Andries Bezuidenhout. Ideale val soos Carletonville

Daar’s iets te sê vir myndorpe. Ek hou veral van Carletonville. Ek sing altyd André Letoit, nou bekend as Koos Kombuis, se “Swart Transvaal” as ek deur die dorp ry: “Ideale val soos Carletonville. Ondergronds is God die hel in vir die Boerenasie, wat bid soos Fariseërs, maar nooit kan ophou raas nie…” Daar word ook verwys na die “kil torings van klein dorpies”. Ek neem aan die “ideale wat val” verwys na die sinkgate by Carletonville, wat in die 1980s in die nuus was. “Swart Transvaal” kom oorspronklik van die kasset Ver van die ou Kalahari af, wat in die laat-1980s deur Shifty Records versprei is. Ek het dit in 1990 by Grahamstad se kunsfees gekoop, maar het reeds ʼn kopie daarvan gehad – “afgetape” van ʼn vriendin in Walvisbaai se broer s’n. Hy’t op Stellenbosch geswot en dit daar in die hande gekry. Die verkope deur Shifty Records was nie baie goed nie, want blykbaar het Letoit reeds self vir al sy vriende kopieë gemaak. Toe ek my wettige Shifty-weergawe koop, kon ek reeds die meeste van die songs op my kitaar speel.

Terug by Carletonville. Die wêreld se diepste goudmynskag – by die voormalige Western Deep Levels, nou bekend as Tautona – is naby Carletonville. In die laat 1990s het ek die dorp leer ken toe ek vir die National Union of Mineworkers (NUM) begin navorsing doen. Ek het meeste van die myne, veral hostelle, besoek om onderhoude met vakbondlede te voer – Blyvooruitzicht, Elandsrand, Wes-Driefontein, Oos-Driefontein, Kloof, ens. Sulke mooi name – klowe, rante, fonteine, alles met ʼn uitsig. Baie van die hostelle van daardie myne is egter uitsiglose plekke. Kontrakwerkers is byvoorbeeld van die laat-1990s af in Blyvooruitzicht se hostelle gehuisves.

My plan is om in die volgende paar maande aan ʼn reeks skilderye van myndorpe te werk. Ek het die een hier bo hierdie naweek voltooi. Dis van ʼn brug by Carletonville, reg oorkant die NUM se streekskantoor. Die pad laat my aan Johannes Kerkorrel se “Ry” dink, dalk ook sy “Ballade van ʼn mynwerker”. Ek het op die web gaan rondkrap en die volgende is die naaste aan ʼn transkripsie van die liriek wat ek kon opspoor. Ek het hier en daar ooglopende foute reggemaak:

Ek kom van Vryheid in Natal
Ek werk hier in die myn
Die droogte het ons plaas gebreek
Ek kon nie langer bly
Ek leer hier vir my ambag
Miskien gaan ek eendag weer boer
Tel die ure, doen oortyd
En die vakbond sal mos na my kyk

Ek werk in skofte dag na dag
Maar eenkeer ’n maand breek ek weg
Dis Vrydagaand en die naweek lê voor
Net ’n sak vol kontant en ek’s reg
My klere is koel, kam my hare perfek
Lyk skerp soos ’n skeermeslem
As ek buite toe stap is die heilige nag
Vol beloftes om later te ken

En kyk daar eenkant onder die boom
Chroom blink gevaarlik sag
Vuurperde-krag, bloedrooi geverf
Masjien in ’n cowboy se droom
En onder daai staal klop ’n hart van goud
’n Enjin wat net een verstaan
Sestienklep oopmaak en al wat sy vra:
Asseblief vat my ver hiervandaan

En buite die dorp loop die grootpad verby
Ons gaan ons wiele laat sing op die teer
Radio hard en die venters wyd oop
Gaan ons soek na die hart van die stad

En iewers in die nag
Staan ʼn neon-engel vir seker en wag.
Spreek ’n seënbede uit oor elke dief van die nag
En veterane van oorlog stroom in
Veterane van oorlog stap weg
Veterane van oorlog wonder waarheen, waarheen…

Jy eindig op met ’n vuur in die hart
Die onrustigheid diep binnekant
Jy leef en jy leer om alles te gee
Vir die kans om net eenkeer te leef
Die kans om net eenkeer te leef

Dit kom van die album Bloudruk af. Didi Kriel se verwerking van die lied is baie 1980s – snaartrom met ʼn groot eggo op, kitaarsolo en al. Ek hou daarvan, op dieselfde verleë manier wat ek steeds van Alphaville hou. Tog vat die liriek iets van die spanning tussen die name van plekke soos Blyvooruitzicht en die werklike uitsigloosheid van Suid-Afrika se myndorpe vas. Ek hoop die skildery kry dit ook reg.

detail

Carletonville se brug: detail

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Ideale val soos Carletonville”

  1. Desmond Painter :

    “Ry” en “Mynwerker” is sy twee mees Springsteeneske momente. Het Mynwerker eenkeer live gehoor, beter as die weergawe op Bloudruk. Mal oor die skilderye, Andries.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Uittreksel uit “Ry”:
    Daar is dié wat jou vertel jy mag nie op jou motorfiets ry nie
    Jy moet jou plek altyd ken, jy moet die kos eet wat jy kry
    Party is ryk, party sal vir altyd arm bly,
    party sal aan die verkeerde kant
    van die treinspoor agterbly…
    Ek het jare lank na ’n pad
    uit die dorp gesoek
    langs die spoor gestaan en gekyk hoe die treine ry
    ek het gesien hulle kom
    ek het gesien hulle gaan
    en ek het gewag en geweet
    ’n kaartjie kom om saam te gaan

  3. Desmond Painter :

    Onthou jy “Ry” se musiekvideo?

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, vaagweg. Dis waar ek dit die eerste keer gehoor het, dink ek. So meer vir die musiek as die video. Ek het lank na ‘n opname gesoek. Dit was nie op Eet kreef! nie, maar op die Voëlvry-plaat, dink ek. Met Eet kreef! se CD het hulle dit ingesluit. Ek het ‘n punt daarvan gemaak om “Ry” te sing in die Kerkorrel huldiging wat ek saam met Valiant, Amanda Strydom, Jan Blohm en Stef Bos by Innibos gedoen het. Om die waarheid te sê, ons het daarmee begin!

  5. Desmond Painter :

    Ja dit wat op Voëlvry. Ek het die video op iets soos Graffiti of Teletreffers gesien, destyds in 1988 of 1989. Kerkorrel op ‘n motorfiets, Hanepoot van Tonder met so ‘n draadborsel baardjie wat oor ‘n spoor of langs ‘n pad stap. Mal oor die song. Daardie woorde “maar nie jy nie nie…” was vir my belangrik op daardie ouderdom. Dit was Kerkorrel se weergawe van Springsteen se “it’s a town full of losers and I’m pulling out of here to win” (Thunder Road).

  6. Etienne Posthumus :

    Mal oor die skildery, dis aangrypend en mistroostig en presies reg. Wat is die afmetings daarvan?
    En wat die musiek betref: ja. Ook presies reg. Die “maar nie jy nie” het ook vir my weergalm.

  7. Kabous :

    O hel daar vat jy die brood uit my painter vriend Gert se mond. Hehe.

  8. Nico Alant :

    Andries, ek sien uit na jou volgende skildery van ‘n myndorp. Myndorpe is vir my onbekend. Ek sien die mynhope, maar was nog nooit op een nie. Hulle lyk vir my onheilspellend; verlate, met miskien ‘n plant hier en daar wat ‘n stryd voer om oorlewing, en gate en slote. Mens wil nie alleen daar rondloop nie.

  9. Andries Bezuidenhout :

    Nico, ek het so twee maande gelede Hanlie Retief se biografie van Piet Beyleveld gelees. Dit lyk asof reeksmoordenaars ‘n voorliefde vir mynhope het. Ek het egter onlangs ‘n baie mooi skildery van Moses Tladi raakgeloop, wat ‘n mens met ‘n ander oog na mynhope laat kyk. Hulle is soms vir my mooier as Tafelberg. Foto van Tladi se skildery:
    http://www.sahistory.org.za/media/image/moses-tladijpg?size=slideshow
    Weer ‘n dankie vir jou kommentaar wat my gehelp het om die skildery klaar te maak!

  •