OUT OF AFRICA
’n Jong man het ’n week lank die vliegtuig
uit ’n olieblik en draad geprakseer
en op ’n straathoek te koop aangebied.
Hierdie maaksel het jy bly aangeskaf,
op die glasblad van ’n tafel laat staan
en een foto ná die ander geneem.
Die volgende dag staan die stuk buite
op die plaveisel tussen boomvarings,
irisse en ’n koorsboom in die blom
asof hy in die nag uitbeweeg het
om gereed te maak, ’n aanloop te vat
en ’n verdere reis te onderneem.
Ek het hom in Johannesburg gaan haal,
stewig in my kattebak staangemaak
en versigtig die pad huis toe aangepak.
Nou pryk die verroeste vliegtuig van blik
op my lessenaar en sien ek hy lig
op en vlieg esse oor Naivashameer.
© Johann Lodewyk Marais / 2015
‘n Lieflike inspeling op DJ Opperman se gedig oor die skip in die bottel. Die gedig sal ek weer en weer wil lees.
Johann, ‘n skitterende vers! Van harte geluk …
Skitterend! Soveel werelde gaan oop met die vlieg van hierdie blik-vliegtuig!