Fantasie vir Fort Europa Junie 2015
Sluit jou oë en herroep in verlangsaamde pas
die immerdraaiende oorlogsmeul, dit is jou
welbekend, die vervloë ratgekras en onfeilbaar
rigtende ysterlope, die klippe opspattend
onder kruipende kettings. Sluit jou oë
voor die fonteingeguts van rook, stof, gas,
jy ken die voortdurende knalle, die dak
wat inval op die emalje bak, drie perskes
vir ‘n middagmaal, swart oorstuif van roet,
‘n voorsaat onder ‘n moerbeiboom
agter ‘n ster gekraakte glas. Aanskou die vlek
gestol op ‘n tydsaam bollende gaasgordyn, sluit
jou oë, jy is vertroud met hierdie gewonde
vrou wat na haar kinders skreeu, die man
met sy bondel matrasse. Sluit jou oë, gedenk
die vlug uit die verwoeste stad na woestyne
met dor ongaanlike einders. Wend af jou blik
oor flodders televisie-nuus, sterfte-statistieke,
die besware van fynbeskaafdes gesprinkel
oor die skerms, die verwyt van wel-deurvoedes
aan die tiranne wat moord gebaar in marmersale.
Niks sal jou verbaas in die gaan of kom
van vlugtelinge, hul tandvleis van ellende,
die sjaal waarvan hul daagliks langer punte
om hul skouers slaan. Selfs die drieluik
van Max Beckmann mag jou dalk te binne
skiet en bevestig wat jy dink: menslik,
alte menslik, die altyd mee-vlugtende
gemaskerde beul, die vergeefse vis
van vrede waarna die koning tydens elke
oortog weerloos oor die bakboord tas,
die aankoms met ‘n koorsige telg in ‘n volgende
bestek van foltering. Jy ken dit, verval
nie in herhaling van jou onmag. Slaan op
jou oë, kyk ‘n keer utopies, sein jou hoop
nie na Assad, of Al-Baghdadi maar na ons
wat op die steiers staan aan albei kante
van die oseaan. Verbeel jou, al is dit vir ‘n klein
gedig, kollaborasie as natuur, geen nydige
ontfutseling van fooie uit opgespaarde voue
of dwangarbeid op ‘n vreemde kus, maar iets
gans anders, ook anders as “genade”:
gewoon die wil van pioeniersgewasse
plus ‘n bodem van ontvanklikheid, kyk,
dit is trompette wat uit distelkoppe duisend sade
blaas met die élan van ‘n seisoensverskieting.
Sien vaarwelgewenste wesens, bevoorraad
met water, heuning en wit brood, bedien
van ekstra wieke, getuig die verswewing in reie
deurstraalde dons, vooruitligtend snags
oor die gewerskaf van ons voorbereidings
op ‘n verre kaai. Stel jou duisend voete
voor wat daal en trappel na die nuwe grond
en ‘n opvang vol uit die oksels teen ‘n borskas
van welwillendheid, merk in elke dorp
‘n strykorkes met gasvry dansers buitelend
in verwelkoming, herken die warm skuim
en afspons van gewrigte, die troostende
verbande om die knokke, borde warm
goulash in hutte met bont matte, uitsig
op ‘n wei, ‘n spinwiel, timmerkamer,
planke vir die maak van eerste eie stoele,
ses hoenders en ‘n bok, ‘n moestuin ryp
tamaties, klein skole in ‘n grag geplaas
om Brussel, aan elke voordeur ‘n neergelate
brug vir die osmose van sillabes, elke aand
‘n uur besoek van vreemdelinge, wedersyds,
uit ootmoed vir die lug wat alle wesens asem
en waarmee hul prille frases vir mekaar
vertaal: ek is gebore daar en daar, my moeder
had amandeloë, my vader was ‘n meulenaar.
(© Marlene van Niekerk / 2015)
Beste Marlene, vir my setel jy die fantasie al in die eerste vyf reëls. En die sprong van “oorlogsmeul” na “meulenaar” is redelik klassiek, soos wat “ysterlope” en die geïmpliseerde ploegskare aan die einde ook is. Ek en jy ken nie oorlog nie, net op film gesien – ek kyk wel soms op na die planeet Mars.
Aangrypende vers. Dankie hiervoor Marlene.
Mooi en waar gedig !