Achtung!
Na die rolprent “Wings of desire”, 1987
Die monochrome stad waak uitgestrek
in wêrelde wat ewewydig voortbestaan.
Ek sal ‘n lig aan los vir Zeppelins oppad
saam met die vlieërs in ‘n woudstil nag:
onsigbaar soos walküre wat kom land.
Daar is ‘n eggo oor die Alexanderplatz
in ‘n verbode gister en ‘n stilgebore uur
as die gesante met die jasse onder ons
vanaf die kruistorings die epitawe skryf.
Ons het alleen die oomblik om te ken –
die owerspel van wolke en ‘n rustelose
muur, die sweepslag van die swartvlerk
en die anargie van woorde in die grou:
profesieë in die spuitverf teen ‘n doek
van rou beton. Ons leef in die geheue
van 1945, en luister na die dreunsang
wat gelei word deur ‘n kartelende vlag.
By Brandenburg en by Potsdammer Platz
en op die Bahnhof loop die dood nog
soos ‘n bedelaar en voer ‘n monoloog
met die gewete van ‘n onbetrokke god.
© Mellet Moll, 2022