Dit is amper somer. Die perfekte tyd om ons jongste van die doeke af te kry.
Die gedagte neem my terug na ʼn tyd toe ons oudste pas begin doek dra het en waar hy en sy pappa onder haiku bedrukte wit doeke van Strijdom van der Merwe staan. Wapper en dapper in die laatmiddag Karoo son tydens ʼn Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
Ek was weer gelukkig om Strijdom van der Merwe se kuns tydens nog ʼn kunstefees te ervaar, maar die keer PArt (Die eerste Prins Albertse kunstefees), en om hom boonop te ontmoet.
Die titel van die kunstefees was ‘A Vulnerable Landscape’. Die meeste werke op doek het die ‘landskap’ ondersoek. Te veel om een hier uit te sonder.
Al die bome in Prins Albert was getooi in swart doek. Protes teen die beoogde ontginning van Skalie-gas oftewel ‘Fracking’ in die Karoo.
Van landskap en kuns spring my gedagtes na Helen Martins, wat haar eie wereld geskep het in haar agterplaas in ʼn Klein Karoo dorpie, meer bekend as die ‘Uilhuis’ van Nieu Bethesda.
VRAE AAN DIE UIL- Johann Lodewyk Marais
Sal ek aan jou wat wys is my vrae
oor ons verrinneweerde aarde vra?
Is daar ʼn gat in die dun osoonlaag?
Word die aarde warmer of kouer?
Waarom word die tropiese reënwoude
Uitgekap en gaan die iguana dood?
Wie het gif op die liewenheersbesie
in die roostuin gespuit en weggestap?
Wie het die witkruisarend verwilder?
ʼn slagyster vir die muishond gestel?
Wie het die waterkoedoe skrikgemaak
en sy moerasgebiede drooggelê?
Wie het die swartrenoster afgemaai
en sy horings bloererig uitgekap?
Wie sleep nog steeds kiefnette deur die see?
Waar gaan die woestyne eendag eindig?
Wie gaan die kind met kwasjiorkor voed?
Sal ʼn entstof teen vigs ooit gevind word?
Hoe lankkan die aarde dit nog deurstaan?
Sal jy in jou wysheid kan antwoord gee?
Die plesier is myne. Ek is verheug om te hoor dat die doeke nog bestaan, en eendag wanneer my skip kom sal ek graag die wind in hulle seile wil terugblaas.(indien moontlik) Intussen sal ek maar spoorsny op soek na die katalogus en boekie waarna jy verwys todat die DM n ruiter van die wind word.
Dit is nou te se indien die uil nie frack ag ek bedoel vrek nie….
hartlike groete vanuit die Karoo
Dankie, Hannalie Taute! Ek sou graag hierdie gesprekke met die wind in Prins Albert wou sien – was nog altyd beïndruk met Strijdom van der Merwe se werk. Maar mens se hart rou oor die besef dat die Klein-Karoo seker net soos die groter Karoo ook nie meer Afrikaans kan praat met die wind nie. Duidelik is die boelit deur die tjirts. En ek is daarvan oortuig dat so ‘n gebaar van ontkenning (seer sekerlik salig onbewus), van ylie-‘n-nation, van sjym en Ai-bek-jôr-paarden ter wille van die groter politieke korrektheid, ‘n soort geestelike vrekking is. Die ander fracking is dus logies onafwendbaar. Gawd knip ‘n uiltjie en die klippe sal klippe kou!
Jou verwysing na die lappesait boekdoeke van lank, lank gelede in ‘n ander land bring mooi herinneringe terug na die oppervlak: ek onthou “wemeltong” in die sand op Oudtshoorn, met Sandra Prinsloo. Die doeke bestaan nog – tien van hulle – al is die wind uit hul seile gehaal. Vyf is in Hengelo gebruik en afgedruk in ‘n katalogus. Eugenie Grobler en Pedro Kruger het destyds die tekste lieflik getoonset en ‘n boekie is gemaak met al tien afbeeldings. Die idee van ‘n lapboek is ‘n wapperende ingewing wat jy daar aan die winde toevertrou. Mag ‘n deesiesjienmyker sy of haar ore aan die gerugte van wind uitleen…
Met groete van hart tot hart,
Breyten
ai- in my haas het ek vergeet om melding te maak van B.Breytenbach se boekdoeke (lappesait) wat ek ook destyds in n produksie “wemeltong” by n kunstefees gesien het. Ek wens ek kon dit weer sien – sukkel om dit op die web op te spoor. Het laas week ook erens in die verbygang gehoor dat van sy tronk kuns in boekvorm gedruk gaan word. Wonder of boekdoeke in boekvorm beskikbaar is- (sal dit nie mooi lyk in die vorm van lapboeke wat mens destyds gekry het nie?)