cloete, Steyn, Luther (en woordeboeke) tot in die digkuns.
III
Gelykenis
Markus 4: 26
JdL
Teen latenstyd sketters
oor die sekel en simbaal
alweer in die binnesterym.
Eers die halm, dan die aar,
dan die vol koringaar.
Vroegoggend ‘n brief aan jou,
jy ja jy, wat my geleer het:
“Poësie is ‘n bloeiwyse.”
Eers die halm, dan die aar,
dan die vol koringaar.
Nademaal, nogtans,
opnuut word die sinoniem-
woordeboek ‘n blote rebus.
Eers die halm, dan die aar,
dan die vol koringaar.
Die apoteose (lees gerus
verheerliking) verloën
dié spel se ware aard.
Eers die halm, dan die aar,
dan die vol koringaar
Klinkklaar klink klik
die vers sy vele klinkers
kort voor sonsopkoms.
Eers die halm, dan die aar,
dan die vol koringaar.
L’envoi
Neem dit tog ter harte:
daar is geen digters nie,
seg onse Cussons en Neruda;
net ‘n digkuns soos koljander
eerder as ‘n kolokwint.
Skink ‘n dubbel-whizza
op die digterlike daad.
© Joan Hambidge
Joan Hambidge
Kaapstad
23 April 2026

Ek was nog altyd mal oor “Die grammatika van liefhe.” En ook van Wyk Louw se Ballade van die Bose: “Ken jy my nou, en ken jy jou?”