Augustus by die see
Laatmiddag stap ek op die promenade
my trui en baadjie knus om my gevou
die wind steek liggies op en rol
‘n leë blikkie Coke kling-klang verby.
Vier kinders in bikini’s
kom aangehardloop –
hulle lywe druipnat en blink
nes uitgespoelde sardientjies.
“Kry julle nie koud nie?” vra ek.
Hulle skud hulle koppe
en lag die koue weg.
Hulle tande is rye wit skulpe.
“Ōs ga’ nou oppie trein klim
sôner geld die kaartjies-
man issie dié tyd mee daa nie.”
Hulle laat spat
sonder ekstra klere of geld
hulle bikini’s flits rooi, groen en geel
oor die verkeersligte
tot by die stasie.
Môre swem hulle weer
soos dolfyne in die branders
immuun teen longontsteking,
griep of verkoue:
dié groepie kinder-survivors
wat net die see kan bekostig.
© Marthé McLoud