Posts Tagged ‘Johan Lodewyk Marais’

Nuwe bundel. Johann Lodewyk Marais: Ondertussen

Sunday, August 9th, 2020

Johann Lodewyk Marais

Ondertussen

Omslag

Met Ondertussen verras Johann Lodewyk Marais die leser met diverse temas wat wissel tussen Oos -Vrystaatse jeugherinneringe; reise en belewenisse deur Afrika en Europa; liefdesvinjette en lykdigte. Die spreker in die verse word gids en getuie van die sirkelgange van verlede en hede en lei hy die leser deur verskeie stemminge: melancholie, sensualiteit, die verlange na liefde asook skerp humor.

Marais is ’n digter van die oorwoë woord en dikwels word die spel met klank ingespan soos gesien in die sonore kwatryn, “Ou wyn”:

   In ’n welbedagte bottel rooiwyn

   op die tafel het skoon sonlig verskyn,

   want in elke druppel uit dié wingerd

   loop ’n geheime Bolandse tydlyn.

Ondertussen is ’n evokatiewe bundel wat getuig van ’n berese, maar ook peinsende digterstem. Gisela Ullyatt, digter en letterkundedosent

Oor die outer

Johann Lodewyk Marais studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2001 ’n DLitt-graad oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 die graad DPhil in Geskiedenis behaal met ’n proefskrif oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert 1963. Hy het vroeër onder meer ’n MA-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal, waarvoor die Marius Jooste-medalje aan hom toegeken is. Hy het reeds elf digbundels gepubliseer en het die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2010) ontvang. Hy het ook drie poësiebloemlesings saamgestel, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek. Sedert 2003 is hy ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Pretoria. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter.

Naledi 2020. Prys: R 240.00. Formaat: SAGTEBAND • 84 p • FORMAAT 213 X 137MM. ISBN: 9781928518556

Johann Lodewyk Marais aangewys as feesdigter vir Innibos se 10de verjaarsdagviering

Monday, May 13th, 2013

 

Nelspruit se Innibos-kultuurfees vier vanjaar hul 10de bestaansjaar en om dié geleentheid nog daardie tikseltjie ekstra plesier te gee, is dit die afgelope naweek bekend gemaak dat Johann Lodewyk Marais as feesdigter aangewys is. Die aanwys van ‘n feesdigter is natuurlik wêreldwyd ‘n algemene instelling met feeste, maar na die beste van my wete is dit die eerste keer dat daar ‘n fees hier ter plaatse is wat dié prysenswaardige stap neem.

En wie beter as Johann Lodewyk Marais?! Veral met ‘n fees soos Innibos waar hy met sy besonderse aanslag en tematiek soos ‘n loerie in die bos nommerpas vir dié feestelikheid gaan wees …

Volgens die berig wat in Beeld verskyn het, die volgende: “Benewens gedigte wat hy (Marais) spesiaal vir die fees geskryf het, sal hy op Vrydag 28 Junie om 11:00 ook in ’n program optree saam met Andries Bezuidenhout, Elize Cawood en Luna Paige. Bywoning is gratis, maar daar is slegs 100 plekke beskikbaar. Die geleentheid word aangebied by die Stoep-restaurant, net langs die feeskantoor. Cawood sal tydens die geleentheid van sy gedigte voorlees en Bezuidenhout sal ’n onderhoud met hom voer. Die program sal afgesluit word met Paige wat toonsettings van sy werk sal sing.”

Vreemd genoeg kon ek nêrens op Innibos se amptelike webtuiste iets van hierdie vreugde te lese vind nie; tensy ek rakelings gekyk het, natuurlik. ‘n Mens kan maar net hoop dat hulle nog daarby sal uitkom om die groot klok uit die stoor te haal en ordentlik blink te vryf vir dié feestelikheid. Die volgende aanhaling uit die organiseerders se feesbrief reflekteer darem in ‘n mate tog hul ingesteldheid: “Feeste het toenemend belangrik geword vir die ontwikkeling en voortbestaan van alle genres van kuns – veral in Afrikaans. Verder speel feeste ook ’n baie belangrike rol om Afrikaans as taal en ons kultuur te bevorder en te ontwikkel. Dit dien as platform vir kunstenaars om hulle kuns uit te leef en ook hul brood en botter te verdien.”

Vir jou leesplesier volg ‘n gedig van Johann Lodewyk Marais; ‘n gedig wat hy ‘n week of wat gelede op sy FaceBook-profiel geplaas het.

*

INNIBOS

Drie vroue dans ‘n Vrydagles
toe-oë, in capulanas
wat rooi en swart en plegtig pas
en die ritme van hulle dye hou.

“Hý wou sien,” sê Dan Dlamini
en sy vinger wys na my
wat volg hoe die vroue stof trap
in ‘n besielde raserny.

Die aanstigter slaan op ‘n trom:
al skriller en meegevoer
skuifel die voete uit die kring
en word die ritueel volvoer.

 

© Johann Lodewyk Marais