nou klop die verouderde skat weer agter my ribbekas
my jeug joviaal besprinkel met somergoud
hoeveel bome het ons nie onder sool gehad nie?
ingesluk en verbloem teen die wêreld van grootmense
die vrystaat en sy bome was self destyds nog maar net kind
ons het beloftes teen mekaar se verhemelte in tongskrif uitgekerf
‘n geur so sondeloos en sonder roes uit mekaar onttrek
argeloos het ons bly vashou aan kreunende boomkloue
ten spyte van die skielike inval van skemer
die hemel wat sy donkerure kwistig oor ons kom uitsmyt
so verlaat die son ons dorp om sy skoene op die horison te loop uittrek
maar almal weet seisoene kom en gaan
beendere verweer nóú selfs met die oggendson
die klop in my bors verstadig
die skat onwillekeurig verlos van sy gloed
saamgepers in my palm lê sterwend
‘n verbrokkelende winterboom
die ruggraat van ons kinderdrome in flarde
ons gekloutery en gelag klaar ontbind
die jare sluip nader gedrapeer in skaduwee
blare lê opgekrummel en verteer
vader tyd vat nie kak van ‘n mens nie
gestroopte sentiment is sy gunsteling dis
leser lag terwyl die noodlot dit vermag
bewapen jouself deeglik
hardloop die afsnytyd vooruit
steel herinneringe uit elke boom
en gryp die laaste bietjie hitte wat die dag uitspoeg
draai sy goud soos ‘n lint om die ure van jou lyf
voor die koue nag jou finaal kom afsluk
© Johann van der Walt, 2020