KLERE EN AL ONDER DIE WATERVAL
omring deur skurwe rotse
en godswonderlike gebergtes
twee pare voete
in ‘n bergpoel
in die weerkaatsing
is hulle steeds drie
totdat die waterval
oor die spieëlbeeld van gesin en sin rimpel:
die nuus op haar skouer ‘n kliprugsak
wat sy vir ‘n veel kleiner paar voete moet uitpak
soos ‘n avondpiekniek:
“was dit seer toe pappa doodgaan?”
© Charité Mouton, 2026
