oor die kunsmatigheid van intelligensie
Laatnag sit mens langs die lamp
wanneer slaap nie saak maak nie
wanneer die vuur as en koud geword het en
nie meer aangeblaas kan word nie.
Jy stuur ‘n vingergebed deur die gange van die sleutelbord:
‘n voorstel vir ‘n gedig
aan die self
op ‘n voorstelling van papier.
Die hande en oë raak moeg uiteindelik
vir die alchemie van die brein
die klein okkerneut tussen skedel en biodigitas
wat snipper, herhaal, snipper, herhaal,
stadig lêers bêre, dikwels verkeerd opvra en ontsluit.
Dis die brein wat simbole leweloos dokumenteer,
as winterkos stoor diep agter in ‘n donker kas,
toegewyd soos ‘n eekhoring.
Boonop wil die brein die masjien naboots,
beangs en beïndruk. Is daar van ons weggee?
Die masjien is verblindend vinnig om te versamel,
verorber, te orden, bereken,
om te vertolk en voorspel:
dit het die wêreldkorpus van syfer en taal opgeslurp,
en in ‘n stortvloed uitgespoeg,
miljoene breine verswelg in ‘n decennium horribilis
of twee. Terwyl die hart stilweg stof vergader
en dáár niemand inkom om af te stof en blink te vryf nie.
Is daar van ons weggeneem?
Maar kyk helder
tussen al die toepassings, algoritmes en kilheid deur —
Daar bly iets onbegryplik mooi aan menslike broosheid:
iemand wat by ‘n vermoeide gaan sit met begrip vir die stilte,
’n hand op ‘n skouer wat bemoedig,
die verlies van ’n ou hond, die reuk van stof in die reën,
die oggend wat breek in ‘n voël se refrein.
En dalk is dít ons redding:
dat ons, stadig en al struikelend,
nietig en onbeholpe
tog méér is as arbeid,
méér as ‘n koorsige soeke na doeltreffendheid;
méér en vérder as wat ons probeer vermag:
breekbaar en rotsvas —
tegelyk graniet en porselein.
© ND Cronjé, 2026
