Inderdaad betree ons hier in die afloop van die jaar die hoogsomer van pryse en bekronings. Een só ‘n prys wat sedert sy totstandkoming in 2005 geweldig in statuur gegroei het, is die South African Literary Awards (SALA) wat dit ten doel het om Suid-Afrikaanse skrywers in ‘n veelheid van kategorieë te erken vir hul betrokke bydraes.
Volgens hul amptelike webtuiste die volgende: “Founded by the wRite associates in partnership with the National Department of Arts and Culture (DAC), the main aim of the South African Literary Awards (SALA) is to pay tribute to South African writers who have distinguished themselves as groundbreaking producers and creators of literature, while it celebrates literary excellence in the depiction and sharing of South Africa’s histories, value systems, philosophies and art as inscribed and preserved in all the official languages of South Africa. The Awards aim to become the most prestigious and respected literary accolades in South African literature […] Since its inception in 2005, SALA has played a significant role to encourage and motivate writers to raise the bar in our literary endeavours. To date SALA has proudly honoured 101 (hundred and one) authors. These are men and women who have dedicated their lives to preserving our literary heritage.”
En teen hierdie agtergrond is dit uiters verblydend dat die digkuns – in die verskillende taalgroepe – ook teenwoordig is; veral in die lig daarvan dat die aantal beskikbare pryse vir die verskillende genres tans bra skeefgetrek is, met die poësie wat oudergewoonte maar hoed-in-die-hand by die agterdeur moet staan en bedel vir sy stukkie brood.
Daarom dat ek vanoggend besonder opgewonde is om bekend te kan maak dat daar gisteraand nie minder nie as DRIE Afrikaanse digters deur die SALA-bestuurskomitee genomineer is vir vanjaar se toekenning in die kategorie vir poësie. Hulle is (in alfabetiese volgorde): Johann de Lange (vir: Weerlig van die ongeloof), Marlise Joubert (vir: Splintervlerk) en Johann Lodewyk Marais (vir: Diorama). Aldrie dié genomineerde bundels het in 2011 by Protea Boekhuis verskyn. In die kategorie vir Engelse digkuns is Ingrid de Kok, Isobel Dixon en Jenna Mervis genomineer vir onderkeidelik Other Signs (Kwela Books), The Tempest Prognosticator (Umuzi) en Woman Unfolding (Modjadji Books).
Nog ‘n interessante feit, vir diegene wat skepties staan oor die verteenwoordiging van die Afrikaanse letterkunde binne die breë bestel: Uit die 23 skrywers wat benoem is in die 10 kategorieë is nie minder nie as 13 van hulle Afrikaanse skrywers (40.6%). En vir ‘n kleinerige taalgroep soos Afrikaans is dít gewis geen geringe prestasie nie …
Nietemin, die wenners van die onderskeie afdelings sal op 10 November tydens die Africa Century International African Writers Conference (ACIWC) in Bloemfontein aangekondig word. Uiteraard word aldrie digters wat vir ons van belang is, voorspoed toegewens.
By wyse van lusmaker plaas ek graag die volgende oor die onderskeie bundels:
In Zandra Bezuidenhout se resensie van Weerlig van die ongeloof het sy die volgende gesê: “Ná agt digbundels en ‘n onlangse keur uit sy gedigte (Judasoog, 2010) bring hierdie veelbekroonde digter en Hertzogpryswenner (2011) iets nuuts deurdat hy in ‘n enkele bundel uitsluitlik die kwatrynvorm bedryf. Dit verbaas nie dat De Lange hierdie streng en gedronge versvorm met soveel sukses hanteer nie; hy was nog altyd ‘n digter van die essensie, ‘n meesterlike eksponent van taalaanwending wat geen eksesse duld nie. Selfs in sy vryer verse in vorige bundels het dit opgeval hoeveel waarde hy heg aan vormvernuf en verstegniese afronding, terwyl hy nietemin ‘n merkwaardige soepelheid van segging behou.”
Oor Splintervlerk het Bezuidenhout, wat ook die resensent vir dié bundel was, die volgende opmerking gemaak: “Haar jongste verse skep […] nie die indruk dat `n “ouer” stem aan die woord is nie, en ook jonger lesers sal genot put uit die wyse waarop die spreker haar met groot intensiteit in- én uitleef in die lewe en die liefde. Soos voorheen konsentreer sy op die intiem persoonlike ervaring van die liggaam en die natuur, asook op bepaalde plekke, van Cambridge tot Stilbaai, wat in fyn besonderhede beskryf word. Terwyl die titel Splintervlerk te kenne gee dat die heelheid op een of ander wyse geskend is, bevestig die aanvang van die bundelinhoud dat die spreker ‘n fisieke aantasting ervaar. Voorlopig gaan dit gepaard met ‘n verlies aan die vermoë om voluit te funksioneer en vryelik te beweeg, of by wyse van spreke te vlieg, omdat die ‘vlerk’ deur `n mediese ingreep ‘versplinter’ is.”
Met Johann Lodewyk Marais se bundel was Bernard Odendaal aan die woord as resensent: “Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk. Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk. Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy ‘voëlboek’ uit 2002, Aves – hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou […] Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama ‘‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom’.)”
Vergun my egter om dié vreugdevolle berig af te sluit met ‘n kopknik na Marlise Joubert in haar hoedanigheid as Versindaba se hardwerkende en toegewyde webmeester deur ‘n vers van haar as die gebruiklike leestoegif te plaas.
***
in die koel lug
en wat van die lyf die hunkeringe van die lyf
die invou die vat die toemaakpalms van jou hande
soos die vlerke van ‘n duif
in die koel lug van die kamer
word ons hande droog,
word ons dors met mekaar,
maak jy my vingers weer klam.
een vir een in jou mond,
room jy met die tong.
in die koel lug van die kamer
vlieg ons die oerleegte in, gebeur
daar vreemde ritmes in die lyf.
ons sal geen kinders hiervan maak nie.
dis ook van minder belang –
ons plant ‘n boom in die graf
in plaas van ‘n kraaiende kind. in
die koel lug befluister ons mekaar
jaar in en jaar uit
met die nag se skroeiende wind.
(Uit: splintervlerk, marlise joubert; Protea Boekhuis, 2011)
Veels geluk, vir harde werk en opofferingswerk, soms; al is dit liefdeswerk
By BooksLive is pas ‘n omvattende berig oor die SALA-nominasies geplaas. Dit bevat die amptelike mediavrystelling asook vele ander skakels na die genomineerde werke.
Gaan kyk by: http://bookslive.co.za/blog/2012/10/11/2012-south-african-literary-award-nominees-announced/
Baie geluk aan die drie digters!
Veels geluk Marlise, Johann en Johann. Watter een ook al wen: dit is ‘n waardige wenner. Wat my interesseer is dat drie sulke uiteenlopende bundels hulle op dié lys van uitverkorenes kan bevind.