Andries Bezuidenhout. Koffie en toast met peanutbotter op

Einde van die maand. Geen vrugte en joghurt nie. So, vanoggend se ontbyt laat my aan Koos Kombuis dink. Eintlik sy vorige gedaante, André Letoit. Spesifiek die reëltjie “koffie en toast met peanutbotter op”. Dit kom uit die song Valerie, effe van ʼn rip-off van dele van “If I were a capenter, and you were a lady”. Maar ten spyte daarvan, bly dit een van my gunstelinge op daai kasset Ver van die ou Kalahari, waarmee ons almal in die laat-1980s gesmokkel het.

Loop ook nou die dag vir Dineke Volschenk raak. Sy’t mos die backing vocals op die kasset gedoen. So eenvoudig, daardie kasset. Stemme – Koos en Dineke s’n – en kitaar. Geen verwerkings nie. Maar van die heel beste songs wat nog ooit in Afrikaans geskryf is. Lekker, soos koffie (kitskoffie, hiervoor) en toast met peanutbotter op. In daardie tyd ook so subversief soos grondboontjiebotter wat aan jou verhemelte vassit.

Valerie van Rondebosch
Met die lag en stem soos groentesop
Sy maak vir my sulke lekker kos
Koffie en toast met peanutbotter op

Sy’s in ʼn woonstel bo die Main Road
Karre ry heelnag verby
Maar Valerie, sy kom van Goodwood
Dis hoekom sy so lekker vry

Sy’t grootgeword in Van’s Cafe
Sy wys my al haar foto’s
Die mense dag sy’s ʼn take-away
Agter die till vandat sy so groot is

Haar voete is plat soos die Cape Flats
Haar gesig is ʼn Renoir-skildery
Ja, ek het Valerie so lief
My Valerie van Van’s Cafe

Valerie, my hart is nat
Waar jy verbygeskuur het
Maar Valerie, kind, weet jy wat
Ek wonder nou nog wat gebeur het

Hoekom slaan daai musiek uit die laat-80s my nou nog so tussen die oë? Bloot nostalgie?

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Koffie en toast met peanutbotter op”

  1. Desmond :

    Iets soos Swart September, van Niemandsland, oorrompel my nou nog. Maar dis ‘n vreemde nostalgie — vir tye wat ‘n mens eintlik nie mis nie.

  2. Andries Bezuidenhout :

    “Niemandsland” is monumentaal Desmond. Die songs, deels ook oor James Phillips se verwerkings.

  3. Desmond :

    Terloops, in Swart September sing hy: ‘Tjank maar Ragel, oor jou kind / die boere het hom doodgemoer.’ Dit het deur my kop gegaan onlangs toe die polisie vir Andries Tatane dood geslaan het. En op daardie stadium was Malema hoeka in die hof en het mense gedebateer oor die betekenis van ‘boer’…

  4. Andries Bezuidenhout :

    Ek hoor “boere” ook daar as polisie. Mooi lyn net voor dit: “En die vroue by die draad het eerste die gedruis gehoor…” En “September is die mooiste, mooiste maand. Viooltjies in die voorhuis en riots orals oor die land.” Kongres by Wits op die oomblik oor “Nation, Narration and Nostalia”.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Dis “Nostalgia”. “Nostalia” klink soos ‘n Russiese spioen se naam.

  6. Desmond :

    Ek wou daai kongres bywoon, maar ek het te veel hooi op my vurk. Ek is ook mal oor die lyn: “in Langstraat, waar die keffies nog oop is tot laat in die angry nag” — en die weergawe van die Stem aan die einde: groots! ‘Uit die blou van ons kneuskolle, uit die diepte van ons heimwee’. Heimwee: Nostalia se mooi Germaanse niggie.

  7. Desmond :

    Is dit Kerkorrel wat die klavier speel op Swart September? Ek verbeel my so. Die enigste ding wat my laat frons het op Niemandsland was ‘n reëltjie uit Bomskok Babelas: “Die Springsteen special speel tot VERVELENS toe op 5.” ‘n Springsteen special kan tog nie vervelig wees nie. What was the man thinking?!

  8. Andries Bezuidenhout :

    Ek dink dit is Kerkorrel op die klavier, Desmond. Jy kan sy stem ook op backing vocals hoor, veral as die parodie op Die Stem begin. Ek dink ek gaan vanaand van Nostalia en Heimwee droom. Hulle kom haal my in ‘n Ford Fairlane en neem my Chelsea Hotel toe.

  9. Desmond :

    Ek kom saam — solank ons op pad kan stop vir soft serve draairoomys met flake in.

  10. Andries Bezuidenhout :

    By Halfway House. Ons is besig om ‘n liriek te bou hier.

  11. Andries Bezuidenhout :

    Nostalie is duister, gerugte wil dit hê
    dat daar vele lyke in haar slipstream lê.
    Was klaarblyklik op die boeke van die KGB,
    maar kuier deesdae saam met niggie Heimwee.

    Moet ‘seblief nie vra oor Heimwee nie,
    of oor die twee niggies se geheime nie.
    Hulle kom jou haal as dit sneeu in Johannesburg,
    as jou overdraft, die winter, of die nuus jou wurg.

    In ʼn Ford Fairlane kom Heimwee en Nostalie –
    vir ʼn cone met ʼn flake by Uncle Charlie
    en dan weer suid na die Chelsea Hotel
    waar Kerkorrel vir Koos op ʼn tiekieboks bel.

    Jammer Ralph, maar die nommer is beset,
    dit lui net vir mense wat antwoorde het.
    Julle stommerike wat net vrae bly vra
    moet leer om die besettoon se beat te verdra.

    Oor na jou, Desmond! Jy kan nou ʼn air guitar solo doen, of die liriek verder skryf.

  12. Breyten Breytenbach :

    Want o wee, niks is meer dieselwe –
    Ralph skryf lankal halaal songs vir die elwe
    en onder om die draai lê Nostalia gepappiegaai –
    Heimwee het haar poegaai geaai

  13. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, daai’s nou die liriek se brug! Die tromme hou op en die kitaar double clutch mineur akkoorde toe.

  •