
Soos voorheen berig word die 2010 Nobelprys vir Vrede môre aan die Chinese digter, Liu Xiaobo, in Stockholm oorhandig. Vanweë die 11-jaar tronkstraf wat hy tans in China uitdien vir sy betrokkenheid by die publikasie van die sogenaamde Charter 08, ‘n dokument wat oor die menseregtevergrype in China handel, is hy egter nie in staat om dié luisterryke geleentheid by te woon nie. Vandaar die internasionale versoekskrif waaroor ook vantevore op dié webblad berig is.
Nou blyk dit egter dat dié bekroning selfs meer verdeeldheid in internasionale geledere teweeg bring as wat die Sweedse Akademie ooit kon voorsien het. Na aanleiding van die protesaksie jeens die Chinese regering het hulle naamlik hul (diplomatieke) spiere gebult en meteens is daar nie minder nie as 18 lande wat môre se verrigtinge in Stockholm gaan boikot. Luidens die BBC-berig het Jiang Yu, die Chinese Minister vir Buitelandse Sake, soos volg in ‘n verklaring reageer: “Those at the Nobel Committee are orchestrating an anti-China fuss by themselves. We are against anybody making an issue out of Liu Xiaobo and interfering in China’s judicial affairs. We will not change because of interference by a few clowns.” Volgens haar geniet China die steun van meer as ‘n honderd moondhede.
Lande wat by dié boikot-aksie betrokke is, is Rusland, Kazakhstan, Colombia, Tunisië, Saudi-Arabië, Pakistan, Serbië, Irak, Iran, Viëtnam, Afghanistan, Venezuela, die Filippyne, Egipte, Sudan, Ukraïne, Kuba en Marokko.
Sri Lanka en Angola het nie op die uitnodiging om verteenwoordigers na die plegtigheid te stuur, reageer nie. Vier-en-veertig lande het egter wel te kenne gegee dat hulle by dié bekroningsgeleentheid verteenwoordig sal wees.
Nou ja, toe. A luta continua, of wat praat ek nou?!
***
Sedert gister is daar omtrent ‘n stewige gerf bydraes onder die bloggers geoes. ‘n Eerste bydrae – oor die dood van Eugène Marais se vrou – is van Amanda Lourens ontvang; Desmond Painter skryf oor John Lennon wat gister 30 jaar gelede oorlede is; Johann Lodewyk Marais vertel van kerstyd by Mont Pelaan en Lize Viljoen plaas ‘n gedig oor die winter se eerste skote.
Ten slotte – by Fotobeeld is Trienke Laurie se albums geplaas.
So, maak of jy mal is en geniet dit alles. (Sjoe, hoe rym ek nou!)
Mooi bly.
LE