Slave to love
We’re too young to reason, too grown up to dream. – Bryan Ferry
Vertel haar ek sal nogtans wag
by die gewone plek sodat sy my
kan oplaai en kan huistoe neem.
Miskien die aand nadat ons haar
begrawe het en ek die stilte langs
die vliese van die reën wou soek.
Miskien terwyl die broosheid en
die ritsel van die eerste lote nog
soos Bryan Ferry agter elke lente
skuil, verslaaf aan wie ons was.
Vertel haar ek sal nogtans waak
al is ek lank reeds grys en snags
wanneer ek saam met sterflinge
tussen die seders dwaal, bly sy
die eerste mens wat ek herken.
© Mellet Moll, 2022