Joan Hambidge. Wonderboom
Wonderboom
Op watter ouderdom
leer kinders lieg?
Op waffer tydstip: o waffer-danige-lieglikheid?
Of was jou kinders nooit te trou om te vra?
Jakkalsdraaie dié gooi ek
van kleinsaf, sodat die sade
van my fabrikasies
(laat staan sokke jokke, laat staan)
se wortels en takke uitwaaier.
Daar wás ‘n wonderboom
in my jeug: plek, ruimte, locus
waar my vader en sy wit taalgenote
hul Afrikanerskap bestry.
Reeds toe besef:
dié fabulasie ‘n kraal se agteros.
Woedeboom nou:
wortels suig bloed op
van 16 Desember,
Sharpeville tot Sowetodag.
Nou lees daardie boom
klinkklaar en blinkblaar
akrostigonies
ons die leviete voor.
© Joan Hambidge, 2021