stilte aan die ander kant van ruite1
hy staar ʼn tydlank stip na die skerm
scroll na 2.4.1 dink die wysgeer het gelyk
die kunswerk onthul ʼn stryd
tussen wêreld en aarde
sit terug lees die gedig (vir analise)
maak ʼn lys van woorde om te wys
hoe elk tot die een of ander hoort
is wêreld die onvoorstelbare geheel
waaraan ons onderworpe is
solank die paaie van lewe en dood
en seëning en vloek
ons in vervoering bring
aarde dit waarin die oprys van alles
teruggeneem en beskut word
dit wat nie gedwing kan word nie
wat onvermoeid
en sonder inspanning is
luister hy met die geluid
van voëls hoe stilte aan die ander kant
van ruite klink
kyk hy weer na die skerm
en soek ʼn woord wat sonder aarde is
1 Met verwysing na Martin Heidegger se essay “The origin of the work of art” (2002:1-56).
© Alwyn Roux / 2014
Ek hou ook baie hiervan. Digters by hulle vensters. Stilte anderkant ruite en ruimte.
“…soek ʼn woord wat sonder aarde is”. Pragtig.
“en soek ʼn woord wat sonder aarde is” – ‘n mooi reël, ‘n sweempie nostalgie, maar te tr.aag en aa-rds om werklik nostalgies te wees, die sagte (maar stemhebbende labio-velêre approksimant) w-klank wat wip sit ook ‘n tikkie aweregse humor in die humus-mundus polemos. Ek “dink die wysgeer het gelyk / die kunswerk onthul ʼn stryd”.
Lekker skryf, Alwyn! Solank die “seëning en vloek” van die akademie “ons [nog] in vervoering [kan] bring” – is daar dalk hoop?