weglêbrief vir gedig
Liewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
In die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
Oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
En geheime kamers waar galge getroon het,
Van die een masker na die ander
Apestreek of apostroof of begrafnis.
[…]
Jy is die enigste een wat ek ooit toegelaat het
in die intieme verloorplekke, om sáám met my
en die geliefde onder die laken te lê
met jou voete soos skurwe metafore.
© Breyten Breytenbach
Uit: die beginsel van stof, 2011.

Breytenbach het skielik oud geword: Toe ek hom drie jaar gelede in Protea Boekwinkel gesien het, was sy hande nog nuuskierige konyne op die stoelleunings gewees. Maar Donderdagaand, by die bekendstelling van sy nuwe bundel in Wellington, was sy oë moeg. Moet egter nie dink dat hy klaargefight is nie: Alhoewel sy nuwe bundel, die beginsel van stof, getuig van ‘n deurleefde doodsbewussyn, bly hy steeds stoutgat vir die leser tussen die versreëls deur knipoog. Hy speel steeds onverpoos met woorde – miskien nou meer as ooit tevore, omdat hy die tyd het om hulle soos kleintydfoto’s langs mekaar te sit en te sien hoe dié een darem baie vet geword het, te onthou hoe dáái een per ongeluk met die verkeerde boetie getrou het, hoe lelik dié een se kinders toe uitgedraai het.
Breytenbach het Donderdagaand dikwels die skemerende lug ingekyk, so asof hy die wind kon sien. Hy’t stil en werfhanerig op ‘n turkoois bank in die agterjaart van die Breytenbach-sentrum gesit met Lousie Viljoen aan sy sy. Sy’t die gesprek gelei en Antoinette Kellerman (haar los pers toppie het golwe in die wind gemaak) het van die nuut-gebundelde verse voorgelees. Haar voorlesings was deurwinter gewees soos goeie whiskey en Schalk Joubert se imrpomptu begeleidings op die elektriese en baskitaar was aandoenlik.

“Metafore behels die herkenning van die moontlikhede van die onvoltooide,” het Breytenbach tydens sy gesprek met Louise Viljoen bespiegel terwyl die sonlig agter die berge endgekry het, “en hulle is die plofstof van die poësie, die vesels van taal”. Ek wonder of Ricoeur ooit enige van Breyten se Franse vertalings gelees het? Hulle sou lekker om dieselfde vuurtjie kon sit. Hieronder volg enkele van my gunsteling metafore uit die nuwe bundel:
- “die hond se blaf ‘n donker vlieër / weggewaai in die donkerte” – “‘n voetnoot onder die geskiedenis”, bl. 11.
- “al wat oorbly van laatsomer se rooi knewels / in die granaatboom is leë dope / soos skulpe sonder see” – “jaarbrief”, bl. 53.
- “is ons die vel van die aarde / wat met die jare sal plooi / tot verborge patrone van liefde?” – “die hart-stér”, bl. 65.
- “trek die laken oor die onbetaamlike wit wond / van die droom wat teen jou oë kom klop het / soos ‘n bloederige duif” – “brief (oorgang)”, bl. 77.
- “ek wou nog vir jou sê / dat ons jou as toe uitgestrooi het / […maar dat] miere nie hoedjies daarvan sal kan maak / vir hulle nagmaaldienste nie” – “die uitstrooiing van die as”, bl. 179.
En oor die dood raak Breyten sedert die ysterkoei moet sweet steeds nie uitgeskryf nie. Hy’t Donderdagaand Waiting for Godot aangehaal om sy bemoeienis met ons onverdringbare sterflikheid te illustreer: “I cannot go on. I must go on.” So tussendeur die verrigtinge het die wind skielik erg opgekom en ‘n stofwarrel het deur die gehoor getrek. Breyten het in die donkerte verdwyn soos die wind die kollig omgewaai het.
die guns
O Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom –
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma . . .
Maak hulle wakker sodat hulle nog net één keer
mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik
Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok –
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien – nee voel
hoe bloos ons aarde soos ‘n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek
Moenie snoep wees nie, o Here – gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ‘n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.
© Breyten Breytenbach
Uit: die beginsel van stof, 2011.

Woordeloos ontroer. Melanie [xxx]
Vir Die Volksblad geskryf – terwyl ons nog verskillende reaksies op een boek kan plaas:
Daar is maar een Breytenbach
2011-03-07 10:05
Joan Hambige
DIE BEGINSEL VAN STOF deur Breyten Breytenbach. Human & Rousseau. Sagteband. R170.
DIE BEGINSEL VAN STOF deur Breytenbach is ’n ryk geskakeerde digbundel waarin die digter se talent om lewe en dood saam te stel, asof dit een saak is, na vore kom. Die taalvermoë in hierdie bundel is dan by uitnemendheid ryk en soos Henning Snyman in die binne-flap skryf: “As Afrikaans ’n segsman in poëtiese vorm nodig gehad het om die taal se literêre en seggingsmoontlikhede opnuut te bewys, hier is dit”. En Snyman is ’n gevoelige leser van die digkuns wat die semantiese geledinge van simbole en primordialiteit kan ontsyfer.
Breytenbach is ’n waterskeidende digter en ’n unieke stem: epigone en nabootsers klink gewoon laf (en flets) in pogings om hom na te boots.
Sy unieke metaforiek, sy besondere ontginning van idiome en uitdrukkings, sy inspeel op ’n tradisie wat buite die Afrikaanse letterkunde lê, maak van hierdie bundel ’n genoeglike ervaring. Hy is ’n verkleurmannetjie en hierom die verskillende identiteite en maskers. Reeds die voorblad suggereer iets hiervan: dit heet “autoportrait ‘jour’”. ’n Voël in ’n manspak of uniform? ’n Kraai met die alsiende, draaiende oog? Die kraai wat die oë kan uitpik? Die raaf van die dood? Die verbeelding hardloop: nom de plume? Pluim? Veertjie in die hoed? Die Woordfoël (fool) wat ons aantref as ’n alter ego in die bundel. Hy roep homself ook Bitterblaf.
Die selfportret is egter ’n belangrike kode vir die leser van die bundel. In “jaarbrief” (bl. 53) vind ons ’n voorbeeld van die digter se verbluffende beeldvermoë. Die bundel het te make met veroudering:
die whisky in my vaatjie het verouder
tot ’n soet amandelsmaak. Die wyn is diep
en rooi en groet my met die vertroudheid
van gedigte wat ek vir die eerste keer lees (bl. 55)
Daar is dus ’n terugkeer na die jonger digter en ’n bestekopname van ’n ryk, beleë digterskap. Die hele wêreld word as ’n mandala ervaar (bl. 57).
“Soos ontvleesde klinkers in ’n stanza” (bl. 64) word daar opgemerk en die spel tussen werklikheid en digkuns loop deur die bundel.
Lykdigte soos “Boetman, boetie, broer” vir Chris Louw (bl. 69) en ’n gedig vir Van Zyl Slabbert (“Clifton”, bl. 79) ontroer.
“kroos” (bl. 72) handel oor sy familie, die ontslapenes en lewendes: met die digter wat konstateer dat skryf sy job is.
“brief (oorgang)” is ’n somber selfgesprek en die meeste verse bekoor om die ongelooflike beelde wat die digter skep. Vele van die verse is ars poëties en gedigte buig dikwels terug op die skryfproses. In “veertien sonnette” bewys die digter hoe eiesinnig hy met hierdie vorm kan toor.
’n Mens vind dikwels deernis, maar ook woede – veral teen die huidige politieke misdrywe en Mbeki word by die naam genoem. In “nomadismes” vind ons fragmente, bykans haikoe-agtige verse, waarin die digter klein lewenswaarhede vir ons aanbied.
Daar is net een Breytenbach: weergaloos in sy besonderse beeldvermoë en sy voortdurende soeke na nuwe woorde, nuwe gedigte waarin die lewe en dood saamgedig en selfs ómgekeer word.
Op die agterblad word die impak en belang van die digkuns aangrypend weergegee:
Liewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
in die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
en geheime kamers waar galge getroon het,
van die een masker na die ander
apestreek of apostroof of begrafnis. Wie ken my beter? (“weglêbrief vir gedig”, bl. 34).
Verse soos “al die gewig van woorde” (bl. 41) en “die voor-gedig” (bl. 42) tree in gesprek met ander verse waarin die skryfproses ontmasker word: die blote buitelyne van ’n gedig is dit maar. Terselfdertyd is dit in die gedig, soos Auden se dictum dubbelsinnig pleit, (“For poetry makes nothing happen”) waar die heling tog gebeur. Die skryfdaad word ook aan ekskresie gekoppel (“onthougoed”, bl. 59). Die talle selfgesprekke is aangrypend en ’n bewys dat die digter besig is met ‘n soort digterlike testament.
Dit is een van daardie bundels waar ’n mens bykans uit elke gedig iets wil aanhaal om jou ekstase te verwoord. Hierdie bundel word opgedra aan die ontslape broer Basjan wat al in ander bundels besing is en aan wyle Van Zyl Slabbert.
– Joan Hambidge, professor in Afrikaans en kreatiewe skryfkuns, Universiteit van Kaapstad
Gunsteling digter ooit:)Ek wil net weet hoekom die bekenstellings altyd in die week is, wat van ‘n Vrydag? Ek is van Wellington , maar ‘n student by Tygerberg so kan dit nooit bywoon in die week nie! *
Jong Pieter is vandag 22 jaar oud. Geluk!
Louis: Kan jy asseblief namens my ‘n kopie van die bundel aan Leon Retief laat besorg? (Ek weet nie waarvandaan hy skryf nie. Hoop net nie dus uit Nieu-Zeeland nie!) Ek sal met jou kom afreken. Vir die boek, bedoel ek. Trouens, siende boeke plek-plek onbekombaar duur geword het wil ek graag vir jou vra om so ‘n tiental bundels beskikbaar te maak op my onkoste. Dankie. Blackface.
Dankie Pieter. Ek is groen van jaloesie – dis moeilik rn duur om Afrikaanse digbundels hier te kry en ek wens werklik en ek hierdie bundel lees!