Landskappe
Wolke leun ondertoe,
rus hulle sagte borste
en mae
op die berg se benige rug.
Sewe en veertig bome staan in ’n ry
in die bruinvloeiende veld;
staan en staar na die melkerige lug,
staan en staan.
Die koue Atlantiese Oseaan stoei
bors teen bors met die warm Indiese Oseaan
by die Punt van die Kaap;
hulle eindelose titaniese stryd is onsigbaar.
Die maan trek oor
en die grond swel onder my voete,
lig my op, baie effens,
nie genoeg om te kan raak aan die maan se bepoeierde wang nie.
© De Waal Venter / 2017