Verslag. Joan Hambidge oor vanjaar se DJ Opperman-gedenklesing

(Op die foto verskyn van links na regs: Ingrid Winterbach, Joan Hambidge, Ronel de Goede,

Louise Viljoen, Helize van Vuuren en Marlene Van Niekerk. Foto geneem deur: Mariheca Otto)

*

Donderdagaand, 26 September, het Helize van Vuuren die DJ Opperman-gedenklesing gelewer.  Dit was ‘n inspirerende lesing oor die betekenis van laatwerk en Van Vuuren, ‘n ingeligte en  deurwinterde literator,  het Opperman se “Vuurbees” op ‘n briljante en sinryke wyse ontleed. Van Vuuren het deur die jare veral bekendheid verwerf vir haar speurtogte: verwysings in Tristia, onder meer. 

‘n Paar punte:

Van Vuuren het belangrike aspekte van Celan se ondeurdringbare verse vir die leser “oopgemaak”. Sy het Lacoue-Labarthe en Szondi gebruik om die komplekse leesproses te verduidelik. Sy betrek Said se On late style, Adorno en Clark om laatwerk te verduidelik en Komas uit ‘n bamboesstok vir die toehoorder op ‘n ander manier te bekyk.

By Opperman is die laatwerk egter nie pessimisties nie – hier beweeg hy weg van die pessimisme wat “laatwerk” kenmerk. Daar is egter in Dolosse egter sprake van die katabasis of afbeweeg in die hel. Op ‘n briljante wyse analiseer sy die Hertzog-prys-debakel toe Tristia bó Dolosse bekroon is en die opmerkings van Lindenberg oor lg. Hoe belaglik blyk dit na al die jare om hierdie twee tekste teen mekaar af te speel.

Sy verwys ook na Picasso en die motief van Pompeï en Dionisiese orgies, die teruggaan na neolitiese kunsvorme en die reis deur miljoene jare se geskiedenis van die mensdom  in Opperman se Dolosse.

Ons sien ook ‘n video van Lascaux en Altamira om die grottonele te verduidelik – Van Vuuren op haar beste! Speurder Van Vuuren ontdek in die dokumente-sentrum ‘n artikel wat DJ Opperman gelees het: Loren Eisely wat die “Vuurbees” op ‘n ander manier ontsluit. Ook Jacques Perk se gedigtesiklus oor die grotte van Han betrek sy – ‘n reeks waarvan DJO beslis kennis geneem het. Die gesprek met Blum en natuurlik,  Wilma Stockenström word eweneens onder die loep geneem:

 

Wat ek met berge gemeen het

 

Grot is ek: bewaarder van geslagte

se skreeuende gebeentes en hopies klip.

Grot ek: die berghaan se klankversterker.

Die berghaan draal. Hy sleep skalks

sy klein stompstertskadu deur my,

en met die skaduprent op my tong

 

stamel ek my ganse leegheid.

 

(Uit: (Monsterverse, 1984:32

 

Opperman het inderdaad die grotte van Han besoek. Die Laatfase by Opperman staan egter in die teken van anabasis – ‘n positiewe proses.

Ook het Van Vuuren kommentaar gelewer – n.a.v. ‘n besoek aan die ICLA-kongres aan die Sorbonne – oor die impak van BDE of byna-dood-ervarings.

 *

Die opkoms was uitstekend en met vraetyd het die misverstane debat oor Opperman en die filosofie opnuut aan die orde gekom: Opperman – het ekself en Lina Spies beklemtoon – was nie teen die filosofie nie. Hy het egter as mentor jong studente aangeraai om met hul sintuie te werk: sintuie is werktuie. Gaan lees Kannemeyer se biografie gerus vir die bewys as jy nie die voorreg had om dit in die laboratorium te hoor nie!

Opperman het immers oor etlike filosofiese onderwerpe gedig.

Dit is goed om ‘n uitstekende literator en akademikus aan te hoor by ‘n gesogte lesing.

 

Joan Hambidge / 29.09.2013

 

 

 

Bookmark and Share

21 Kommentare op “Verslag. Joan Hambidge oor vanjaar se DJ Opperman-gedenklesing”

  1. Waldemar Gouws :

    Wat van ‘n Oppermangedenklesingkamera?

  2. Desmond Painter :

    @ Waldemar: mwahaha! Daai fotograaf en kamera lewer beslis fotografiese laatwerk… In Breyten Breytenbach se laatwerk is die vroue ten minste nog in fokus. 😉

  3. Joan Hambidge :

    Hierdie foto is met ‘n selfoon geneem – in die oomblik – en na jul spitsvondige reaksie is die FB-blad-foto aangestuur na Louis vir plasing.

  4. Kaal Peer :

    Wat van ‘n Oppermangedenklesing-kamera-obscura? Ek dink hier aan daardie baanbrekende uitvindsel, die onderstebo denkbeeld, Desmond. Want dis tog al geruime tyd dat die letterkunde moet meeding met installasiekuns …

  5. Waldemar Gouws :

    Dankie vir die gefokuste foto, Joan. Nou sien mens dis heeltyd die blomme van die baaierd bymekaar.

  6. Desmond Painter :

    @Joan: hierdie nuwe foto is onthutsend – dit lyk dan nou jy het die geblurde omstandighede gebruik om gou van Lina Spies ontslae te raak en vir Ingrid Winterbach nader te trek?! 😉

  7. Desmond Painter :

    NS. Grappies op ‘n stokkie, dit klink of dit ‘n interessante lesing was. Gaan dit gesirkuleer/gepubliseer word?

  8. Joan Hambidge :

    Dit was ‘n fantastiese lesing en ja dit word gepubliseer. Jammer Lina Spies was toe nie daar nie – al hierdie vroue was DJO se studente of had ‘n intellektuele verbintenis met hom!

  9. Leon Retief :

    Joan kan jy dalk bietjie meer vertel oor Loren Eisely en die Vuurbees asseblief?

  10. Johann de Lange :

    Leon, Eiseley is een van die voorste antropoloë & skrywers. Hy is sou mens kon sê die Joseph Campbell van die antropologie, & daarby ook ‘n voortreflike digter. Op sy tuisblad beskryf iemand hom as die soort denker/skrywer wat ons sou kry as Proust ‘n wetenskaplike was.

    Een van my gunstelingverse van hom is die kort valk-gedig:

    The Hawk
    Loren Eiseley

    The hawk wheels by, wheels by
    While all, mouse, serpent, men
    Leap once in that fierce eye,
    Fall, and are lost again.

  11. Johann de Lange :

    Hy het so ‘n indruk op my gemaak dat ek aan hom in die teenwoordige tyd dink, maar hy is reeds in 1977 dood, so bring asb. die nodige tydsveranderinge aan in bg opmerking.

  12. Leon Retief :

    @Johan: Dankie, ek weet wie Eiseley was maar is nuuskierig oor wat Joan gese het ivm ‘n artikel deur hom en raakpunte (neem ek aan) met Vuurbees.

  13. Helize van Vuuren :

    Leon
    Hier’s die lesing (sal later ‘n netjieser uitgewerkte, en uitgebreide artikel publiseer, op die idees gebaseer):
    http://www.academia.edu/4652051/D.J._Opperman-gedenklesing_26_September_2013

    of as dit nie werk nie, die hoofskakel na die webruimte waar dit gelys is:
    http://nmmu.academia.edu/HelizevanVuuren

  14. Leon Retief :

    Besonder baie dankie Helize, die artikel as geheel het my stof tot nadenke gegee en die verwysing na naby-doodse ervearings is interessant, ek het Komas so lanklaas gelees dat ek nie daaraan gedink het nie.

  15. Desmond :

    @ Helize: dankie, ek het jou artikel gisteraand gelees en baie insiggewend gevind (behalwe nou dat ek liggies moes frons oor die feit dat elegante denkers soos Adorno en Said bladsyruimte moet deel met daai ou Nazi kwaksalwer Jung… 😉 Maar dis ‘n geveggie vir ‘n ander dag!): ek gaan hierdie naweek Dolosse en Komas weer lees.

  16. Susan Smith :

    Uiters interessante artikel en lesing. Dankie vir die plaas, Helize.

  17. René Bohnen :

    Dankie, Helize – boeiende leesstof.

  18. Leon Retief :

    Helize, as jy ook belang stel in naby-doodse ervarings – meeste van wat daaroor geskryf word is snert maar ek kan twee min of meer non-tegniese boeke baie hoog aanbeveel. Die eerste is Dying to Live deur Susan Blackmore. Baie van wat sy skryf oor die fisiologie van hierdie verskynsel word tereg nie meer aanvaar nie maar dit is ‘n baanbrekerswerk op hierdie gebied en bevat baie interessante historiese gegewens en perspektiewe. Die tweede is Carol Zaleski se Otherworld Journeys, ‘n geskiedenis van NDE’s sedert die middeleeue tot vandag en is werklik fassinerend.

  19. Helize van Vuuren :

    Dankie vir die “tips”, Leon. Terloops, is NDE ‘n bekende term in die mediese wêreld? (Ek kon slegs Engelse (“near death experience”) en Nederlandse (“bijna-dood-ervaringen’) opspoor op die internet.)

    Na ek onlangs die neurowetenskaplike, Changeux (wat in 1967 of so die nikotien asetielcholine reseptors in die brein geïdentifiseer het) , in Parys gehoor het (en ander neurowetenskaplikes oor letterkunde en die brein – die bewussyn in letterkunde en die skakel met die brein) vermoed ek dat dit meer sal baat om die saak van DJO se “herrysennis” na byna-dood ervaringe van die mediese kant te benader ( byvoorbeeld in leesstof oor die neurologiese effek van hallusinasies op die brein).

    Het jy hieroor miskien idees waar om te begin lees/wie die voorste navorsers op die mediese terrein is? Watter neurologiese effek herhaalde komas oor ‘n langdurige periode het?

  20. Leon Retief :

    Helize ek is jaloers dat jy Changeux se lesing gehoor het want as ek hom ooit eendag sal ontmoet (wat helaas nie sal gebeur nie) sal ek sy voete soen. Ek weet nie of NDE of enige ander term nou juis in die Afrikaanse mediese wêreld “amptelik” erken word nie, dis maar wat ek dit noem. Ongelukkig is my kopie van Komas in ‘n boks in Kaapstad, as ek dit hier gehad het kon ek dit weer lees en daaroor peins, al sou ek seker nie ‘n betekenisvolle opinie kon gee nie maar toemaar.
    Ek wil net seker maak dat ek jou vraag oor die effek van herhaalde komas op neurologiese funksie reg verstaan. Kyk, ek is ‘n narkotiseur en meeste van die kontak wat ek met sulke pasiënte het is redelik kortstondig, ek doen wel baie ICU maar selfs so is daardie pasiënte onder my hande uit wanneer hulle uit die ICU ontslaan word. Askies, ek moer seker sê ISE maar ICU is al so ingeburger in selfs Afrikaans. Wat ek probeer sê is dat ek nie enige langtermyn opvolg van sulke pasiënte het nie. Nietemin, baie faktore kan ‘n rol speel, middels/dwelms/alkohol/beserings speel vandag ‘n veel belangriker rol as in die verlede en dis waar Zaleski se boek vir my van baie waarde was want sy bespreek NDE’s voordat moderne medisyne op die toneel verskyn het. Ek dink jy sal hier moet kers opsteek by ‘n neuroloog wat met sulke dinge re doen het.
    Hoe dit ook al sy, ek dink mens kan dalkies ‘n interessante projekkie hieroor doen, as jy belang stel kan jy Marlise vra om my e-pos adres aan jou te stuur en kan ons verder daaroor gesels en ek sal kyk wat ek kan uitvind.
    Hierdie laat my dink aan Ester Jansma se gedig wat vir my besondere betekenis het nie alleen met betrekking tot ons oudste dogter Liezl se dood nie maar ook omdat dit ook beskou kan word as ‘n (moontlike onbedoelde?) verwysing na NDE’s.

    De val
    We kruisten de Styx.
    De veerman lag dronken in zijn schip.
    Ik hield het roer en we zonken als stenen.
    Water bestaat als de aarde
    in lagen, transparante linten, glanzende strata
    van steeds kleiner leven, minder warmte.
    In je haren bloeiden luchtbellen,
    de stroom trok je hoofd naar achter
    en streelde je hals.
    Stenen wuifden met armen van algen en varens,
    zongen zachtjes gorgelend “vrede”.
    Ze sneden je kleren los.
    Vissen likten het bloed van je benen.
    Ik hield je hand vast. Ik wilde je troosten
    maar we vielen te snel en er zijn geen woorden
    die zonder lucht bestaan, mijn liefde
    bleef boven, blauwe ballonnen, bakens voor even,
    de plaats markerend van het ongeluk
    voordat ze verder dreven. Je mond ging open.
    Je gezicht werd rood, je handen zochten
    evenwicht, zochten mijn armen.
    Je probeerde in me omhoog te klimmen.
    Je was een glasblazer met een wolk van diamanten
    aan zijn mond. Ik hield je vast als een katje.
    Ik aaide je vingers.
    Je liet niet los.
    Je sliep en ik aaide je vingers, liet los.

  21. helize van vuuren :

    Alternatiewe skakel sopas geplaas op US se departementele skakel – vir mense wat glo sukkel om die DJO-lesing af te laai:

    http://sun025.sun.ac.za/portal/page/portal/Arts/Departemente1/afr-ndl/aktiwiteite/DJ%20Opperman-gedenklesing

  •