Breyten Breytenbach. Brief aan ‘n figuur in Manet se Olympia

 

Brief aan ‘n figuur in Manet se Olympia

                                                                                            Parys, 20 September 1984

 

Liewe Ka-Ma,

Jy ken my nie – en dis beter so. Ek skryf vir jou namens Ka’afir. Ek leen my pen aan ander uit om die polsslag van hulle harte aan te teken op ‘n soortgelyke manier as wat die skilder hom altyd in die waarnemer se plek stel. Die skilder verf wat hy dink die kyker sal sien.

(Maar moet tog nooit vir die skilder vra wat hy dink hy doen nie. Die kanse is goed dat hy jou dit gaan vertel. Hy sal pavaan, sy lippe tuit en ‘n klakkelose houttong laat klak in sy mond. Armsalige siel. Wat interesseer hom werklik? Miskien slegs die poging om die gevoel  van ‘n swart gat in kleurvergestalting om te sit. Of die wulpsheid van ‘n knieg. En op die ou einde maak meeste kunstenaars tog maar skilderye wat deur ander werke ingepraat is. Dis immers moeilik om ‘n reuk van jou eie op die doek agter te laat. Of om iemand van die binneste ruim uit te beeld.)

Ek is seker jy onthou vir Ka’afir. Hy is die jong man wat net regs van jou skuins agter Victorine se linkerskouer gestaan het op daardie doek waar sy naak lê – soos ‘n wit kat met ‘n swart lint om die nek, die soort troeteldier wat mens in advertensies vir kattekos teëkom.  Hy beweer jy sal nog onthou hoe die twee van julle die draak gesteek het met die wit slavin en haar ledemate van dwerg-afmetings, en met die simpel rok wat die skilder jou laat aantrek het. Dit het hom bygebly hoe warm jy was, en hoe koud Victorine!

Dis wel waar dat hy later onder ‘n laag verf uit die skildery geskilder is.

Dis seker die maker se goeie reg om die essensiële te verwyder en sodoende die werklikheid te omvorm bloot deur van mening te verander. Ka’afir vertel dat hy agterna by Eddy wou weet waarom hy dit gedoen het en daar is toe aan hom verduidelik: “Om jou uit die komposisie te verwyder – daar is nou vir jou Skoonheid!”

Ek sien Ka’afir dikwels. Ons mymer ure lank saam oor Afrika. Dis soos om oor die droom en haar uitbeelding te bespiegel. Toe ek vir hom vertel dat ek genader is om oor ‘n kunswerk te skryf het hy gelag en gesê: “Ek het iets meer opwindends vir jou om te doen.”

Eers toe ons afskeid neem het hy gevra of ek die volgende boodskap aan jou kan oordra:

“Sê vir Ka-Ma ons verbintenis is vir ewig. Kyk na die werk en jy sal sien haar oë soek nog steeds na waar ek gestaan het. Dit word tog beweer jy kan alles van ‘n kat laat verdwyn behalwe die glimlag. Net so kan jy ‘n persoon uitvee, tot selfs die verhaal van hulle liefde, maar die wyse waarop hulle na mekaar gekyk het sal vir altyd daar wees. Want ek het haar liefgehad. As ek my oë toemaak sien ek nog haar slanke enkels agter daardie ongemaklike sofa. Selfs nou sal ek haar geur herken: die varsheid van lynolie en ‘n ietsie van naeltjies. Ek het ‘n brief in my hand vasgehou maar was te skugter om dit vir haar te gee. Kan jy asseblief hierdie non-dit aan haar besorg?

Met dese dus die bewys van sy versoek. Hy het verder weet te vertel dat hy geen idee het waar die swart kat links van jou vandaan gekom het nie. Dis egter nie ‘n goeie voorbode nie.

Net soos hy my gevra het om namens hom te doen veroorloof ek my ook om jou met teerheid te omhels.

 

Breytenbach

 

Voetnoot

Bogaande is uit die Engels vertaal; die oorspronklike was in Frans gepubliseer as deel van die “Le Mussée Imaginaire” reeks in Le Nouvel Observateur, Parys. Dit word nie naastenby bedoel of voorgelê in VersIndaba se Beeldgedig kompetisie nie – dis dan nie eens ‘n gedig nie en is lankal nie meer oorspronklik nie. Dis maar net dat ek ‘n tydjie gelede na die afsterwe van my vriend Ka’afir, ‘n Afrika digter, in ‘n trommel afgekom het op die verfrommelde geskrif.

Ek kan nou nie meer bybring hoekom ek destyds nooit die boodskap afgelewer het wat hy vir Ka-Ma aan my toevertrou het nie – selfs nie by monde van die tydskrif wat die teks geplaas het nie. Bes moontlik was ek jaloers op hulle liefde; miskien wou ek sy hand in die as slaan; of dalk is die eenvoudige rede dat ek nie sy verhaal geglo het en nie ‘n gek van myself wou maak nie. Ka-Ma sou, na my berekening, toe in ieder geval lankal onder die grond weggebêre gewees het.

Die Engelse weergawe is so teen 1987 opgeneem in ‘n raapsel katalekte en ander tronkskrywes wat by Faber & Faber in Engeland verskyn het, in Amerika by FSG en later in sagteband by McGraw Hill. Die boek se titel was End Papers.

As ek nou mooi onthou het Edouard Manet die gewraakte skildery gebaseer op die tema en die komposisie van Goya se twee maja doeke – die een naak en die ander eintlik nog kaler in haar rok. Jy kan duidelik sien hoe geïnspireer Manet was deur die lê van die odalisk. Goya se model – hy het haar etlike kere geskilder, bes moontlik was sy die ou kwartel se beminde – was Maria del Pilar Teresa Cayetana de Silva de Toledo la Duquesa de Alba, sy met die bleek vlees en die donker driehoekvag om die hemelpoort. Haar afstammeling bestaan nog. Die huidige Duquesa is egter vreeslik lelik. Ek is bly Goya het haar nie hoef skilder nie.

Ka’afir se verhaal klink vir my onwaarskynlik. En tog, noudat hy finaal uit die bewussyn van dié wat hom geken het geverf is, doen die groteske afsluitingstoneel hom soms aan my voor as versoeking: wat as ek die kattebelletjie sou besorg aan die hertogin wat nog die familienaam dra?

(Selfs al sou Ka-Ma nasate gehad het sou hulle almal doodgemaak gewees het. Sy was ‘n Tutsi van Rwanda. Ka’afir het nooit vir my vertel hoe sy in Parys in Manet se ateljee beland het nie.)

B.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •