Helsems
ʼn Geneul by HvdB
Dat sang verdígsel plooi tot klinkklaarheid
– losserige wysheidkabaai
wat, wys-wys die dye, uitflap
kringelende molekuleverdigtings langs, die swygverskiete in –
het vele al gesê,
die lafaards.
Jy, ingenieur, wou woord en noot
legéér. Daar edelallooi
van giet: singswaarde te smee
vir die kruistog land van skone sin toe.
En ek wat penkop agterna,
op hol soos destyds deur my ouers se tuinwoud,
volryphede vorentoe te pluk.
Singgoed vir die soettand, hierdie keer,
te gryp uit Grootverswyg se kloue,
die inhalige ou
helsem.
Die trek in fynproe móét mos veld wen; wag,
het ons bly dink, wag dit af
daar voor die yl gehore in saaltjies,
portaaltjies,
terwyl feesluidsprekers buite ál trommelender sokkie-bybie.
Totdat jy, een einde van ’n hol aand
– soos ander ridders van die sanggraal voor jou:
ʼn Louis van Rensburg, Riku Lätti amper, of Piet van Wyk de Vries –
jou kitaar wou steek sy klaarpraatsak in;
jou klarinet en trekklavier
hul swyekiste in
laat sak het …
ek my penpunt terug
moes klik
sy skag
in.
“Jou songs is brilliant, man,
maar mense soek die lekkervoelte:
’n chord of drie op hope beat,”
die wenk van grootkonsertemakers.
Te veel wat ore vir die luisterliedsoort het,
het ’n sinikus ons ingefluister,
sit nou, kwalifikasies en al, in anderland;
híér hoor doofheid selfs die stomheid nie.
Leë ouditoriums galm
wyd en syd hul stilte, dus – pandemietrant.
Net ou Gemis, die riem,
Rocinante-knol opgesaal,
neuriedwaal hier.
Plaaggees wat lyf wil kry,
local en als.
“Wat ís daar in jou hand?” verbeel ek my hom mopper, Herman;
eerder: moppie.
“’n Kitaar …?”
Die helsem.
© Bernard Odendaal, 2021