Susan Smith verwerf in 1993 die graad DLitt oor feminisme in die Afrikaanse letterkunde. In 2002 ontvang sy die Premierstoekenning van die Departement Kuns en Kultuur van die Oos-Kaap vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap en in 2012 die Orde van die Goue Pen vir bevordering van Afrikaans en die Orde van die Goue Kruik vir gemeenskapsbetrokkenheid (beide van Cordis Trust). Susan Smith is tans medeprofessor en departementshoof van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen. Haar eerste gepubliseerde gedigte verskyn in 1997 in Nuwe Stemme 1 en van haar gedigte word daarna in verskeie publikasies opgeneem, o.a. Versreise, Versjoernaal, Pret met Poësie, Vonkverse 1 & 2, Groot Verseboek en ’n Nederlandse bloemlesing, De Onbestemmelingen, waarin een van haar gedigte deur Gerrit Komrij in Nederlands vertaal is. Haar debuutbundel, in die afwesigheid van sin, verskyn in November 2012 by Protea Boekhuis.
|
sinkry
in jou het ek sin
gekry, beminde, en jy
in my
ons behoort aan mekaar:
ons is mekaar s’ne
snags as ons slaap
hou ons hande vas
voel ek my palm
in jou palm pas
ek het jou lief
soos hoe dit nog altyd was
ons is mekaar se eindes
en beginne
ons voltooi mekaar
se sinne
(Uit: in die afwesigheid van sin, 2012, Protea Boekhuis)