Graankalander
Sitoplulus granarius
Die piet-my-vroue het rigting gekry
en in die bome het dit stil geword.
Hulle wat naby die aarde lewe,
maak in die najaar saad bymekaar
om deur die wintermaande te bewaar.
Wanneer die rook van die miskoekvure
wit en laag oor die lappies grond huiwer,
word die somer se oes ingesamel.
Maar hier, hier in die onderstebo
mieliekoppe het oornag rolronde,
skildvleuelige kalanders gekom
en die boerdery se loon leeggevreet.
*
Duitse kakkerlak
Blatella germanica
Die bleek kakkerlak op my lessenaar
maak vlugtig sy verskyning
agter ’n woordeboek, ’n tesourus
en die hopie gedigte in die hoek.
Ek mik om hom dood te slaan,
gaan koop by die Chinese winkel
’n stafie Twin Luck-insektekryt
en trek ’n streep agter sy bestaan.
Maar: skielik loop hy oor ’n boek
en dae lank soek ek hom vergeefs
tot vandag toe ek ’n gedig druk
en hy hom op die spierwit bladsy
afsmeer met alles, alles wat hy is.
*
Pylstertmot
Agrius convolvulvi
Die jong vrou met ’n T-hempie en shorts
sit kruisbeen met haar een hand beskermend
oor ’n glas wyn en in die skemering
hoor sy vrugtevlermuise se gepiep.
Dan hou sy weer uit die hoek van haar oog
die pylstertmot dop wat om haar bly draai
en sy roltong deur haar vingers laat gly.
© Johann Lodewyk Marais / 2016