Desmond Painter. Oor Marthinus Versfeld gepraat

Marthinus Versfeld

Marthinus Versfeld

‘n Resensie van my oor die heruitgawes van Marthinus Versfeld se Our Selves en Oor Gode en Afgode het gister in Die Burger verskyn. Nee, eintlik nie ‘n resensie nie: Versfeld se boeke hoef nie meer ‘geresenseer’ te word nie. Hulle is keiharde klassieke in die Suid-Afrikaanse lettere. Hulle is boeke in die volle, self-genoegsame sin van daardie woord, werke wat nie ag slaan op die onderskeid tussen literêre en ‘akademiese’ literatuur nie. 

Versveld was ‘n denker, ‘n skrywer, ‘n wysgeer; hy was ‘n aardse intellektueel, ‘n metafisiese kok, ‘n kraaikwaaie weerhaan vir die tye waarin hy geleef het. Akademiese werk in die geesteswetenskappe word toenemend geprofessionaliseer, gestandaardiseer en gesteriliseer. Die funksies van die ‘openbare intellektueel’ word verskraal tot die verskaffing van mediavriendelike klankgrepies oor die verbygaande dit-en-daai. Sou Versfeld in die hedendaagse omgewing van die korporatiewe universiteit hoegenaamd aanstelbaar en bevorderbaar gewees het? ‘n Mens twyfel amper…

Om Versfeld vandag te herlees is om herinner te word aan wat die denke kan vermag, wat universiteite eintlik behoort te wees, en hoe ‘n onpretensieuse, kompromislose en menslike intellektueel lyk. Protea Boekhuis verdien beslis groot lof vir hierdie heruitgawes van Versfeld se boeke. Benewens Oor Gode en Afgode en Our Selves het heruitgawes van Pots and Poetry, Klip en Klei en Die Geneukery met die Appelboom ook al verskyn.

Terloops, onthou julle daardie pragtige gedig, ‘Boland, ‘n reisrefrein (by die roudiens vir Marthinus Versfeld)’, wat Breyten Breytenbach (oftewel, Jan Afrika, in die bundel Papierblom) oor Versfeld geskryf het? Dis ‘n langerige gedig; ek plaas net twee van die strofes hier: 

 

***

 

ou wysgeer, ons het jou gedenk met die geheue aan knoffel

en klei en pampoene onder die tentdoek van jou kis

wanneer die asem weggeneem word

want daar was geen genooide of gasheer meer

en ons was bly om by jou te wees

in die uur van die aangesig van die langwag

dit was nog nie nag nie

kyk verbygaan is maar ‘n verduistering van gedagte

wanneer jy stip op die dood konsentreer

***  

 

ou sterwer, mag die paddas jou onthou

mag jou oë aljaar soeter word en voller van die kennis van stilte

mag jou vriende wyn saambring vir die kuier

want wyn maak die mens se hart bly

mag die tentdoek wat jy gespan het deurtrek bly

met die geur van sederhout en malvablare en knoffel

                en pampoen

mag die sterre en die berge en die verbygaan oor jou en jou gesin bly waak

nou en môre  en elke môre en aand

en elkeen van daardie tye se langwag

  

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Desmond Painter. Oor Marthinus Versfeld gepraat”

  1. Breyten Breytenbach :

    Beste Desmond,
    Baie dankie vir die tydige herinnering aan die lewe en denke van Oom Martin, oftewel Oom Tao. Ek is veral bly, en dit volkome eens met jou, dat sy werk nie net in die oënskynlike afsondering van die ‘filosofie’ gesien moet word nie, want hy was ‘n skrywer in al die sinne van die woord. Hy was oor ‘n lang tydperk intiem bevriend met Van Wyk Louw. Ek weet nie of dit algemeen bekend is nie. En hy het vir Dirk Ligter geken. En bravo vir die heruitgeewerk aangepak deur Protea!

  2. Hallo Breyten — ja, dit bly darem ‘n voorreg om Versfeld te lees: sy essays is soos bruistablette vir die brein! Ek het sy werk kort voor sy dood in 1994 ontdek, en het hom dus nooit self kon ontmoet nie. Ek dink JC Steyn skryf in sy Van Wyk Louw-biografie oor Versfeld se vriendskap met Louw, maar ek is nie mooi seker nie.

    Van biografiee gepraat: dit is jammer iemand het nog nie ‘n ordentlike biografie oor Marthinus Versfeld geskryf nie. Dis ongelooflik, die goed en die mense wat ons bereid is om van te vergeet! Wie gaan Kannemeyer opvolg as liter^ere biograaf? Internasionaal is die biografie tog ‘n lewendige, dinamiese genre. Die letterkunde- en geskiedenisdepartemente aan ons universiteite kan mos saamspan en kursusse in biografiese navorsing aanbied?

  3. marlise :

    Desember 1968. Dis die jaar toe ek Klip & Klei aangekoop het & dit was ‘n boek soos kos vir die hongerte en nuuskierigheid van my jeugjare. Het die boekie so pas uit die rak gehaal hier, met ‘n dowwe donkerblou omslag. Prys: R1.95.
    Soms het ek iets destyds afgemerk in hierdie boek, soos: “Hy wat kan dig, of verf, of skryf, of ‘n akker mooi omspit raak van homself los. Hy stel hom daar in die ding wat hy gemaak het, en hy skep sy dwange in vrye handeling om. Om iets te doen, is om van jouself af te doen.” (bls 46)

  4. Breyten Breytenbach :

    Desmond en Marlise: Ek kom nou net terug uit Abu Dhabi. Daar het ek o.a. geluister na die betoog van ‘n jongerige Franse filosoof (sy naam ontgaan my nou) verbonde aan die Sorbonne filiaal wat nou na daardie stadstaat ‘oorgeplant’ is. (Die Louvre, Guggenheim-museum, en NYU bou eweneens replikas van hulself in die woestyn). Sy besinning was oor die span-, spannings- en ontspanningsgrense tussen die filosofie en fiksie. Hy het veral gepraat oor Rousseau. En ek moes toe dink: hier in die plaaslike pampoenland het ons mensdenkerdromers soos Versfeld gehad wat geen duim hoef terug te staan vir die groot geeste wat dien as verwysings nie.
    En natuurlik het ons ‘n Versfeld biografie nodig! Maar verkieslik geskryf deur ‘n mede-verkenner of ‘n opvolger, amper soos Plato vir ons Sokrates bewaar het. Wil jy dit nie doen nie, Desmond?
    En dankie vir die wonderlike aanhaling, Marlise. Daar het ons nou die samevatting van ‘n praktiese Zen benadering: die verruiming van ‘skeppings’aktiwiteite help om die pitsweer van egoverkniesing te laat krimp.

  •