Alhambra
Federico Garcia Lorca (1898 – 1936)
Die voetheuwels van Andalusië
is ’n kombers wat oor Granada strek
om vyfuur in die namiddag.
Daar is gitanos wat die costas ken
in die duendes van die minloses
wat anderkant Camino Ronda rus
om vyfuur in die namiddag.
In die Huerta de San Vicente
verstil die ligdans in die meesterteks
wat onvoltooid tussen die reste lê
om vyfuur in die namiddag.
Die Albayzin se swerflinge word week
en was mekaar se voete langs die pad
terwyl die bloeisels in die voortuin bot
om so die tyd se gang te reguleer
vanuit die Generalife se binnehof
om vyfuur in die namiddag.
En by Málaga se fort verdwyn die son
in potloodstrepe om die middelpunt
wat êrens by Gibraltar kringe maak
om vyfuur in die namiddag.
Die blinde boogskutters sal vir ewig
op die nuwe dag bly wag.
© Mellet Moll, 2022