Wenner van die gedigkompetisie: Oekraïne en Rusland
LOUIS ESTERHUIZEN
(“Diaspora”)
EERVOLLE VERMELDING:
JOHANN LODEWYK MARAIS
(“AK47”)
Die volgende gedigte het goed gevaar in die finale rondte:
“irina se klavier” – Marlise Joubert https://versindaba.co.za/2022/03/20/marlise-joubert-irina-se-klavier/
Uit die Bergtesgarten – Pirow Bekker https://versindaba.co.za/2022/03/26/pirow-bekker-uit-die-bergtesgarten/
Vuurslag – Joan Hambidge https://versindaba.co.za/2022/03/05/joan-hambidge-vuurslag/
Vreemde Lente – Neels Jackson https://versindaba.co.za/2022/03/15/neels-jackson-vreemde-lente/
Wladimir Poetin – Johann Lodewyk Marais https://versindaba.co.za/2022/03/23/johann-lodewyk-marais-wladimir-poetin/
SIawa! – Mellet Moll https://versindaba.co.za/2022/03/22/mellet-moll-slava/
Beoordelingsverslag:
Om gedigte vergelykend te beoordeel is ’n moeilike taak en onvermydelik word dit beïnvloed deur die beoordelaar se eie poëtiese aanvoeling en voorkeur. Ek was dus baie versigtig om objektief te probeer wees. Die opdrag bly wel om die gedigte as gedigte te beoordeel al gaan dit om ’n bepaalde tema. Dit gaan dus nie primêr om die tema as maatstaf nie, hoewel die diepgang in die hantering van die tema wel ’n rol speel. Om darem ’n vergelykingsbasis te hê het ek die gedigte punte gegee: almal is relatief goed, maar mens soek die uitskieter, die een wat in jou bly naklink en waarvan die nawerking sterk is. So ’n gedig is gewoonliik die een waarin tema en vorm versmelt en ’n eenheid vorm. Om myself verder te toets het ek die gedigte in drie afsonderlike sessies, telkens ’n paar dae uitmekaar gelees en oorweeg.
“Diaspora” en “AK-47” was vir my die gedigte wat uitstaan. Elkeen bevat ’n eiesoortige trefkrag. As ek moet kies tussen die twee, is die enigste verskil dat “Diaspora” nader aan die gegewe tema gebly het, terwyl “AK-47” ’n meer algemene oorlogsgedig is. Ek sou voorstel dat “Diapora” eerste geplaas word met spesiale vermelding van “AK-47”.
Heilna du Plooy
Jeffreysbaai
27 Mei 2022.
*******
Diaspora
All forms of violence are quests for identity.
When you live on the frontier, you have no identity.
You’re a nobody. — Marshall McLuhan
Geen trein is lank genoeg vir hierdie vrag nie.
Geen afstand te na of ver genoeg
vir die uittog tussen soveel roet en as
in trokke wat al treurende reis
na waar plate swart gebrande canola
die nalatenskap van miljoene oë
karteer nie.
Geen lokomotief is hier kragtig genoeg
om waens te haak en verby al hierdie veryling
te sleep nie – elke halte is gepak
met derduisende gesigloses, silwer vissies
is hulle nou, hier byeengebring
as die net se uitskot,
iedereen,
om skoongemaak, gevlek, en neergelê te word
in ʼn eie geblikte harnas van vrees
sonder heenkome. Want geen lokomotief
is sterk genoeg vir hierdie vrag,
geen stoker
braaf genoeg om die vragwaens
van alles wat agtergelaat word, te rangeer
op die dwaalspoor
van hierdie verskrikking nie.
© Louis Esterhuizen / Maart 2022
********
AK-47
Michael Kalashnikov was ’n digter
en in die Groot Patriotiese Oorlog
is hy by die Slag van Brjansk Oblast
in die regterskouer raakgeskiet.
Ná die mopper van gewondes se lot
het hy in sý bed ’n gasgedrewe
aanvalsgeweer bedink wat ligter is.
Van dié uitvindsel bestaan miljoene
oor die wye en droewe wêreld heen –
lig genoeg vir ’n kind om te kan dra
en kragtig genoeg om olifante,
renosters en hope wilde diere
net soos menselewens neer te maai.
Maar die skuld vir die bloed wat vergiet is
en ’n klad op nagedagtenis laat:
Kan ’n digter se verse dit uitwis?
© Johann Lodewyk Marais, 2022
Baie dankie, Versindaba. Hierdie is gewis ‘n lekker verrassing. En ‘n eer, geoordeel aan al die ander uitstaande verse.